28 Julie 00:38
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

22°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Dinsdag

16°C / 15°C

Wind 39km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 80%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 5mm

Humiditeit 66%

Menings
Tim du Plessis: Hlaudi het die SAUK, Zuma het die land

As jy wil weet hoe lyk Suid-Afrika se toekoms onder Jacob Zuma hoef jy nie veel verder te kyk as Hlaudi Motsoeneng se SAUK nie.

Ja, dis Hlaudi s’n. Hy het die korporasie afgevat by die raad en die groep- uitvoerende hoof, wat eintlik veronderstel is om sy base te wees. En hulle gereduseer tot sy afdwingers wat ywerig meehelp om sy skrikwekkende planne in werking te stel

Jy sal vra hoe. Wel, bloot deur af te kyk by Zuma toe hy die magtige ANC “geskaak” het. Jy verkry die magsposisie ordelik en prosesmatig. Daarna begin jy stelselmatig ál meer mag in jou as persoon setel. Jy omring jou met sikofante wat jou elke opdrag stiptelik en tot die laaste letter toepas, ongeag die reëls of enige moontlikheid van magsmisbruik.

Jy vermy enige papierspoor. Alles gebeur by wyse van gesprek. Een-een-gesprekke of vergaderinkies. Dan beweeg jy. Elke skuif ontlok ’n hewige reaksie, maar jy sweet dit uit in die wete jy is immuun. Reperkussies is net vir die weerspanniges wat vrae vra.

Dís die meesterplan waarmee Motsoeneng hoofsaaklik by wyse van mondelinge dekreet kwotas vir sonskyn-inhoud, die 90% plaaslike musiekreël, die verbod op TV-tonele van proteste en die verbod op die wys of lees van koerantopskrifte ingestel het. Volgende – as dit nie reeds gebeur het nie – is ’n verbod op kritiek op Zuma en nuus wat die regering in ’n swak lig stel.

Motsoeneng het by Zuma geleer aan die howe hoef jy jou nie steur nie. Jy moet net die instellings wat moet toesien dat jy hofbevele gehoorsaam in ’n wurggreep beetkry – die ANC-beheerde parlement in Zuma se geval, en die SAUK-raad, die uitvoerende hoof en die minister van kommunikasie in Motsoeneng s’n.

Onder Jacob Zuma is Suid-Afrika nou ferm op die lang pad na Zimbabwe. Niks keer hom meer nie. Diegene binne-in ANC-strukture (vermoedelik Cyril Ramaphosa en nog so vyf ander) wat besef Suid-Afrika stuur op rampspoed af, sit magteloos en toekyk. Volledig uitoorlê deur die Groot Man van Nkandla met sy standerd vier.

Die sogenaamde goeie ANC’s uit die eras van Tambo, Mandela en selfs Mbeki kan weinig meer doen as om op sosiale media te sanik en artikels op die meningsblaaie van elite-koerante en -webblaaie te skryf. Uitwerking: ’n ronde nul.

In die herfs van 2016 het dit finaal tot Zuma deurgedring: Ek is onaantasbaar! Vir ’n kortstondige somer in 2015-’16 het die land en die wêreld geglo die grootmense onder leiding van Pravin Gordhan is terug in beheer. Gordhan se trane van pyn verlede naweek by die Daily Maverick se groot saamtrek van die kletsklasse in Sandton sê alles: Die Groot Man, soos die Rooi Kar in Grand Prix in die ou dae, het weer gewen.

Suid-Afrikaners moet weet Zuma wil met hul demokratiese ruimtes doen wat Motsoeneng met redaksionele en artistieke vryheid by die SAUK aan’t doene is: dit stelselmatig maar vasberade inkort en mettertyd afskaf.

Ek glo die gesaghebbende Afrika-publikasie Africa Confidential se berig dat die Zuma-regime die land se groeiende netwerk van burgerlike bewegings onder staatsbeheer wil bring. Dis nou nieregeringsorganisasies (NRO’s) soos die Freedom of Expression Institute, Right to Know, Freedom Under Law, Save Our SABC, die Solidariteit Beweging, Corruption Watch, Fedsas, Casac, Section27 en dies meer, wat hulle beywer vir grondwetlike regte en verantwoordbare regering.

Zuma se mense ontken sulke wette word beoog. Maar dit beteken hoegenaamd nie hulle word bedink en gesmee nie.

Dis ál meer te betwyfel of ’n swak uitslag in die munisipale verkiesing die Zuma-trein sal stuit. Let op die taalgebruik: Dis nie wettige opposisiepartye wat ’n vrot regerende party kan verslaan nie, dis “regime-verandering” wat gestook word met behulp van ander lande. (Die woorde van Gwede Mantashe en David Mahlobo, Zuma se spioenbaas, ook die man wat die NRO’s wil vasvat.)

Onheilspellende onweerswolke pak saam. Nie eens in die donkerste uur van die konflik van die vorige era was ek so bekommerd soos vandag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.