28 Julie 00:38
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

22°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Dinsdag

16°C / 15°C

Wind 39km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 80%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 5mm

Humiditeit 66%

Menings
Tim du Plessis: Onstabiele OVK sal in ANC se kraal pas

In sy boek Wat nou, Suid-Afrika? lys Theuns Eloff Suid-Afrika se geloofwaardige verkiesings sedert 1994 as een van die land se pluspunte.

Ongetwyfeld. Op ’n vasteland waar regverdige, onbetwiste verkiesings nie eintlik ’n volop spesie is nie, is dit geen geringe prestasie nie.

Ons het so gewoond geraak aan gehalte-verkiesings dat ons begin het om te dink dat dit altyd so sal wees.

Die groot faktor in die vertroue in die verkiesings was ’n konsensus oor partygrense heen oor die bekwaamheid en onkreukbaarheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). In die Mandela- en Mbeki-era is die OVK gekoester en van bo af ondersteun om waarlik onafhanklik te wees.

Maar so in die stilligheid, terwyl almal gefikseer is op die ongeluk-in-stadige-aksie genaamd Jacob Zuma, het ’n geurtjie die OVK begin omgeef.

Ernstige administratiewe versuime is in die howe uitgewys.

Daar is bedenkinge oor die lojaliteite van die nuwe voorsitter, Glen Ma­shinini. Hoef meer gesê te word as dat hy voorheen in Zuma se kantoor gewerk het?

Die onrus oor die gesondheid van die OVK het begin toe die vorige voorsitter, adv. Pansy Tlakula, onder ’n wolk van tender-ongerymdhede uit haar amp is. Haar baanrekord andersins was prysenswaardig. Die OVK se ampsdraers moet soos Caesar se vrou wees: onbesproke.

Dalk is ek verkeerd. Maar van Zuma moet jy altyd die ergste verwag.

En dan die Tlokwe-stemdebakel. Dis heel tegnies en die finale woord van die konstitusionele hof word nog afgewag. Maar hier is die kruks: ’n Groep onafhanklike kandidate in ’n ronde tussenverkiesings in 2013 in Tlokwe voer aan dat hulle die slagoffers van ’n kroekspul was waar kiesers van elders onregmatig geregistreer is om teen hulle te stem – en dat hulle as gevolg daarvan verloor het.

Toe die saak die eerste keer in die howe draai, is ongerymdhede inderdaad uitgewys. Kiesers se name het op die kieserslys verskyn sonder dat die OVK aanvaarbare redes kon gee hoe hulle daar beland het.

Dit sou verbasend gewees het as dit toevallig was, het die regter Malcolm Wallis opgemerk.

Wanneer misteries voorkom, is dit altyd nuttig om te vra: Wie het voordeel getrek? In dié geval, die ANC.

Danksy dié uitslag het die party in 2013 beheer oor die unistad Tlokwe (Potchefstroom) by die DA afgeneem.

Geen regstreekse bevinding van oneerlikheid is gemaak nie. Maar die land se hoogste hof het skerp vrae gehad oor die handelinge van die OVK – en dís waar die ding lê.

Begin Mei op die EFF se groot saamtrek in die Orlando-stadion in Johannesburg het Julius Malema wéér gesê die ANC het in die algemene verkiesing in 2014 in Johannesburg onder die 50%-kerf geval, maar die stemme is gekook om die ANC te laat wen.

Ja, Malema maak wilde aansprake en hy kon nog geen bewyse lewer nie, maar dié een het nogal ’n klewerigheid aan hom. Verlede jaar het die DA-leier Mmusi Maimane vir my gesê die vraag is nie of die ANC die mag sal afstaan as hy verloor nie. Die vraag is of die OVK sal “toelaat” dat die ANC verloor.

Wat die vraag laat ontstaan: Watter belang het die ANC daarby dat die OVK herstel word om weer die instelling te wees wat hy in die pre-
Zuma-era was? Veral as ons op 3 Augustus ’n gebrekkige, fel bestrede uitslag kry waarin nóg die regering nóg die opposisie in een of meer van die groot metro’s die oorhand kry?

Met die ANC wat die meeste steunverlies getoon het? Dan het die Zuma-faksie (lees die Bob Mugabe-tak van die ANC) mos die volmaakte verskoning om “in die belang van stabiliteit” nie die mag af te staan daar waar hy in werklikheid verloor het nie.

Dalk is ek verkeerd. Maar van Zuma moet jy altyd die ergste verwag. Dis openbare kennis hoe die Nasionale Vervolgingsgesag op sy aanstigting uitgehol is tot waar dit vandag gestroop staan van geloofwaardigheid, ’n gekompromitteerde skoothond wie se belangrikste taak dit is om Zuma en sy kohorte uit die howe te hou.

Daar is geen waarborg dat dieselfde nie met die OVK sal gebeur of reeds begin gebeur het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.