Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Twiets vergaan, maar tyd bly staan

Die diskoers op sosiale media is vir hom so skeefgetrek dat hy liewer deesdae sy toevlug tot die geskiedenis neem, skryf ’n vriend Vrydag.

Ek stem – kitsboodskappe en die taai klappe wat ons so maklik op die internet na bekendes en vreemdelinge uitdeel, genereer hitte. Die lees van geskiedenis, en die dophou van langtermyntendense eerder as ’n fiksasie met wilde statistiese swaaie tussen ontbyt en middagete, genereer daarenteen meer gereeld darem ’n bietjie lig.

’n Basiese kennis van die geskiedenis kan help keer dat ons oorreageer op iets wat nie op die duur werklik betekenisvol is nie, en maak dit makliker om ons verwagtinge te temper en ons vrese in toom te hou wanneer ons oor die waarskynlike gevolge tob van wat op die oog af na historiese gebeure in ons eie tyd lyk.

Die gevolge is naamlik selde so fantasties as wat ons hoop, en selde so erg as wat ons vrees, hoewel daar natuurlik uitsonderings is waar albei oortref word.

En dis meestal onvoorspelbaar.

Dikwels weet ons generasies later eers wat iets regtig beteken, selfs al voel dit nóú na ’n ramp, of dit nou ’n verkiesing is, ’n politieke aanstelling, ’n liefdesteleurstelling, ’n gewapende konflik of ’n insinking in die ekonomie.

Dinge is selde so fantasties as wat ons hoop en selde so erg as wat ons vrees, hoewel daar uitsonderings is waar albei oortref word.

Nelson Mandela se vrylating, by wyse van voorbeeld, het nie sonder meer “vryheid en geregtigheid” ingehuldig nie, al was dit in Februarie 1990 ’n demonstreerbare simbool van albei.

Dit was ’n noodsaaklike voorwaarde vir ’n belangrike tipe politieke vryheid, en dit het inderdaad ’n einde gebring aan ’n erg problematiese tipe ongeregtigheid, maar ’n kitsoplossing was dit nie.

Nodig maar nie genoegsaam nie, dus: 27 jaar later is ’n baie sigbare en hoorbare minderheid in die jong generasie ontgogel deur hul voorouers se “Mandela-skikking” – werkloosheid bly hardnekkig hoog; onderwys in landelike swart skole te dikwels vrot; te veel wit kinders word groot met ’n groter bewustheid van regstellende aksie as van wat apartheid was, al is laasgenoemde ’n noodsaaklike voorwaarde vir minstens ’n begrip vir die eise vir ekonomiese en politieke herstel en soms selfs vergelding. . .

Bygesê – nie alles wat sedert Mandela se vrylating gebeur het, was die gevolge van sy vrylating nie. ’n Mens kan beide sê dat sy vrylating die regte ding was en dat die bespotting wat Jacob Zuma van die grondwet maak – wat slegs bestaan danksy die “Mandela-skikking” van die middel jare negentig – verkeerd is. Sy vrylating het nie op enige lineêre manier tot vandag se vergrype gelei nie; dit was nooit voorafbestem nie, wat die pessimiste van destyds ook al gesê het, en deesdae met genoegdoening vir mekaar fluister.

Determinisme het sy beperkings. So waar as wat dit is dat daar “kragte” is wat gebeure help rig, so waar is dit ook dat akteurs op die verhoog van die politiek keuses uitoefen en nie sonder meer gebind word deur die verlede nie.

Zuma en Molefe en Mbete en Magashule en Ntlemeza en Mahlobo en Mthethwa is grypsugtig en maglustig, ja, maar hul opgang was nooi absoluut seker nie, en hul val kan relatief vinnig kom as die regte historiese bestanddele gelyk gemeng en geknie word.

Omtrent alle Suid-Afrikaners is immers tans vir Zuma goed die bliksem in.

Oor Zuma gepraat – sy verkiesing as ANC-president in 2007 het vir baie mense ’n welkome breuk verteenwoordig met oudpres. Thabo Mbeki se koue, tegnokratiese styl – toe sit Zuma bykans al Mbeki se slegte gewoontes van inmenging in die polisie en vervolgingsgesag voort en voeg by dié vergrype ’n arsenaal ander wat Mbeki in retrospek amper skadeloos laat lyk, al sou só ’n heiliging ex post facto van die kort pyprokende man natuurlik opsigself ’n groot fout wees.

In hierdie jaar waarin die Russe hul bes probeer om die abdikasie presies 100 jaar gelede van tsaar Nicholas II in die Russiese Revolusie as net nóg ’n historiese opstotjie af te maak, sodat die parallelle tussen die Romanov-sterkman en vandag se Wladimir Poetin nie te skreiend blyk nie, moet ons die geskiedenis gebruik om te sien dat ’n opstand in die naam van die mense – ’n katarsis ten bate van die uitgebuite proletariaat – op die duur daardie selfde proletariaat lelik in die gesig kan skop.

Die Oktober-revolusie van 1917 het immers nie net weggedoen met die skatryk en gevoellose tsaar nie, dit het ook ’n bewind onder Stalin en Lenin ingelui wat veel erger lyding onder doodgewone mense sou veroorsaak.

Wie sou boonop kon dink dat die totstandkoming destyds van die Europese Unie nie net die wêreld ’n veiliger plek sou maak deur oorlog onderling tussen Europese moondhede ondenkbaar te maak nie – dit sou ook weldra op so ’n manier bestuur word dat die kole van nasionalisme weer in van die lidstate sou begin gloei.

In ons leeftyd nog gaan groot dinge gebeur wat onbedoelde gevolge gaan hê.

Bloed kan vloei . . .

Donald Trump het die wêreld meteens nog minder voorspelbaar gemaak.

Ons lees die geskiedenis dikwels verkeerd want ons is geneig om feite en gebeure te vertolk as bevestiging van dit wat ons reeds glo (die Engelse noem dit “confirmation bias”) eerder as om ons eie sienings te laat uitdaag.

Die meeste mense loop immers rond met idees wat geen werklike konfrontasie met al die feite sal oorleef nie; maar ons vind maklik in die geskiedenis bewyse daarvan dat ons reg is.

Ons lees nie net in die geskiedenis net wat ons wil nie; ons voorspellings oor die toekoms is ook meestal hopeloos verkeerd, soos wat Nicholas Nassim Taleb mooi illustreer in sy destydsse blitsverkope The Black Swan: the impact of the highly improbable (2007)...

Voeg hierby die feit dat die Europese Unie-projek, waarvan die mikpunt ­vrede was, nou weer die kole van ­nasionalisme laat gloei. 

Trump maak álles moeiliker om te voorspel. In ons leeftyd kan ons nog werklik bepalende historiese skuiwe sien. Daar sal wenners en verloorders wees soos wat daar altyd is.

Net soos ons dus daarteen moet waak om te dink sosiale media is genoegsame weerspieëling van wat mense regtig dink, so moet ons versigtig wees om feite en gebeure nie net te vertolk as bevestiging van dit wat ons reeds glo nie. Ons moet ons sienings laat uitdaag deur verby die opskrifte en woedende twiets te kyk en te besef dat dít wat regtig saak maak, soms teen die tempo gebeur waarteen die vastelande skuif. Zuma is ’n ramp ja, maar die wêreld het al erger oorleef.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Twitter  |  Wag ’N Bietjie  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.