29 Maart 23:08
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Menings
Uitwissing van Jode hét gebeur
Gert Coetzee

Wat as Duitse uitwissing van Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog nooit gebeur het nie? Dit klink bisar, maar was die geskilpunt van ’n hofstryd wat in 2000 in die Royal High Courts of Justice in Londen op die spits gedryf is.

Die boek Denial (eers as History on Trial gepubliseer) van prof. Deborah Lipstadt van die VSA is nou verfilm as ’n gelyknamige rolprent oor die hofsaak. Die Britse skrywer David Irving het haar en Penguin-uitgewers gedagvaar vir laster omdat sy in ’n vroeëre boek, Denying the Holocaust, hom as “een van die gevaarlikste woordvoerders van die ontkenning van die Jodeslagting” bestempel en die bronne vir sy uitsprake – soos in sy boek Hitler’s War – bevraagteken het. Irving was slim genoeg om hulle te dagvaar in Brittanje waar, anders as in die VSA, bewyslas op die verweerder rus. Kripties gestel, moes Lipstadt, Penguin en hul regspan bewys dat die Jodeslagting (Holocaust) wel gebeur het, eerder as dat Irving moes bewys het dit het nie gebeur nie.

Van Irving se “waarhede” was dat daar geen amptelike veldtog vir die uitwissing van Jode was nie; Hitler geen opdrag vir die Finale Oplossing gegee het nie, en dat Auschwitz se gaskamers en verbrandingsoonde nie gaskamers of verbrandingsoonde was nie. Volgens hom het Jode die idee van die mense-uitwissing gedryf sodat hulle uit gierigheid oorlogsvergoeding kon kry. Hy maak Kristalnacht af, ondanks daardie nag se moorde, aanrandings en verkragtings.

As die Joodse uitwissing nie plaasgevind het nie, is die Tweede Wêreldoorlog dalk ook ’n versinsel.

’n Lid van Lipstadt se regspan vertel “a knotted web of distortions, suppressions and manipulations became evident in every single instance which we examined”. Hulle is gekonfronteer deur “a politically motivated falsification of history”. Wêreldwyd het Jode of hul naasbestaandes met eerstehandse kennis van die getatoeërde nommer en geel ster van lap vir Lipstadt-hulle beskou as kampvegters ter bevestiging van die waarheid van die grusame onregte wat teen hul mense gepleeg is.

Hoe ver leuens oor die geskiedenis gevoer kan word? As die Joodse uitwissing nie plaasgevind het nie, is die Tweede Wêreldoorlog dalk ook ’n versinsel. En die Eerste Wêreldoorlog.

Hier ter plaatse het die Anglo-Boereoorlog dan dalk nooit gebeur nie. Ook nie die bosoorlog in Namibië en Angola nie. Apartheid en sy onregte is vir diegene wat vandag steeds in ontkenning daaroor is, eintlik ’n guns wat aan swart mense betuig is.

’n Relevante onlangse voorbeeld van ontkenning is Nkandla se swembad wat ’n vuurpoel en sy amfiteater wat ’n kaktustuin geraak het. Terwyl die sondebokke diegene is wat pres. Jacob Zuma nie sy plesiertjies gun nie.

Die kwessie aan die bod is akkurate, veelkantige geskiedskrywing wat by wyse van geldige bronne en toetsing van feite deur kruiskontrolering geskied. Ook noudat die post-waarheid-politiek, alternatiewe feite en fopnuus weer in die kollig is.

Die Zuma-relaas oor Jan van Riebeeck of ANC-weergawes van die verlede sou helaas nie as puik geskiedskrywing kwalifiseer nie.

Betroubare geskiedskrywing werk ook “historiese geheueverlies” teen – soos geopper op die bekendstelling van prof. Jaap Steyn se Afrikanerjoernaal by Naln die afgelope naweek.

Dit is onpartydig en nie selektief, verdagmakend of propagandisties nie.

New York Times se “The truth is hard”-veldtog (reeds deur pres. Donald Trump gekritiseer) stel dit dat die waarheid geen agenda het nie; nie kant kies nie; moeilik is om te aanvaar; in die spervuur is, en die moeite werd is om te verdedig.

Lipstadt-hulle se stryd was taai, maar die Britse hof het Irving se laster-eis verwerp en bevind hy is basies ’n rassistiese leuenaar.

Die Jodeslagting hét gebeur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.