Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Warsendery eie aan ANC-politiek
Gert Coetzee

Soos die vraag “Wat is ’n huis sonder ’n moeder?” kan ’n mens nou seker vra “Wat is ’n party sonder ’n leier?”.

Of is dit ’n leier sonder ’n party?

Nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg in die saak ANC vs. ANC beslis het die partyleiers in die provinsie is eintlik nie die partyleiers nie. Omdat die kieskonferensie in 2015, waar die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC verkies is, onwettig was. Dit bring mee alle partybesluite in KwaZulu-Natal sedert toe is eintlik ongeldig. Reeds het die leiers hier wat eintlik nie die leiers is nie, aangedui hulle gaan teen die hofbeslissing appelleer. Sodat, al is hulle nie die leiers nie, hulle weer die leiers kan wees.

Verstaan? Indien nie, maak dit nie saak nie. Die hele politieke warsendery – eie aan die ANC– gaan oor watter 4 000 afgevaardigdes in Desember die ANC-konferensie in Gauteng gaan bywoon. Veral vir wie hulle gaan stem.

Die magsbedinging agter die skerms – die Engelse gerrymandering sê dit mooi – is om te verseker dat die regte mense gestuur word deur die takke wat gestuur word deur die provinsies om vir die regte kandidaat – Cyril Ramaphosa of Nkosazana Dlamini-Zuma – te gaan stem.

Veral moet die magsmakelaars weet dat die stemgeregtigdes in die geheime stemming dáár gaan stem vir wie hulle nóú sê hulle gaan stem. Dit sou mos nie mooi lyk as ’n provinsie soos die Vrystaat hom amptelik uit hoofde van Ace Magashule se premierskap agter die Zuma-groep se kandidaat skaar, maar in die verkiesing in Gauteng gaan staan en stem hulle vir Cyril nie.

As daar ooit ’n goeie tyd was om ’n nasionale ANC-stemgeregtigde te wees is dit nou. Die vraag is daar vir jou aanbod – daardie een stem. Die stowwerige lente gaan dus swanger aan beloftes en beloftes van beloftes.

Wat is ’n party sonder ’n leier?

Die punt is hoe op deeske aarde ’n party wat nie eens sy eie sake kan bestuur nie, ’n land kan regeer. Want die KwaZulu-Natalse gevallestudie herhaal homself in ’n meerdere of ’n mindere mate in Noordwes, Limpopo, die Wes-Kaap en die Vrystaat. Onthou nog Regime Change in Mangaung in 2012, waarvan nie veel gekom het nie?

Dit bly moeilik om te glo die hele onontrafelbare konkoksie sal werklik daartoe lei dat die kieskonferensie in Desember uitgestel sal word. Mag dit nie gebeur nie. Want enige sweem van hoop dat Jacob Gedleyihlekisa Zuma vroeër eerder as later uit die amptelike presidensiële kussings verwyder word, bring verligting.

Selfs al sou dit wees deurdat NDZ hom dan as ANC-leier opvolg. Haar skielike terugkeer na die parlement as LP berei die weg vir ’n soomlose verwisseling van die presidentskap voor. Dis nie wenslik om ’n vrot kandidaat te aanvaar net om van ’n nog vrotter een ontslae te raak nie.

Maar as (mnr.) Zuma gaan, sou dit vir Suid-Afrika se kollektiewe gemoed ’n positiewe opwelling meebring wat slegs oorskry sou word die dag wanneer die Cheetahs die Curriebeker en die Pro14-trofee in een jaar verower.

Duime vas! En as (mev.) Zuma – pleks van Cyril die Vryer – dan in Desember vir Zuma opvolg, breek die ANC se dag van afrekening met 2019 se nasionale verkiesing aan.

Kgalema Motlanthe, vorige staatspresident, het juis eergister aan BBC World gesê dit sou goed wees as sy party – die ANC – 2019 se verkiesing deeglik verloor, sodat diegene wat in die party is net vir die byvoordele kan skoert (my woord). Uit die oorblyfsels kan dan gered word wat te redde is.

Motlanthe het ook gesê politieke partye word vir ’n bepaalde doel gestig en dat die ANC dalk “sy doel bereik het”. Daai is nou vir jou ’n gedagte!

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Anc  |  Rubrieke  |  Party  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.