Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Watter rampspoed kan Trump vir Afrika inhou?

Donald Trump moet baie vinnig ’n wêreldkaart kry, skryf Liesl Louw-Vaudran, want hy is baie duidelik nie daarin geïnteresseerd om énigiemand behalwe Amerika te help nie.

Liesl Louw-Vaudran

Sedert die weerligstraal van Donald Trump se verkiesing tot die Withuis verlede week die wêreld getref het, wil almal weet: Wat beteken dit vir Afrika?

’n Spaanse joernalis wat in Nairobi gebaseer is, vra in ’n e-pos: Sal Trump se presidentskap ’n invloed op gesondheid, veiligheid, omgewingsake, handel en terreur in Afrika hê? Waarom?

My eerste reaksie is: Hoe moet ek weet as Trump self nie weet nie?

Kenners van die Amerikaanse politiek het uitgewys dat Trump die eerste president sedert Harry Truman in 1945 is wat geen raadgewers op die gebied van buitelandse sake in sy verkiesingspan het nie.

Selfs Ronald Reagan, die akteur-president, het ’n stewige span agter hom gehad.

Al wat ons van Trump weet, is dat hy gekant is teen internasionale handelsooreenkomste, hulp aan arm lande wil opskort en glo dat Amerikaanse militêre ingryping deur die slagofferlande self betaal moet word.

Hy glo nie Amerika moet deel van wêreldooreenkomste oor klimaatsverandering wees nie.

Hy is nie gekant teen marteling nie en is nie seker waarom Amerika nie kernwapens moet gebruik nie. Trump is ook glad nie ’n voorstander van gayregte nie.

Dít weet ons alles uit sy lukrake verklarings op Twitter en in mediaonderhoude. Daar is geen weldeurdagte beleidsdokumente waarop ’n mens kan steun nie.

Baie van die uitlatings – soos dat hy ’n muur tussen Amerika en Mexiko sal laat bou of dat hy Moslems toegang tot die land gaan weier – is mettertyd afgewater of ontken.

Wat ons wel weet, is dat die Amerikaanse hulporganisasie USAid in die 2017-boekjaar $22,7 miljard vir buitelandse projekte geoormerk het. ’n Groot deel hiervan is vir die bestryding van MIV/vigs en malaria, en demokratisering in Afrika.

Power Africa, Barack Obama se groot projek vir Afrika, sal $291,3 miljoen hiervan kry om deur ’n vennootskap met die privaatsektor tot 60 000 MW nuwe krag in Afrika te verskaf.

Hy is nie gekant teen marteling nie en is nie seker waarom Amerika nie kernwapens moet gebruik nie.

Maar hulp is uiteindelik nie wat Afrika benodig nie. In die laaste paar jaar kon Afrikaleiers beding vir ’n “vennootskap” met groot moondhede wat teoreties tot almal se voordeel sou strek.

Die VSA se African Growth and Opportunity Act (Agoa), wat in 2000 al ingestel is en verlede jaar tot 2025 verleng is, hou byvoorbeeld groot voordele vir Afrika se uitvoer na Amerika in.

Suid-Afrika is een van die grootste begunstigdes van hierdie voordelige invoertariewe na Amerika en in klein lande soos Lesotho kan duisende werkgeleenthede tot niet gaan as Agoa opgeskort word.

Meer nog as die opskorting van Agoa, is Trump se radikale standpunte oor terreur een van die grootste bedreigings vir veiligheid in Afrika. Navorsing het bewys dat jong radikales by Islamitiese terreurorganisasies aansluit juis wanneer hulle voel dat hulle weens hul geloof onregverdig geteiken word.

Trump weet nie veel van die kompleksiteite van terreurgroepe en netwerke nie. Hy dink byvoorbeeld die Islamitiese Staat (Isis) is in Somalië, terwyl dit eintlik die terreurgroep Al-Sjabaab is. Radikale optrede, soos om terreurbasisse met hommeltuie te bombardeer, kan ongekende skade berokken en ’n teenoorlog op Westerse teikens in Afrika beteken.

Afrika is in hierdie stadium die swak skakel in hierdie wêreldpakt en het die meeste om te verloor indien dit uitmekaarspat

Ten slotte kan ’n Trump-presidentskap ’n groot slag vir demokrasie en menseregte in Afrika wees. USAid finansier ’n magdom burgerlike organisasies in Afrika wat verkiesingsopleiding doen, vrye-media-instansies ondersteun of menseregtevergrype ondersoek.

Die Agoa is ’n toegewing onderhewig aan streng voorwaardes soos die respek vir werkersregte en politieke stabiliteit. So byvoorbeeld is Madagaskar se Agoa-voordele in 2008 ná ’n staatsgreep opgeskort, wat ’n groot slag vir die plaaslike tekstielnywerheid was. Swaziland se Agoa-lidmaatskap is ook in 2015 weens die onbillike behandeling van werkers gestaak.

Trump is baie duidelik nie geïnteresseerd daarin om enigiemand anders as Amerika te help nie.

Sy isolasionisme, gekoppel aan Brexit, laat die gevaarligte flikker vir diegene wat glo dat ’n wêreldpakt van verdraagsaamheid en onderhandeling deur sterk enersdenkende streekorganisasies en -ooreenkomste die enigste manier is om wêreldvrede te verseker.

Afrika is in hierdie stadium die swak skakel in hierdie wêreldpakt en het die meeste om te verloor indien dit uitmekaarspat weens die onkunde van een man wat rusies veroorsaak en die wêreldekonomie verder laat verswak.

’n Mens kan maar net hoop Trump kry baie vinnig ’n wêreldkaart en stel briljante adviseurs aan wat hom in toom kan hou.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS). Haar jongste boek is Superpower or Neocolonialist?: South Africa in Africa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.