Murray La Vita gesels met Stephanus Muller
15 Januarie 2016 10:19
Stephanus Muller praat oor die waansin waarvoor hy te staan gekom het met die skryf van sy boek Nagmusiek.

In ’n huis in Boston, ’n noordelike voorstad van Kaapstad, tref ons Stephanus Muller in ’n ruim studeerkamer met wynrooi mure aan. Benewens rakke vol boeke, skilderye, Persiese tapyte, en ’n Bechstein-klavier (met bladmusiek van J.S. Bach se Goldberg-Variasies wat teen die blink okkerneuthout aanleun), is ook aanwesig: ’n afgeblaasde leerrugbybal en die seremoniële swaarde sowel as medaljes van sy polisiemanpa en sy oupa, die legendariese Bloubul-afrigter brig. Buurman van Zyl.

Nadat ’n paar woorde oor die pas afgestorwe David Bowie gewissel is, gaan sit ons by ’n tafel om oor Muller se veelbekroonde werk Nagmusiek te praat wat in 2014 in sowel Afrikaans as Engels by Fourthwall Books verskyn het.

Die fiktiewe biograaf Werner Ansbach verwys in Nagmusiek na sy subjek, die komponis Arnold van Wyk, se komposisie “Nagmusiek” (waaraan die boektitel ontleen is), as ’n “modernistiese gedig van verlies, van pyn, van flikkerende herinnering, van ’n waardige dood”.

Dié woorde kan ook op Muller se merkwaardige skepping, waaraan hy 14 jaar lank gewerk het, van toepassing wees. Hy noem Nagmusiek in die loop van die onderhoud ’n paar keer “hierdie ding”.

Dit herinner aan die wyse waarop Werner Herzog met ’n mate van afsku gepraat het oor die monsteragtige uitdagings waarvoor hy tydens die skep van sy meesterlike rolprent Fitzcarraldo te staan gekom het. ’n Stoomskip van 320 ton is byvoorbeeld oor ’n heuwel gekarwei. Hieroor het Herzog gesê hy glo nie enigiemand anders het nog ooit voorheen so iets aangepak nie en hy dink nie iemand sal dit ooit weer doen nie. Hy, sê Herzog, is die Veroweraar van die Nuttelose.

Die Stellenbosse akademikus en sielkundige prof. Lou-Marie Kruger beskryf Nagmusiek op LitNet as “’n Aweregse, individualistiese studie of navorsingsprojek, maar dit is ook ’n roman wat biografie wil wees. Dit verklap die obsessionele navorsing van die werklike outeur wat in verskillende gedaantes of stemme die teks vertel [. . .] Daar is briewe, referate, besinnings, dagboeke, foto’s, inventarisse, skinderstories, ’n plakboek met rugbyspelers, werklike besoeke aan werklike mense, meditasies oor die stand van musiek, of dan eerder: die betekenis van élitistiese musiek binne ’n (post)koloniale wêreld. Die stories oor die figuur Arnold (Nols) en sy ervaring van die kunswêreld en die onsekerhede wat so ’n kreatiewe figuur moes verwerk, word in die derde afdeling ondersoek.”

Mense kyk nét na jou

Muller: “Vir my as ’n kind in Graaff-Reinet, toe ek nou begin góéd speel en ek kan sien ek doen dit beter as enigiemand anders, was die aantrekkingskrag van musiek natuurlik om jou hééltemal te onderskei van jou omgewing.” Foto: Jaco Marais

Die gesprek begin by Muller, ’n pianis en professor in musiekwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), se vroeë verhouding met musiek.

“Vir my as ’n kind in Graaff-Reinet, toe ek nou begin góéd speel en ek kan sien ek doen dit beter as enigiemand anders, was die aantrekkingskrag van musiek natuurlik om jou hééltemal te onderskei van jou omgewing. Ek dink dit het met ’n soort hubris te doen. Jy kan op die verhoog sit en mense kyk nét na jou; dit maak jou báie besonders en het iéts van daardie amper negentiende eeuse sensibiliteit waar musiek ’n soort ding is wat status het juis omdat dit nié gedoen word vir geld nie; juis omdat dit nié beroepsgerig is nie, wat impliseer dat daar ’n sekere hoeveelheid ruimte is wat die individu het wat dit beoefen. Ek dink ek het dít instinktief verstaan – hoe hiérdie soort musiek daai soort kudos het. En láter het ek besef dit is waar in baie opsigte, maar dit is in Suid Afrika ook op ’n baie resonante manier waar; Westerse kunsmusiek het altyd nog die praktisyne daarvan nie net onderskei as buitengewoon in gemeenskappe nie, maar het hulle ook onderskei as wít mense, as Europeërs. Dít het ek later beter verstaan, maar destyds was dit maar net ’n . . . dit het my ego gestreel.”

Dit is waansin

’n Foto van ’n jong Arnold van Wyk wat in Nagmusiek verskyn.

In ’n fiktiewe keurdersverslag oor Nagmusiek aan die einde van die boek, verwys ’n keurder, wat die manuskrip afkeur vir publikasie, na Nagmusiek as ’n “perverse objek” en vra: “Kan die skrywer se waardevolle werk hersien en gewysig word om ’n publiseerbare teks te word? Dit is ’n pynlike vraag, omdat die manuskrip wat hier voorgelê is, rééds soveel tekens van buitengewone toewyding en jarelange worsteling vertoon. Miskien, mits die skrywer hom veel meer as wat hy tot dusver gedoen het, oorgee aan die waansin van die projek.”

Wat behels hierdie “waansin”?

“Dis ’n baie hartelose ding om te sê want die boek is natuurlik verbý waansin. Die membraan tussen ’n projek soos hierdie en om jou geestesgesondheid te behou, is baie dun.” Hy bly ’n oomblik stil. “Die boek kon oor nóg 14 jaar verskyn het en hy sou béter gewees het. Daar kan oor Arnold van Wyk nog 20 boeke verskyn en nie een van die stukkies inligting wat hierin is, hoef herhaal te word nie – só groot en ryk is die argief. En daar is ’n deel van my wat vir baie lank gevoel het wat ek hier aangepak het, sal óf beteken dat ek myself basies te plétter loop óf ek gaan dit regkry en die boek gaan ’n groot koste hê; en dit hét ’n groot koste. Ek dink waaraan ek erkenning wou gee, of wat ek net daar wou plaas, is: dis ’n ónvolmaakte teks; álle tekste is onvolmaak. Maar miskien is die waansin om dit beter te wil maak ’n waansin selfs groter as die waansin van wat hiérdie [Nagmusiek] aangepak het.”

Hy wys na die drie volumes op die tafel tussen ons: Volume I : ’n katalogus en werklys van al Arnold van Wyk se musiek (1925 - 1983); Volume II: hoofsaaklik eindnotas; en Volume III: die biografie.

“Want dit is régtig om lewe te herskep, wat jy nie kan doen nie. So, ja, ek wou miskien daarmee sê dat ek daarvan bewus is dat, ten spyte van die perverse grootheid [omvang] en die verspílling van tyd, verspílling van geld, verspílling van energie, ’n absolute oordaad waarvan die boek spreek, en wat so bedóél was . . . ten spyte daarvan en dat dit ’n amper patologiese oordaad is – die soort excess wat Bataille amper van praat, ’n excess wat geen ekonomiese funksie het nie; dit het geen beláng nie, jy kan nie daarvoor vergóéd nie; dit kan nie in geld gesit word nie en dit het dus nie sin binne ons diskoers van wat ’n ekonomie, selfs ’n intellektuele ekonomie, sal wees nie – dat selfs binne dít is hierdie ’n geweldig beperkte poging. En as jy dit régtig sou wou goed doen dan sou dit ’n veel groter oorgawe aan waansin moes wees as wat dit reeds is. En natuurlik, voor dít het ek gestuit.”

’n Ou muurhorlosie kondig welluidend die verloop van ’n halfuur aan.

“Ek is ’n persoon met ’n gesin en ek is ’n gewone middelklas, run of the mill academic wat ’n werk het en ’n salaris verdien. Maar selfs tot waar ek gegaan het, was vir my erg.”

’n Rowwe rit

’n Afbeelding van Stephanus Muller se hande in Nagmusiek.

Is waansin dus hier ’n perkeloosheid?

“Ja. Dit is volkome oorgawe in ’n konteks waarin grense glád nie meer eerbiedig word nie. Reeds die spel, die risiko, hier met outobiografie en biografie, en fiksie en nie-fiksie, die risiko’s is reeds baie groot en ek kon voel . . . ek is nie so oud nie, ek is 45 . . . Ek kon voel dat dit my gewéldig bloots ry, hierdie ophef van grense. Aryan Kaganof [filmmaker, romansier, digter, beeldende kunstenaar, en ’n vriend en raadgewer van Muller] is iemand wat grense ophef op ’n manier waarvoor ek sou terugdeins. So hierdie is ’n beheerde oorsteek van grense. En selfs dít was vir my ’n rowwe rit.”

Ansbach sê aan die einde van Nagmusiek die boek is ’n “monumentale oefening in gedeelde eensaamheid”.

In ’n stadium is Ansbach alleen in ’n stowwerige stoorkamer van NALN (die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein tussen Van Wyk se besittings – onder meer sy aandpak, wat hy dan aantrek. Ook druk hy sy wang teen Van Wyk se klavier.

En wanneer ek nou luister na Muller se worsteling; hoe die skryf van Nagmusiek hom amper verswelg het; hoe onseker en weerloos dit hom gemaak het, is daar twee foto’s waaraan ek dink. Een is ’n foto van sy hande met die toe regterhand wat rus teen bal van die ander hand waarvan die lang, elegante vingers ook na die palm gekeer is, maar nie in ’n vuis nie – eerder peinsend en rustig. Dit is aan die einde van die boek geplaas. En dit is ’n nabootsing van ’n foto van Van Wyk se hande, die eerste foto in Nagmusiek en wat ook aan die agterkant van die glipskede verskyn waarin die drie volumes van die boek lê.

En dan is daar die foto in die boek waarin die vingertjies van Muller se pasgebore seun Willem om dié van sy wysvinger krul.

’n Oopvlek van mense

“Ek is ’n Oxford-opgeleide musiekwetenskaplike. As ’n persoon wat my dissipline bedryf, het ek van die begin [van die Nagmusiek-projek] af geweet waarmee ek besig is, is ’n áánklag teen my dissipline; en – sonder om ’n ad hominem-aanval op my kollegas te doen – is dit ’n aanklag op hóé ons ons werk doen; ’n aanklag op Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika . . . En ek voel sleg daaroor en ek voel . . . natúúrlik; dis nie ’n maklike ding nie. Die oomblik as jy outobiografies skryf, as jy hierdie spel oopmaak, is dit nie net ’n aanklag nie, dis ook ’n oopvlék van mense na aan jou.

“Ek voel verskríklik daaroor . . . Dit is nie dat jy soseer bedreig voel nie, maar veral as jy as ’n Calvinis grootgemaak is soos ek [hy glimlag], is dit ’n verskríklike drempel om oor te tree en om méé te oortree. Van Wýk het my laat onseker voel. Daar is so mín oor hom geskryf; so mín word verstaan van sy musiek. Ek het báie kwesbaar gevoel. Jy weet, as jy skryf oor figure oor wie daar meer gepubliseer is, soos Brahms, of selfs Kevin Volans, dan is daar so ’n mátriks van verwysing wat jou in staat stel om te kyk na die primêre dokumente, maar ook na die konteks van verwysing om op ’n maniér jouself te oriënteer.

“Hiérdie was só oop dat my selfvertroue oor wat ek kan doen as ’n persoon wat in die vakdissipline opgelei is, regtig geruk is hierdeur en ek was nie seker of ek dit kon doen nie, en ek dink eintlik nie ek het dit baie goed gedoen nie. Maar ek verwag wel dat ánder mense dit post hierdie werk baie beter sal doen.

“So, op ’n persoonlike vlak, op ’n professionele vlak, op ’n ménslike vlak wanneer ek met Van Wyk te doen gehad het en sy briewe en sy vriende en die mense naby aan hom; op ’n institusionele vlak, waar baie van die onderhandelinge moes plaasvind oor oop toegang tot hierdie – dít is goed wat my laat wakkerlê het. Níks daarvan was eenvoudig nie . . . Daar was geen rus met hierdie ding nie; dit het my geteister.”

Te laat om uit te klim

Nagmusiek is benewens ’n meesterlike teks ook ’n baie aantreklike objek.

In die magisterkursus in kreatiewe skryfwerk wat hy by prof. Marlene van Niekerk gedoen het, is die vrae geopper: In watter stadium klim jy uit? In watter stadium werk dit nié?

“En as ek dit reg onthou – ek praat onder korreksie want ek het nie ’n goeie geheue nie – het Marlene die beeld van ’n golf gebruik. Daar is ’n tyd wanneer jy branderplank ry dat jy commit aan die golf en waar dit te laat is om uit te klim – jy kan nie. Maar dit is nie seker wanneer jy kan uitklim nie en met hierdie ding het ek later nie meer geweet nie.”

Afrikaanse uitgewers aan wie hy Nagmusiek voorgelê het, het nie kans gesien om dit uit te gee nie.

“Hulle het dit duidelik gemaak dit is té duur, dis té groot, dis te hibriéd, dit is nie ’n werk wat hulle as ’n kommersiële onderneming kan aanpak nie. En die besef het toe by my posgevat: kyk, hierdie boek is nou dood in die water want my dobbelspel met hierdie boek was dat jy ’n boek soos hierdie nie in Engels kan skryf nie. Ek het gevoel as jy werklik boeke wil skryf wat merkwáárdige goed doen, régtig mál goed doen, risiko’s loop, gróót risiko’s loop, dan moet jy dit doen in ’n márginale taal, in ’n márginale geografie, oor ’n márginale komponis, oor musiek wat márginaal is selfs binne sy eie samelewing . . . Die vóórdeel van ál daai marginaliteit is die rísiko wat dit jou in staat stel om te loop, die grootte van eksperiment wat dit jou in staat stel om te maak.”

Die muurhorlosie slaan weer.

Die blomtyd van Afrikaans

“Ons is so bevoorreg dat ons hier sit met ’n taal wat ál die spiere het vir hierdie ding; álles is daar. So dit was vir my ’n teleurstelling toe ek hoor hoe die Afrikaanse uitgewers dink oor eksperimentele werk wat risiko’s loop; hoe húlle dink oor die plek van Afrikaans. Mý dink van Afrikaans is dat Afrikaans nou eers begin blom want Afrikaans as ’n taal van mag het Afrikaans só sleg aan bande gelê. Afrikaans as die taal van die marge, is waarin jy hierdie kan doen. Ek was redelik shattered oor daai reaksie want dit het vir my gevoel hulle kry dit verkeerd. Afrikaans gaan hulle nooit ryk maak nie. Die enigste ding wat Afrikaans kan doen, is om gatskop-goeie kuns te doen omdat dit so marginaal is en omdat dit al die spiere het en omdat dit die infrastruktuur het en omdat dit hierdie swáár geskiedenis het en omdat jy spreek ín hierdie geskiedenis in en omdat die probleme so akuut is en die taal so gevlék is . . . Hierdie behoort die blómtyd te wees van Afrikaans.”

Hy lag wanneer hy na sy boek wys en sê: “En moet my nou asseblief nie . . . ek dink nie hiérdie is die blom, die groot blom van Afrikaans nie. Hiérdie is ’n soort handeling op die ímpuls dat groot eksperimente moontlik is in ons tyd. En dít is vir my hoe ek voel ons die Afrikaners wat voor ons gekom het en die werk wat hulle gedoen het met hierdie taal éér. Wat dit is, is dit is ’n springplank, ’n platform vir merkwaardige goed, goed wat ons nog glád nie aan kan dink nie.”

Nagmusiek is volgens Muller ’n baie subversiewe boek.

“Daar is daai ou sêding dat die enigste mense wat wérklik getrou bly aan ’n tradisie is diegene wat dit breek. In daai opsig is daar dalk nie goed genoeg verstaan dat die manier om lojaal te wees aan Afrikaans, die manier om Arnold van Wyk te eer, is nié deur konvensie nie, maar deur ’n hoogs subversiewe eksperiment. Dís waar ons is, dís waar ons tans moet werk . . . Dís die vreugde van om in Suid-Afrika te bly, en ek praat nou van die Afrikaners se posisie, ons voorouers se sondes het vir ons ruimtes verower waarbinne ons kan spéél op hierdie manier, en die terugdeins daarvan, is ’n spectacular failure of the imagination! Ek kan dit nie kleinkry nie.”

Van Wyk verdien om gespeel te word

Was die beweegrede vir Nagmusiek dus om Van Wyk te eer?

“Ja, maar dit was nie my enigste beweegrede nie. Ek het hom nie geken nie. Hy is ’n baie goeie komponis en hy verdien om beter bekend te wees en sy musiek verdien om gespeel te word – ’n paar van die werke is groot werke.

“Uiteindelik wil ’n mens natuurlik nie net oor hom lees nie, jy wil die musiek hoor. Dis natuurlik die volgende groot uitdaging – hoe neem jy hierdie musiek op? Waar kry jy die geld? Baie van die opnames van sy musiek is só sleg dat dit hom laat klínk soos ’n derderangse komponis maar hy is eintlik baie beter as dit. So die simfonieë moet deur eersterangse orkeste en dirigente gedoen word en dieselfde met die klaviermusiek en die liedere . . . Dis sy eeufees hierdie jaar en daar is die moontlikheid om hom te herontdek in ’n klankkonsepsie wat hyself nie geken het nie, maar wat soveel beter is as wat ons sou kon doen in die sewentigs of die tagtigs.

“So die uitdaging is om hom baie goed op te neem; om baie fyn te dink oor watter soort klank, watter soort timbre, watter soort estetika gaan saam met ’n hoog modernistiese, marginale, koloniale komponis. En om daardie klank te gee aan hierdie repertorium is ’n kreatiewe uitdaging van ’n ander orde weer. Dít moet ook nog gedoen word, maar dis duur. Met dié dat ek ’n musiekargief bedryf by Stellenbosch soek ek maar die heeltyd geld. En ek het nou al ’n gevoel van wat is realisties en wat nié. Dis altyd vir my verbysterend wat nié mense se verbeelding aangryp nie. Hierdie is ’n merkwaardige díng; dis ’n merkwaardige manier om ’n soort Suid-Afrikaanse erfenis kreatiéf uit die verlede uit te haal, en daai erfenis is só geskakeerd dat dit hoogs relevant is vir ons tyd. Om daaroor te praat, oor die betekenis daarvan te praat, die ambivalensie daarvan te praat, om te praat oor dekolonisering en hierdie repertorium want Van Wyk was nié ’n Europeër nie, daar is iets aan hierdie repertorium wat nié in Europa gestalte kon kry nie – daardie is als gesprekke.

“En steeds . . . ek weet ek sal ook sukkel om geld hiervoor in die hande te kry.”

‘Oxford het iéts vir my gedoen’

Wat is daar in die lewe en werk van Arnold van Wyk wat aangetrek het; hom tot hierdie uiterstes beweeg het?

“Van Wyk het my nie beweeg nie. Ek kan ongelukkig nie eerlik daardie Romantiese storie vertel van hoe die musiek my roer of beweeg nie. Ek het in Oxford my doktorsgraad gedoen en ons wou graag terugkom Suid-Afrika toe. Maar ek was ontsettend báng om terug te kom want Oxford was ’n fantastiese díng vir my. Ek onthou een aand het ek uit ’n colloquium gestap op pad bus toe, en ek het gevoel ek stáp ánders. Ek stap gemáklik; ek sit in my lyf. Oxford het iéts vir my gedoen waar ek myself kon gemaklik vind en ontdék as ’n volledige mens. Alhoewel ek altyd verskríklik graag wou terugkom Suid-Afrika toe, het ek nie geweet hóé gaan ek dit doen nie. Ek weet daardie ding wat my daar laat gemaklik voel, is nie hier nie. Jy moet hárder werk hier om jou ritme te hou; om jou eie tempo vas te stel; om te beweeg as jý. En ek het uit vréés ’n projek aangepak wat ek gedink het so ondoenbaar is en waardeur ek vir my ’n wêreld kan skep buite Oxford waarin ek soveel uitdagings het, dat ek sal kan aanhou om te stap met my eie tred.

“En Van Wyk kon aan my daardie uitdaging bied omdat die argief nie bymekaar was nie; hy so onbeskrýf en vergete was; en oor die ómvang van die werk. Ek hét die werk geken, baie daarvan, en ek het geweet dis goeie werk . . . Van Wyk was ’n belangrike komponis, ’n intuïtief talentvolle komponis; sy beste werk is goed genoeg om in internasionale repertorium opgeneem te word.

“Van die werk het my, as ek heeltemal eerlik moet wees, eers heelwat later, nadat ek baie intensief daarna geluister het, geroer. Die melancholie daarvan, die móéitevolle gréin van die skryfwerk wat desnieteenstaande dan werk oplewer van hoogs gepoleerde kwaliteit, is diép roerend.”

'n Foto van Muller en sy oudste seun Willem se hande.
Biografie

Prof. Stephanus Muller het aan die universiteite van Pretoria, Oxford en Unisa studeer. Ná sy aanstelling aan die Universiteit Stellenbosch in 2005, het hy die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) gestig as ’n navorsingsinisiatief wat toegespits is op die bewaring van die Suid-Afrikaanse musikale erfenis.

Benewens Nagmusiek sluit Muller se ander werk in die samestelling van die mondelinge-geskiedenisboek Eoan: Our Story , en het hy as deel van Roelof Petrus van Wyk se fotoboek, Jong Afrikaner: A Self-portrait, die teks “Betoog oor die epiese soektog na die beminde van die siel in die vernielde wingerd” geskep.

Muller is getroud met die chirurg en akademikus Elmi Muller. Hulle het twee seuns, Willem (17), Johan (11).

Eers in Oxford het Muller ontdek sy denke en benaderings “is nie ’n aberrasie of ’n perversie nie”.

“Dit is iéts, dis ’n wáárdevolle iets, en in daardie omgewing van baie slim mense en groot verskeidenheid mense, kon ek daai ding doen sónder dat daar ’n wenkbrou lig. Inteendeel, wanneer ek dit góéd doen, is daar gesê: Dis besonder interessant en dis besonder goed. En dít was hier moeilik. Dis baie klein hier; daar is ’n enorme konformerende druk; die politiek in ons land lê so na aan die oppervlak dat jou vermoë om vrý, ábstrak, móéilike goed te kan beredeneer,aan bande gelê word deur die vlakheid van die politieke implikasies van wat jy sê . . .

“Ek onthou as ’n kind die drúk om te konformeer. Ek was die kleinseun van ’n rugbyafrigter en ek het klavier gespeel . . . So jy moet weet as jy in ’n plattelandse skool is en jy speel klavier, dan moet jy maar rugby ook speel of jy pluk nou vir jou eie gat ’n lat. Dus het ek maar rugbygespeel en ek het maar die goed gedoen wat jy moet doen om te oorleef in daai omgewing, ook goed wat ek nié wou doen nie . . . En so raak jy vervreem. Jy kultiveer nie wie jy ís nie, jy kultiveer wie jy móét wees om te oorleef. En ek dink dit het my ál daardie tyd gevat, totdat ek 28 was en ek een aand net kon voel nou is ek los van daai konformeringsdruk.”

Hy bly ’n rukkie stil, en sê dan:

“So Nols het meer vir my gedoen as wat ek vir Nols gedoen het, basies.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier