22 Augustus 09:19
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 62%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 2mm

Humiditeit 78%

Donderdag

15°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 58%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 61%

Saterdag

18°C / 10°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

My Stem
Só trap ons die swart hond se tjank af
Annemarie van der Walt

Die besluit is op die ingewing van die oomblik. Daar is nie regtig iets anders om te doen nie behalwe om sielig van stoep na balkon te dool en so nou en dan iets vaags kwyt te raak, soos “ons moes seker . . . ”

Dié oorhoopse gevoel duur reeds byna ’n week. Gedog dis die onrus oor die politiek; of dit blameer op die stilte van die oudste in verre lande en die verskoning loop soek by van gebrekkige banksaldo’s tot die hond wat verhaar.

“Die grootste voordeel,” sê jongste toe ons in die motor klim, nog maar halfhartig, “is dat dit nie ver is nie.”

Ons en ’n handvol ander daag van die dorp se kant af op. Daar was ook iemand van Hermansburg, nog ’n paar uit die Elandsvallei, een of twee uit Schoemanskloof – plekke wat meer kontrei as spesifieke adres is, net soos Coetzeestroom, waar ons die skemer se wegsluip oor die rante dophou.

Anders as gewoonlik op sulke soortgelyke samekomste is daar nie ’n samedromming om die vuur of ’n luide gegroetery nie. Die meeste mense beweeg so ongemerk moontlik die kring in; die gesels is gedemp. Ek stap ’n draai om die vuur se lig agter my rug te kry sodat ek oor die donker kloof kan uitkyk en hoor: “Vrot week . . . ”, “So gefrustreerd . . . ”, “Weet nie wat gaan aan nie en kry net nie my vinger daarop gelê nie . . . ” en besef my gewaande unieke swart hond snuffel skynbaar op almal se spore.

Selfs toe die djembe-tromme uitgedeel word – die rede waarom ons elkeen om verskillende redes opgedaag het – is uitbundig die laaste woord wat opkom.

Dit is ’n hele ruk nadat ons geleer word waar en hoe om op die trom te slaan en die eerste ritme stadig maar seker onder sowat 30 pare hande in pas kom met mekaar, wat die volmaan skielik deur die swaar wolke priem.

Vir ’n oomblik is ek verward; my sin vir rigting – én die tromritme – kwyt, want ek het die maan nie so reg vóór verwag nie. Jongste kyk gesteurd op. “Die maan sit op die verkeerde plek,” verontskuldig ek myself.

Mettertyd kom ek agter ’n mens moet nie dink terwyl jy probeer byhou nie, net oorgee.

Sy skud haar kop en hou die ritme. Ek moet na haar hande kyk om te volgorde van bass, ­tone, slap weer te vind. Mettertyd kom ek agter ’n mens moet nie dink terwyl jy probeer byhou nie, net oorgee.

Maar toe ek my handpalms ’n blaaskans gee en dit net liggies op die gespande tromdoek laat lê – en daarin die vibrasie van die ander tromme voel – is ek bewus van ’n verandering in die atmosfeer. Die stugheid het die wyk geneem. Mense kyk na mekaar oor die vuur en glimlag, ook die skraal blonde vrou wat alleen opgedaag het, die meisiekind wie se armbande op en af oor haar jong swart vel gly, die man met die grys strepe in sy baard.

Die laaste donker wolk sliert weg voor die volmaan en ons klomp doodgewone mense van oraloor trap vasbeslote, ritmies, die swart hond se tjank af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.