23 Junie 19:18
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Sondag

15°C / 10°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 9°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

18°C / 13°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 36km/h

Reënval 12mm

Humiditeit 78%

Donderdag

13°C / 10°C

Wind 7km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 63%

Stemme
Forum
Oop Kaarte: ’n Slang tussen die bome
Die skeppers van ’n merkwaardige wandelbrug vertel hoe dié struktuur, die Boomslang, tot stand gekom het.
Die argitek Mark Thomas staan op die Boomslang-wandelbrug in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin. Hy is die ontwerper daarvan. Foto’s: Liza van Deventer
Mark verduidelik aan die hand van ’n skets hoe die balustrade ontwerp is.

Met amper kinderlike opwinding praat die argitek Mark Thomas oor die Boomslang-wandelbrug wat tussen die krone van die bome in Kirstenbosch se arboretum deurkronkel. Dit is soos ’n Meccanostel, sê hy.

Mark ontmoet ons op ’n koel, betrokke dag in Kirstenbosch. Hy daag op in ’n Land Rover met die naam Matilda en is geklee in jeans, ’n wit hemp en Birken­stock-sandale. Op sy kop is ’n bruin seilhoed.

Ons begin stap in die rigting van die Boomslang. Dit is een van die amptelike projekte van Kaapstad Ontwerphoofstad 2014, maar is ook aangepak as deel van die viering van Kirstenbosch se honderdjarige bestaan verlede jaar. Die projek nader nou voltooiing en sal waarskynlik aan die einde van Maart klaar wees.

In die stap vertel ’n glimlaggende Mark hy was as seuntjie van so 7, 8 jaar oud in sy grootwordstad, Pietermaritzburg, ’n lid van ’n bende. Hulle het mekaar die trologdiete genoem en ’n houtfort om ’n ou boomstomp gebou.

Maar dit is ’n boomhuis wat hy ontwerp en gebou het wat daartoe gelei het dat hy die Boomslang ontwerp het.

“Ek het 25 jaar gelede langs die Breërivier buite Swellendam ’n boomhuis gebou en Philip le Roux, die kurator van Kirstenbosch, onthou daardie boomhuis. Ek het ook hier in Kirstenbosch ’n plek gebou (personeelkwartier) en ons het die ontwerp aangepas rondom ’n kurkboom; sodat die boom nie verwyder hoef te word nie. Die kurator het dít ook onthou en gedink as daar ’n boom-projek hier in Kirstenbosch gaan plaasvind, wil hy daardie argitek hê.

“Ek het toe ’n aanvanklike skets gemaak wat ’n gekurfde struktuur, eerder as ’n reguit lyn, was. En iets met ’n ruggraat en ribbe. Maar die grootste ding was die terrein. Toe ek die projek gekry het, het ek hierheen gekom en elke liewe boom driedimensioneel op die plan aangebring. Ook al die paadjies. Die arboretum met hierdie paadjies wat daardeur kronkel, is klaar magies sonder dat enigiets bygevoeg word.

“Die idee was om ’n kronkelende struktuur te skep wat met die paadjies resoneer. En sonder om af te show. Die laaste ding wat ons wou doen, was om ’n groot, pretensieuse struktuur hier in Kirstenbosch op te rig. Dit moet iets wees wat besoekers amper toevallig ontdek; iets baie onderbeklemtoon.”

Die meeste groot botaniese tuine in die wêreld het sulke wandelbrûe. Die bekendste is waarskynlik die een in Kew Gardens in Londen.

“Hierdie een is uniek wat sy vorm betref. Ek dink nie daar is nog een wat so kronkel en geen reguit lyn bevat nie. Die naam Boomslang het uitgekom by ’n vergadering waar ons ’n driedimensionele tekening voorgelê het. Iemand verwys toe na die Kobra by Ratanga Junc­tion en toe sê ons nee, hierdie is nie ’n kobra nie, dis ’n boomslang.”

Ons stap deur die bome met die reuk van klam grond en vermolmde bare wat na ons neuse opstyg.

“Dit is in samewerking met die ingenieur Henry Fagan geskep, want dit is eintlik ’n brug, ’n struktuur waarvan al die dele funksioneel is. Die handrelings, byvoorbeeld, is nie net handrelings nie, hulle is deel van die groot vaswerkbalke (trusses) tussen die pilare. Al lyk dit redelik basies en eenvoudig is dit baie gesofistikeerd.”

Onder ’n hardepeerboom tref ons ’n groep werkers aan. Op ’n bankie is hul plastiekhoede: ’n groene,’n bloue en ’n rooie. Ook kosblikke en ’n blou sak waarop die woord Reflex verskyn.

’n Plaatjie op die rug van die bank gedenk die lewe van Edith Stephens (1884-1966).

Die broers Cassidy en Natius Abrahams sê hulle geniet dit om hier aan die Boomslang te werk. Maar, voeg Natius by: “Dis net die diere wat ’n bietjie lastig is. ’n Mens moet maar uitkyk as jy werk . . . boomslange, spinnekoppe en die Cape­ cobra en die puff adder, jy moet uitkyk vir hulle, want hulle sit so tussen die plante. Maar once daar ’n geraas is dan vat hulle hulself weg; dan onttrek hulle.”

Nou is ons by die beginpunt van die Boomslang. Eers stap ons onder die struktuur deur.

“Daar is hierdie onderwêreld wat hulle nou weer aan die gang kry. Dit is die magiese vloer van die woud. Kyk, daar is al hierdie paadjies onder die Boomslang wat almal by mekaar aansluit.

“Ons het ’n kleur vir die Boomslang gekies wat so goed moontlik met die woud saamsmelt. Die kunstenaar Ian Grose het die kleure geskep. Daar is ’n kleur wat hy noem die kleur van die skadu onder die blare in Kirstenbosch. Is dit nie lekker nie?! Die kleur is nie groen nie maar eerder die kleur van boombas.”

Die voëlsang uit die takke bo ons laat Mark opmerk: “Die soundtrack is baie mooi.”

Ons talm by ’n Kaapse saffraanboom. Dit is een van die bome wat teenaan die Boomslang groei. Mark wys na dun kabels waarmee die onderkant van die boom gestabiliseer is.

“Sodoende kan die bokant van die bome beweeg, maar die onderkante is stabiel. Wanneer jy verbystap, kan jy by die boom betrokke raak – jy kan daaraan voel.”

Die wandelbrug is op een plek heelwat breër, en daar is bankies waar mense kan sit.

“Dis ’n bietjie soos ’n slang wat ’n bokkie ingesluk het . . . Ons het die strukturele logika van die ding gebruik om die vorm daarvan te bepaal. Niks is daar net vir vertoon nie, alles het ’n doel.

“Ek en Henry het baie nou saamgewerk. Ons het tekensessies gehad – een by my kantoor en dan weer by sy kantoor. Dit was ’n volkome samewerking tussen argitek en ingenieur . . . Dis ’n Meccanostel, die hele ding is soos ’n Meccanostel.”

Henry en sy ingenieurspraktyk is die skeppers van projekte soos die swaaibrug by die V&A Waterfront en die Kaapstad-stadion. Hy beskou die Boomslang amper meer as ’n beeldhouwerk as wat dit ’n ingenieursprojek is.

“Ons het gewéldig baie moeite gedoen saam met die argitek om elke stukkie van die brug soos ’n skulptuur eintlik uit te werk. Wat vir ons altyd belangrik is met hierdie soort projek is om nie eers ’n groot struktuur te skep en dan goeters aan te plak nie, maar om alles te integreer. Elke item van die brug het ’n strukturele én ’n praktiese doel.

“Ons en die argitek is saam aangestel en het van die begin af baie nou saamgewerk. Deel van die sukses van die brug is te danke aan die noue samewerking tussen ons as struktuuringenieur en die argitek.”

’N Swart pen steek by Mark se hempsak uit.

“Dis ’n Lamy, een van die mees onderskatte en beste vulpenne in die wêreld.”

Hy bring ’n sakboekie te voorskyn, plaas dit op die reling voor hom en begin teken.

“Ek teken nou vir jou die balustrade wat hulle besig is om te bou. Hier is die staal en hierdie is ’n hout bekend as rooiverfhout (pa­dauk). En hierdie is ’n leunreling eerder as ’n handreling. Die hoogte daarvan maak dit baie gemaklik om daarteen te leun.

“Dit bepaal ook hoe die brug vóél. Terwyl jy na bome kyk, voel jy dan ook hierdie lieflike gladde houtreling onder jou hande . . .”

Hy haal ’n maatband uit sy sak en meet die hoogte van die reling.

“Die standaard-toonbank is 900 mm hoog; ’n kroegtoonbank staan hier by die 1 100, en hierdie is bietjie hoër – 1,2 m hoog, omtrent.’’

Ons begin op die Boomslang stap. Dit word geleidelik hoër totdat ons op dieselfde vlak is as die boonste takke van sommige van die bome; ons stap as’t ware deur die krone. Voor ons lê die tuin en die berg uitgestrek.

“Hier kan jy nou die gevoel kry van om tussen die bome te stap. Die idee is dat jy hier kan staan (teen die reling) en net na die voëls kan luister en na die bome en die uitsig kyk.”

Mark praat oor die skulpturele aard van sy werk.

“Ek gebruik graag hout. Een van die dinge wat ek by AfrikaBurn gemaak het, en sedertdien ook op die fan walk in die stad, is ’n reuse-bank. Ek speel met skaal, dit is ’n monster. Wanneer jy daarop sit, voel jy soos ’n kind, want jou voete raak nie aan die grond nie.

“Ek het ook al vir AfrikaBurn ’n skeepswrak uit herwinde materiaal gemaak. En ’n monstervuurhoutjie van ses meter lank wat uit 1,5 miljoen vuurhoutjies bestaan.”

Wanneer ons weer by die Boomslang se beginpunt kom, daar waar dit van die grond af tussen die bome deur begin kronkel, gewaar ons ’n groot spinnerak in ’n boom.

’n Skielike beweging deur die goue wawielwebspinnekop, die ontwerper van hierdie ragfyn struktuur, laat die netwerk van sydrade liggies tril.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.