Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Profiele
Buthelezi: Die kanniedood-prins met die rooi vere
Buthelezi: “Die feit dat ons koninklikes is, het nie ’n verskil gemaak nie; die feit is ons is swárt.”Foto: Lulama Zenzile

Mangosuthu Buthelezi, een van die veterane van die Suid-Afrikaanse politiek, praat oor sy koninklike lewe, ’n president wat hy nie kan vertrou nie en sy kinders wat aan vigs gesterf het.

Net voor die chaotiese verwydering van die EFF-lede uit die parlement onlangs by die openingsgeleentheid, het ’n ou Zoeloeprins opgestaan. In sy hare was twee rooi vere.

“Die EFF se woordvoerder, mnr. Mbuyiseni Ndlozi, en ek het nogal ’n hegte verhouding. Nadat die speaker hulle beveel het om die parlement te verlaat en hulle geweier het, het hy my genader en gesê ek moet na ’n ander plek skuif want dit gaan baie rof raak. So toe moes ek skuif. Hy het klaarblyklik geweet wat hul agenda is en dat dit vir my nodig is om te skuif, anders sou ek in die gedrang kom,” sê die 88-jarige president van die Inkatha-Vryheidsparty.

Ons sit in Buthelezi se parlementêre kantoor, waar foto’s van hom saam met mense soos pous Johannes Paulus II, die Dalai Lama, Margaret Thatcher en Elton John te sien is. Op ’n kas langs sy lessenaar staan ook ’n hele paar foto’s van onder andere hoofman Albert Luthuli.

Gedurende die onderhoud maak Buthelezi soms sy oë toe wanneer hy praat. Sy gehoor is nie meer wat dit was nie en dit is dus nodig om redelik hard met hom te praat. Hy is geklee in ’n blou pak en ’n das met olifante. Aan sy voete is swart volstruisleerskoene.

“Vir iemand wat al sedert 1994 in die parlement is en wat selfs voor ons bevryding, terwyl ek hoofminister van KwaZulu was, in die KwaZulu- wetgewende vergadering was, is die dekorum van wetgewers amper heilig.

Buthelezi staan op om na ’n veiliger plek te skuif voordat EFF-lede uit die parlement verwyder is by die staatsrede verlede maand.Foto: Verskaf

“Wat nou aangaan, het die waardigheid van die parlement in duie laat stort en die beeld van die land in die oë van ander lande beskadig.”

Ek vra hom uit oor die rooi vere wat hy met die parlementsopening in sy hare gehad het.

“Ek dra so ’n veer op seremoniële geleenthede; dit is die koninklike veer, die veer van ’n rooi loerie.”

In sy oom se paleis

Dan praat ons oor sy kinderdae.

“Ek het die soort kindertyd gehad wat ek dink alle Zoeloekinders beleef, maar ek het my kinderdae nie in my ouerhuis deurgebring nie; ek het dit in die paleis van my oom, koning Solomon kaDinuzulu, my ma se broer en die oupa van die huidige koning (Goodwill Zwelithini), deurgebring.

“Ek is ná my geboorte reguit van die hospitaal soontoe geneem. Daar het ek gewoon en skoolgegaan in die skool vir die koninklike kinders. Nadat ek st. 7 geslaag het, moes ek na Adams College gaan vir my sekondêre opvoeding.

“Ons seuns moes, soos alle Zoeloeseuns, die beeste oppas. Dit het soms probleme geskep in dié opsig dat ons op dae wanneer die beeste gedip moes word, laat by die skool aangekom het. En dan het ons ’n loesing gekry.”

Buthelezi is na die Fort Hare-Universiteit waar hy hom by die ANC-jeugliga aangesluit het. Hy het sy studies aan die Universiteit van Natal voltooi en daarna op aanbeveling van Luthuli gehoor gegee aan die Buthelezi-stam se versoek om na Mahlabathini terug te keer en sy rol as hoofman (inkhosi) op te neem.

Hoe het hy dit beleef om deel van die Zoeloekoningshuis te wees maar terselfdertyd onder apartheid te leef?

Hy het oorleef, maar later is hy valslik van moord aangekla en gehang.

“Die feit dat ons koninklikes is, het nie ’n verskil gemaak nie; die feit is ons is swárt. Wanneer ek byvoorbeeld poskantoor toe gegaan het, moes ek by ’n ander deur as dié vir wit mense ingaan.

“Maar ons het nog vóór die apartheidsera al diskriminasie beleef. Jy moet onthou van my voorouers het baie gely. Koning Cetshwayo is ná die Anglo-Zoeloe-oorlog in 1879 hier in die Kaap aangehou. En my oupa aan moederskant, koning Dinuzulu, was ook in ’n burgeroorlog betrokke en na St. Helena verban, waar my ma se twee broers gebore is.

“My ma en van die weduwees van my oupa wat nog geleef het, het vir ons van dié stories vertel. Nadat my oupa koning Dinuzulu na sy koningshuis teruggekeer het, is hy by die Bambatha-rebellie betrek en van hoogverraad aangekla. Hy het in Middelburg in die destydse Transvaal in ballingskap gesterf.

“My pa se pa het op 22 Januarie 1879 in die Slag van Isandlwana geveg. Hy het oorleef, maar later is hy valslik van moord aangekla en gehang. Dít is my wortels en dit het my baie sensitief gemaak oor wat met swart mense gebeur.”

Skeuring tussen partye

Buthelezi se koppie swart rooibostee staan vir ’n hele rukkie onaangeraak op die tafel voor hom. Dan haal hy ’n groterige silindriese plastiekhouer uit ’n kas langs hom en sê: “Ek gebruik net versoeter want ek is ’n diabeet.”

Die houer is aan die leë kant en dus sukkel hy aanvanklik om met sy teelepel die versoeter by te kom.

Hy vertel van sy betrokkenheid by bevrydingspolitiek in Suid-Afrika en sy verhouding met Oliver Tambo, Walter Sisulu en Nelson Mandela. En hoe daar deur ’n sameloop van omstandighede, waarin Alfred Nzo ’n sentrale rol gespeel het, ’n skeuring tussen hom en sy Inkatha, en die ANC gekom het.

“Al die sluise is oopgetrek – ek is op Radio Freedom aangeval; ek is in hul publikasie Sechaba aangeval, ek is as ’n sell out uitgebeeld . . . Maar die doel van Inkatha was om as front vir die ANC te dien.”

Daar is ook beweer dat sy lojaliteit aan en fokus op stam- en etniese belange ten koste van nasionale eenheid tot voordeel van die apartheidsregering gestrek het.

Sy vriendskap met Mandela, sê hy, was nooit aangetas nie. Terwyl Mandela in die tronk was, het hulle deurentyd gekorrespondeer. En hy het hom oor die jare vir Mandela se vrylating beywer. 

“In 1974, in ’n gesprek met die eerste minister, mnr. Vorster, het ek die vrylating van mnr. Mandela opgehaal. Hy het gesê hy sal hom nooit vrylaat nie omdat mnr. Mandela tydens die Rivonia-verhoor gespog het dat hy ’n kommunis is, wat natuurlik nie waar is nie . . . Hy het gesê sy pa het hom geleer om nooit ’n adder aan jou boesem te koester nie, en solank as wat hy eerste minister is, sal hy hom nie vrylaat nie.

“Kort ná sy vrylating het ons met mekaar in verbinding getree oor hierdie afspraak wat hy wou gehad het ons moet hê. Maar die vreemde ding is dat dit net nie gebeur het nie. Dit was vreemd want daar was nie ’n breuk in ons verhouding nie.

“Toe, gedurende ’n besoek aan sy tuiste in die destydse Transkei, sê die amakhosi, die leiers daar, vir hom: ‘Jy en Buthelezi is sulke goeie vriende, so hoekom het jy nog nie jou vriend gesien sedert jy vrygelaat is nie?’

“Madiba sê toe, en daar is so daaroor in die media berig, dat hy my nog nie gesien het nie omdat die leiers van die UDF en die ANC hom amper ‘verwurg’ het en gesê het hy moet my nie sien nie.

“So ek het Madiba amper ’n jaar ná sy vrylating eers op 29 Januarie 1991 gesien.”

Mandela het hom aangestel as die minister van binnelandse sake, ’n pos waarin hy twee termyne gedien het.

Ek sal altyd die leiers van die ANC in KwaZulu-Natal vir die haat en die sterftes verantwoordelik hou.

Ons praat oor die geweldpleging in KwaZulu-Natal en aan die Oos-Rand, waarin duisende mense in die 1980’s en 1990’s in faksiegevegte tussen Inkatha-ondersteuners en ondersteuners van die UDF en die ANC gesterf het. In sy hoedanigheid as die voorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu hierdie sterftes voor Buthelezi se deur gelê.

“Ek sal altyd die leiers van die ANC in KwaZulu-Natal vir die haat en die sterftes verantwoordelik hou,” sê hy op sy beurt.

Prins Mangosuthu Buthelezi gedurende die onderhoud in sy kantoor in Kaapstad. Foto: Lulama Zenzile

Kan Zuma nie vertrou nie

Hoe sou hy sy verhouding met pres. Jacob Zuma beskryf?

“Op die oog af tree ons teenoor mekaar op soos here – bedagsaam. Ek respekteer mnr. Zuma as staatshoof en as leier van die regerende party. Mnr. Mandela het gesê mnr. Zuma het ook baie respek vir my.”

Maar dan beskryf hy voorvalle waarin Zuma op sy woord teruggegaan het en sê hy kan hom nie vertrou nie. Wanneer Buthelezi hom gekonfronteer het, was sy verskonings glo telkens van die nou reeds bekende glimlag vergesel.

“Ek het al hier in die parlement opgestaan en gesê dit maak my hartseer dat my land op ’n bedrieglike wyse regeer word.”

Waarom het die IFP in die afgelope jare soveel steun verloor?

“Die waarheid is dat geld die melk van politiek is. Ons het nie die soort geld wat al hierdie ander partye het nie. Maar in die plaaslike verkiesing verlede jaar het ons ons steun verdubbel. As ons net genoeg geld gehad het om in al die provinsies stemme te werf . . .”

Hy skud ook sy kop oor wat hy beskryf as die shenanigans, die geslepe streke wat tydens verkiesings uitgehaal word.

Op die vraag oor hoe lank hy nog in die politiek gaan wees, antwoord hy:

“Ek weet regtig nie, ek moes al lankal afgetree het, ek wou dit al in 2009 doen. Maar op die IFP-kongres in 2012 het die lede gesê hulle respekteer die feit dat ek wil aftree, maar ek moet hulle probeer help deur ’n oog oor die leierskapsoorgang te hou. En op daardie grondslag het ek sedertdien aangebly.”

Die pyn van kindersterftes

Buthelezi en sy vrou, Irene, het vyf van hul agt kinders aan die dood afgestaan. Twee van hulle – ’n dogter en ’n seun – is aan vigsverwante oorsake dood. Hy het al oor dié verlies gesê “MIV/vigs het my op my knieë gedwing en my familie verwoes . . .”

Ek pols hom hieroor.

Dit is een van die grootste uitdagings wat ons in die gesig staar, daarom het ek toe ek my kinders begrawe het, bekend gemaak waaraan hulle gesterf het.

“Dit is ’n baie hartseer ding.” Hy raak aan die rooi MIV/vigs-lapelwapentjie op sy baadjie. “Ek sal hierdie elke dag dra totdat ek sterf. Weens die pyn wat ek steeds voel en ook om aandag daarop te vestig dat mense verkeerdelik dink ons oorwin hierdie ding omdat daar antiretrovirale middels beskikbaar is, maar die voorkoms daarvan is steeds dieselfde. Dit is een van die grootste uitdagings wat ons in die gesig staar, daarom het ek toe ek my kinders begrawe het, bekend gemaak waaraan hulle gesterf het.”

Tydens die onderhoud is ek deurentyd bewus van ’n aangename reuk in die kantoor. Iets soos sandelhout. Dalk wierook wat in ’n stadium daar gebrand is, dink ek.

Voordat ons vertrek, vra ek die prins daaroor. Hy is aanvanklik onkant betrap deur my vraag, maar sê dan glimlaggend dit kan die naskeermiddel wees wat hy gebruik. Hy het dit as ’n geskenk ontvang. Wag, hy sal ons wys, sê hy. Hy staan op en gaan na ’n kleiner vertrek aangrensend tot sy groot kantoor. Hy keer terug met ’n bottel in sy hand wat hy uit ’n silwer skede (’n tipe sakkie) haal. Die eau de parfum is van Mancera en die naam is Black to Black.

Wanneer hy ons by sy kantoordeur groet, haal hy aan wat Mandela in 2009 oor hom gesê het:

“We have used all sorts of ammunition to destroy him but we failed, he is still there. We cannot ignore him. He is a formidable survivor.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Zuma  |  Anc  |  Oop Kaarte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.