Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Profiele
Diana Ferrus: ‘Ons het diép, diép seergekry’

Die digter Diana Ferrus, wat onlangs Nederlanders aangegryp het tydens ’n slawerny-herdenking, vertel aan Murray La Vita van die oomblik toe sy afgekyk het in die kis van Sarah Baartman.

Diana Ferrus in die Slawelosie in Kaapstad by ’n tentoonstelling van name van slawe wat na die Kaap gebring is.Foto: Jaco Marais

Op die oggend van 4 Mei 2002 het die vlieënier van ’n vlug uit Frankryk iets ongewoons aan sy passasiers gesê toe die vliegtuig Johannesburg nader:

“Ons verwelkom Sarah Baartman terug in die land van haar geboorte ná 192 jaar.”

Diana Ferrus (64), wat op daardie vlug was, raak bewoë wanneer sy dit vertel.

“Dit was die grootste oomblik in my lewe . . . Hulle het vir niemand gesê die oorskot is in die vliegtuig nie. Jy weet, ek het in daai vliegtuig gesit en ek kon nie stilsit nie. Ek wou vir die mense sê: ‘Hier’s geskiédenis in hiérdie vliegtuig!’”

Ons gesels met Ferrus, wat benewens digter ook storieverteller en skrywer van prosa is, by ’n Mugg & Bean in die Kaapse buurt Kuilsrivier waar sy woon. Sy het onlangs uit Nederland teruggekeer waar sy aan

Ketikotimaand, dié land se nasionale herdenking van sy slawernyverlede, deelgeneem het. Sy was ’n spreker en het haar gedigte, onder meer die een oor Sarah Baartman, voorgedra. Miljoene mense kon dit op televisie meemaak.

Ek het haar, dank die vader, nooit uitgestal gesien nie; ek het haar net gesien toe ons vir haar gaan haal het.

“Kyk, my familie, veral aan my pa se kant, was politiek bewus. My ouma was die kleindogter van ’n slaaf, so daar was baie bewustheid by my ouma, Rosie Februarie . . . Februarie wat Ferrus geraak het.

“Ek onthou dat my antie, my pa se suster, vir my gesê het háár ma het altyd gesê: ‘Wat dink die Franse om onse klimmeit daar anderkant in ’n glaskas aan te hou!’ ”

Die Khoi-vrou Sarah is in 1789 in die Gamtoosvallei gebore en het haar later in Kaapstad gevestig waar haar liggaamsbou (onder meer ’n groot agterstewe) deur dr. William Dunlop, ’n Britse chirurg, opgemerk is. Hy het haar oorgehaal om saam met hom na Londen te reis en het haar aan betalende toeskouers ten toon gestel. Sy is later aan ’n Paryse sirkuseienaar verkoop. In dié stad is sy ook uitgestal (sy is die Hottentot Venus genoem) en het in armoede daar gesterf waarna haar geraamte en genitalieë jare lank in ’n museum uitgestal is.

“My bewustheid van Sarah het gekom nadat ek begin studeer het. In Hólland het ek verder geleer van haar.

“Ek het haar, dank die vader, nooit uitgestal gesien nie; ek het haar net gesien toe ons vir haar gaan haal het – die gipsafgietsel en die skelet, nét dit.”

‘Sarah wou net huis toe gaan’

Sy het die gedig oor Sarah Baartman geskryf terwyl sy in Utrecht studeer het.

“Ons het daar geleer oor seksualiteit in die kolonies . . . Eros en Pathos, en toe leer ons nou weer van Sarah Baartman. Dit was inténs, want ek was in ’n vreemde land; ek was homesick en ek het geleer sy het in ’n onderhoud iewers gesê sy wil net huis toe gaan.

“Dít was vir die groot ding: Huis en die moeder en die moederland, want ek was in Holland die jaar nadat my ma gesterf het. Een aand het ek gestaan in my kamer en ek was só homesick, ek het súlke heimwee gehad. En ek het gekyk na die sterre en ek het vir myself gesê hulle is só ver hiervandaan, maar as ek in mý land was, sou ek hulle kon aanraak.

“En toe is dit vir my asof ek ’n stem hoor wat sê, en ek weet nie hoekom in Engels nie: ‘I want to go home! I want to go home!’ Toe het ek, met die tráne wat oor my wange loop, na my tafel toe gegaan en ek het daar die eerste lyn gaan skryf: I’ve come to take you home . . . En ek het nooit geweet hoe profeties dit sou wees nie. Daai aand het die hele gedig gekom; ek het later net een lyn bygesit.”

Diana Ferrus tydens ’n onderhoud in Kuilsrivier.Foto: Jaco Marais

Uit mense se reaksie op die gedig het sy besef dit “het krag”.

“Die mense is aangedaan as ek dit lees. En hulle vra vir jou om dit weer te lees.”

Nadat die Franse senator Nicholas About ’n video op die internet gesien het waarin Ferrus die gedig voorlees, het hy in e-pos aan haar gesê hy is ontroer daardeur “want dit wys hoe emosioneel ons voel oor die feit dat haar oorskot nog uitgestal word”.

Ironies genoeg het hy in plaas van “moved” geskryf: “we were removed”.

“Hy vra toe vir my om dit in Frans te laat vertaal, want hy was besig om sy vertoë bymekaar te sit om haar oorskot te laat huis toe kom.

“Toe ek vir my vriende sê toe spring ons in die lug in want iets wat só onmoontlik gelyk het, is nou moontlik. Sy vertoë, met my gedig in, het toe deel van ’n Franse wetsontwerp geword.”

’n Kunstenaarsvoorstelling van Sarah Baartman.Foto: Argief

Die wetsontwerp is uiteindelik eenparig aanvaar.

“Die 27ste April (2002) is ons toe hierdeur om vir haar te gaan haal. Die regering het my uitgenooi om die gedig op te sê by die oorhandigingsproses. Dit was ’n baie emosionele storie daai . . .

“As ek nou weer daaraan dink . . . Sarah Baartman, hier is ek, ek is vyf-voet-twee, sy was nog kleiner as ek. Sy het géén mag gehad nie, maar mense kon haar nog sien as ’n mónster, iemand vir wie jy bang is, maar ook iemand wat jy rondnéúk en laat goeters doen – soos ’n fráts behandel. Dat hulle die vermételheid gehad het om dít te doen!

“Ons word toe toegelaat om binne in die kis te kyk want ons moes die oggend voor ons gegaan het vir die oorhandiging gaan kyk het dat hulle die oorskot reg verpak. Toe ek afkyk in daai kis toe was dit vir my vir ’n oomblik of sy gesê het: ‘Take me away.’

“Iemand het vir my gesê: ‘Gaan net so om die draai.’ Toe is daar rýe en rýe en rýe skelette wat hang . . . kleintjies en grotes . . . wie se ma? wie se pa? wie se kind? háng in daai museum?

Diana Ferrus dra haar gedig “Ons komvandaan” in Amsterdam voor. Foto: Elize Zorgman

“En toe is dit my beurt om nou die gedig op te sê en toe sê onse ambassadeur vir my ek moet gou maak want die Franse minister moet nog iewers gaan. Ek dink toe: Jy’s seker nie reg in jou kop nie! Hy gaan wág! Hy gaan wág . . . Ek het my planne reg! Óns het vir 200 jaar gewag. Hoe kan sy vir my sê ek moet gou maak? As daar iets is waarop ek baie trots is in my lewe dan is dit dat ek ’n Franse minister laat wag het.”

Sy het eers ’n lied gesing en op haar mondfluitjie gespeel.

“En toe sê ek die gedig op.”

Posttraumatiese stres

Ferrus beskryf haar kinderjare in Worcester as “stormagtig”.

“Ons was arm en my pa was ’n soldaat uit die Tweede Wêreldoorlog. Kyk, ek is in ’53 gebore en my pa het in ’46 teruggekom, so ’53 is nie baie lank van die einde van die oorlog af nie. Hy het posttraumatiese stres gehad wat ek nie van geweet het nie en dit het alles ’n impak gehad op onse kinderjare. My pa was ’n alkoholis en my ma het ook gedrink. Jy weet, Worcester is ’n area met sy geskiedenis van die dopstelsel, so dit was maar ’n bietjie moeilik vir my. Maar dit was wonderlik ook . . . die wonderlike ding van my kinderjare is my ma en my pa was verskriklike goeie lesers; hulle het geléés en hulle was fantastiese storievertellers en hulle het vir ons gedigte voorgedra.” Sy lag.

“Ek sê altyd ek is die skrywer wat my ma moes gewees het want my ma was slím en sy was gevát in alles wat sy gesê het. Sý is die persoon wat vir die mense briewe geskryf het, die mense wat nie kon lees en skryf nie, as hulle moes gaan na die plek toe wat bekend was as coloured affairs . . . kléúrlingsake, of na die polisie toe, het sy vir hulle briewe geskryf.

“En ek dink net dat die liéfde vir lees en skryf kom uit daardie jare uit . . . Afrikaans is die taal wat die mense kan versoen. Dis ’n pragtige taal; dis ’n musikale taal en die taal sal nie uitsterf nie . . . die liefde vir die taal is te sterk.

Diana Ferrus by ’n afbeelding van slawe in die Slawelosie in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Wanneer het sy van slawerny bewus geword?

“My ouers het nie eintlik gepraat daaroor nie. My óóm het iets gesê; hy het my vertel dat hulle die afskaffing van die slawehandel herdenk het. Ek is so spyt ek het nie vir hom méér gevra nie . . . hy’t so ’n liedjie ook gesing wat hulle gesing het in daardie tyd. Maar die wérklike bewusraking was toe ek, net ná demokrasie, wou werk met die identiteit van die sogenaamde bruinmense want ek het besef daar is ’n hele klomp genesing wat moet plaasvind; toe het ek begint met geskiedenis en dis nogal met Afrikaans. Die mense het skaam geraak oor Afrikaans praat, en vir mý was dit ’n groot ding want Afrikaans is deel van hulle identiteit en . . . ek het net as kínd al gekyk na die sosiale euwels in onse gemeenskap.

Ons moet die woorde wat ons uitgehaal het van die slawe en die Khoi terugbring in die taal.

“Ek verbeel my ek was nege of tien toe ek vir myself gesê het: Dit is nie reg dat dit so lyk soos dit is nie en dit het my daarna gelei om iets te wil doen om dit te laat verander en genesing te laat plaasvind. En toe word ek bewus van die taal en die mense wat die taal praat en ek besef mense wil meer en meer nie Afrikaans praat nie as gevolg van ’n klomp dinge wat met die taal gebeur het en toe gaan doen ek nou navorsing oor die taal en ek lees toe dit was eintlik die slawe en die inheemse volke en wat in Engels beskryf word as die white people of Europeans in servitude . . . mense sê mos die taal het in die kombuis ontstaan.”

‘Ons komvandaan’

Sy meen die “regte oorsprong” van Afrikaans moet “meer en meer vertel word”.

“Ons moet die woorde wat ons uitgehaal het van die slawe en die Khoi terugbring in die taal. Dit moet regtig ’n onafhanklike taal word. Op skool mag ons nie ‘kooi’ gesê het nie, ons moes gesê het ‘bed’. Kooi is ’n Khoi-woord vir bed. En ek dink toe agterna hoeveel woorde is uitgehaal uit die taal uit.

“En toe ek nou dít het en ek besef daar is woorde wat die slawe en die Khoi gebring het na die taal toe, toe besef ek maar dan moet ek nou meer uitvind van slawerny en ek kom ook op die ding dat die mense die name van maande het en ek besef waar dit vandaan kom.

Die nasionale slawernyverlede-monument in die Oosterpark, Amsterdam. Foto: Elize Zorgman

“En toe grip dit my so dat ek besef het, orraait, nou moet ek hieroor skryf en ek moet dit voordra en ek moet dit uitbring want dit gaan help met die herstelling en ook met ’n soort trots op waar ons vandaan kom. Daarom het ek die gedig ‘Ons Komvandaan’ geskryf. Daarin sê ek nou oor die name van die maande wat aan hulle gegee is. En dan het ek ook gelees die Hollanders het sommer grapperige name gegee – as jy gewerk het vir ’n Fransman dan was jou van Fransman . . . En name uit die Bybel soos Titus, of uit die antieke tyd soos Appollis en Alexander.”

Op so ’n argelose, arbitrêre, onverskillige wyse is jou naam, “ ’n verskriklike intieme” deel van jou identiteit, aan jou gegee.

“Jy was ’n besitting. Jy het geen reg oor jouself gehad nie. Geen reg oor énigiets van jouself gehad nie: jou naam, jou kultuur, jou spiritualiteit. En kyk hoe het dit verlore geraak . . .

“Jy weet ons het diép seergekry. Ons het diép, diép seergekry. Ek dink nie ons mense besef hoe seer ons gekry het nie. Die seerkry manifesteer in wat aangaan . . . in dié gángsterism, in die drug-abuse . . . Ek voel as ons weet wie ons is en wat met ons gebeur het dan gaan dit makliker wees om te genees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.