21 Julie 12:41
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

17°C / 11°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Dinsdag

15°C / 9°C

Wind 29km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 63%

Woensdag

14°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Profiele
En wat van die skrywers?
Murray La Vita gesels met Dan Sleigh
Dr. Dan Sleigh in sy huis in Pinelands tydens ’n vroeëre onderhoud. Foto: Michael Hammond

Die veelbekroonde geskiedkundige en skrywer dr. Dan Sleigh (76) praat oor sy merkwaardige roman 1795 en vertel waarom dit sy laaste een is.

‘Dit is baie jammer, want ek het dit geniet. Maar ek het nou my kop nodig vir ander goeters; fiksie hou my kop te besig.”

Ons sit teenoor mekaar by ’n geelhouttafel in sy huis in Pinelands. ­Voëlgesang is deurentyd deur die oop deur uit die inheemse tuin hoorbaar.

Sleigh tel ’n berig op oor die diefstal van ’n ou skrynwerkersbyl uit die Kasteel in Kaapstad.

“Dit is nie net die renosters en die broodbome en die perlemoen wat gesteel word vir geld nie. Dis ook die kultuurgeskiedenis. En ons bewaringsinstansies – nasionaal en provinsiaal en stedelik – versuim hulle plig ál meer en meer en daarom is dit nodig dat ons, die publiek, meer aandag gee aan bewaring. Ons moet bewaring demokratiseer, ons moet dit uit die regering se hande haal en ons moet dit self doen. So dit word nodig dat ek meer aandag gee aan byvoorbeeld bewaring, maar ook aan geskiedenis.”

Hy doen tans navorsing oor die geskiedkundige Bokbaai aan die Kaapse Weskus.

“En dan het ek nog ’n geskiedenis wat daarna kom. Oor die Kaapse maritieme diensstasie wil ek nog een geskiedenis skryf; en dan is ek klaar. Ek kan hierdeur meer geld verdien in ’n baie korter tyd as met fiksie.”

Hy het vier jaar aan 1795, sy jongste en laaste roman, gewerk.

“Ek moet nou my tyd beter gebruik. My oë is aan die ingee; die dokter sê ek het nog so ’n paar jaar oor, en ek moet dit behoorlik gebruik.”

Wat het Sleigh laat besluit om ’n roman te skryf oor die Britse oorname van die Kaap in 1795?

“Die karakter van William van Reede van Oudtshoorn wat my al jare geïnteresseer het omdat in die Kompanjie se dokumente die heel laaste dokument sy weiering is om oor te gee.”

William is lid van die politieke raad en eienaar van die Kaapse woning Saasveld.

“Hier loop natuurlik nóú nog stories in die Kaap dat hy daar waar Saasveld gestaan het, daar by die Labia in Rheedestraat, nè . . . gaan jy na die Monte Rosa-ouetehuis en daar óp hul terrein staan sy grafkelder.

“Dit is wat vir my in die boek op die idee gebring het dat hy hom teruggetrek het in sy grafkelder. Die storie was dat hy in sy grafkelder ’n lessenaar en papiere en potlode reggesit het sodat ás hy wou kommunikeer uit die dood dan kon hy.

“Hy is ’n soort verkenner van die doderyk wat sal gaan kyk hoe lyk dit daar en dan vir ons laat weet. Ongelukkig het daar geen berigte deurgekom van die verkenner af nie . . .

“Ek het die kêrel goed geken en omdat hy my geïnteresseer het, en veral sy rol in die laaste stryd teen die Engelse en sy verskriklike frustrasie daarna . . . Hy was ’n soort krygs­gevangene in sy eie huis . . .

“Mense is vandag nog verstom oor hoe die Engelse die land so maklik kon oorvat. Dit kon net deur verraad gebeur. En deel van die ontwikkeling van die verhaal is die ontmaskering van [Robert] Gordon, hoof van die Kaapse garnisoen. Ek het dit nie reggekry om binne-in goewerneur [Abraham] Sluysken se kop te kom nie, ek kon net róndom sy kop speel. Maar ek kon binne-in Gordon kom, want ek ken sy agtergrond beter.”

Louise Viljoen skryf in ’n resensie van Sleigh se roman Eilande (2001) daar is min boeke wat sy gelees het wat vir haar so ’n akkurate prentjie kon gee van die Kaap in die tyd van die Nederlandse besetting en “wat aan historiese gegewens so ’n ryk tekstuur kon gee. Met sy noukeurige navorsing en verbeeldingryke vertolking van historiese dokumente in hierdie roman, skep Sleigh vir die Suid-Afrikaanse leser ’n soort geborgenheid in die ‘eindelose ruimte’ van die geskiedenis deurdat jy jouself herken in die ‘bloedige geboorte’ van die kolonie wat hier beskryf word.”

Hierdie waarnemings is ook van toepassing op 1795, waarin hy die Kaap en haar mense van daardie tyd vir ons só lewendig maak.

“Ek sal nie navorsing doen vir ’n roman nie, want dis te vars; jy moet lánk daaroor dink en dit moet deur en deur gedink word. As ek ’n artikel oor hom sou skryf, dan sou ek die navorsing gaan doen en môre die artikel skryf, maar vir ’n roman is dit glad anders.

“Dit is jare se kennis wat bymekaarkom. En ek moet weer die naam van Helena Scheffler noem. Sy is só ’n wonderlike kultuurhistoriese kenner van kleredrag, kós, meubels. Sy het my raad gegee.”

Op die agterplat van 1795 word die roman beskryf as “. . . ’n onvergeetlik unieke herskepping van ’n verby­gegane era, subtiel relevant vir vandag se uitdagings aan die suidpunt van Afrika”.

En dr. Chris van der Merwe skryf tereg in sy resensie: “Die tema wat waarskynlik die sterkste met die hede verbind kan word, is die verlies van taal en identiteit deur verengelsing.”

Sleigh: “Dit wás so, die eerste Engelse bewind het ’n taalbeleid ingestel . . . dit word nou later met geweld afgedwing en dit lei tot, onder andere, die Groot Trek, wat myns insiens een van die grootste rampe was wat hierdie land ooit oorgekom het . . .

“Die verengelsing van skole en later kerke . . . Jy weet, in hierdie NG kerk in Adderleystraat is nog tot in die vorige eeu in Engels gepreek. Die verengelsing het baie lank geduur en was baie diep.

“Wat nou op Stellenbosch gebeur, is myns insiens ’n ónreg; ons gee nie genoeg aandag aan die onreg nie. Ons praat van ínkomste en die student se toekoms en al daai klas van goed, maar wat van die ónreg? Daardie mense is gerégtig op hul opvoeding; hulle het geen kwaad gedoen deur in Afrikaans te wil leer nie. Hoekom word daar teen hulle opgetree? Hoekom word hulle uit die pad gevee? Dat só iets gebeur en dit word deur baie aanvaar.”

Van der Merwe sluit sy resensie só af: “Sleigh se 1795 is ’n grootse roman, ’n helder baken wat toon wát in Afrikaans vermag kan word.”

Sleigh: “Aan die einde van 1795 sit William met ’n Afrikaanse prototeks [nagelaat deur ’n Matteas Behrens, wat William as die Kaap se eerste romanskrywer beskou] en hy sê: ‘Die land het verengels, ek kan dit nie ­publiseer nie.’

“Wat gaan word van al die skrywers? Ék gaan ophou. Wat gaan word van Tafelberg Uitgewers en die jong skrywers wat aan die opkom is? Ek is klaar, maar wat van die ander? Wat word van húlle manuskripte as hierdie huidige verengelsing voortgesit word in die naam van . . . wat noem hulle dit? Vooruitgang?”

1795 bied ’n boeiende blik op die totstandkoming van Afrikaans.

“Die Nederlandse taal is aan die verander die hele boek lank. En Wil­liam gebruik daardie [nuwe] woorde; hy is ’n Renaissancemens; hy verander saam met die tyd.”

Afrikaans het deels tot stand gekom omdat in die tyd van die VOC geen hoërskole aan die Kaap was nie, sê Sleigh.

“Daar was geen taalkundige opvoeding nie. Die kinders het gepraat soos jy op die plaas en op straat en in die slawehuis . . . en die kombuis praat. So dit is die natuurlike taal. Daar was nou jong klerke wat by die Kompanjie begin werk het wat nie geweet het hoe om te spel of [Nederlands] te skryf nie. Hulle het geskryf soos wat hulle praat.”

Sleigh bring ’n stuk bladmusiek te voorskyn wat hy byderhand gehad het terwyl hy aan 1795 geskryf het.

“Hierdie is ’n deel van Mozart se 20ste. Is dit nie pragtig nie? Die note sit soos spreeus op ’n draad. Dis musiek in beeld. Dis só mooi om na te kyk . . . soveel orde. Maar as jy dit lúister, wat hierin is, al die boodskappe wat daarin is in daai klein tekentjies; dis amper soos ’n vreemde taal, ’n geheime taal. En dit is die musikus wat dit kan omsit in klanke, en dan hoor jy wat dit sê; dan praat hy.”

Een van die sprankelendste karakters in 1795 is die Franse weduwee Francine-Marie de Remony.

“In William se huis staan ’n klavier onder ’n swart doek. Dit is natuurlik kulturele dood; daar gebeur níks in die huis nie . . . En nou kom Francine en die eerste ding wat sy sê, is: ‘Kan ons nie daardie ding weer aan die gang kry nie?’ En hulle kry dit aan die gang . . . nou begin die kulturele ­lewe weer in sy huis terugkom.

“My gedagte daar is: Wat ons skep, wat die Mozarts en die Rembrandts en Vermeer, en dié kêrels geskep het – dít is wat ná ons sal bly.

“Ons sal vergaan, en dalk verdwyn die mens van die aardbol af. Maar die mens se sképping is die beste van hom, die beste wat hy op aarde verrig het en dít is wat hopelik behoue sal bly ná ons. As daar ’n laaste vuurpyl na die naaste planeet is, dan is dít wat daarop behoort te wees – die mens se beste skeppings.

“Heel aan die einde dan vra Fran­cine ook nog vir William: ‘Wat ook al gebeur, glo in skoonheid.’ ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.