18 Augustus 22:08
Kaapstad Verander Area

Saterdag

20°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 31km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 81%

Dinsdag

14°C / 11°C

Wind 37km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 64%

Woensdag

13°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 79%

Donderdag

13°C / 10°C

Wind 34km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Profiele
Hanlie Retief gesels met Yolande Korkie
Sy slothoofstuk in bloed geskryf
Yolande Korkie voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: mlungisi louw

Meer as ’n eeu gelede het ’n man die versugting gehad dat nie ’n oomblik van sy lewe deurgebring sal word buite God se teenwoordigheid nie.

Dié jaar is die literêre prys wat na hom genoem is, toegeken aan ’n vrou wat die haglikste, mees traumatiese omstandighede net kon deurgaan met die wete van daardie teenwoordigheid.

Dit is dalk van pas dat die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys toegeken is aan Yolande Korkie in die jaar wat die Skotse dominee wat so ’n groot invloed op die Afrikaanse kerke gehad het, presies 100 jaar gelede dood is.

Hy wou aan Afrika wys dat Christenwees ’n krag ten goede is. Sy en haar man wou dieselfde aan ­Jemen wys.

’n Mens kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie; ’n mens mag nie summier die baba met die badwater uitgooi nie. Dié van ons wat volgelinge van Christus genoem wil wees, moet onsself afvra: het ons ’n Christus-gesindheid in hierdie stukkende wêreld? Teenoor alle mense?

In haar boek, 558 dae, vertel Yolande die ontstellende verhaal van die ontvoering van haar en haar man, Pierre, in 2013 in Jemen.

Hulle is bykans agt maande lank as gyselaar gehou tot sy vrygelaat is.

558 dae ná hul ontvoering is Pierre doodgeskiet toe ’n reddingspoging skeefgeloop het.

Vrees. Angs. Ontbering. Ontnugtering. Selfondersoek. Dit alles loop soos ’n draad deur haar verhaal. En hul geloof, deur alles, in hul God.

“Veral in ’n tyd dat Isis terreur saai en so baie mense neig om alle Moslems oor dieselfde kam te skeer, bied dit ’n nodige perspektief,” het die beoordelaars oor haar boek gesê.

Pieter-Ben (20) en Yolande Korkie by die Cape Epic-fietstoer waaraan hy deelgeneem het.

Vir dr. Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds, is dit ironies dat dit juis Gift of the Givers – ’n Moslem-organisasie – is wat geweldige pogings aangewend het om Pierre te bevry en dat dit die Amerikaners is wat dit laat skeefloop het deur voortydig op te tree. “Die boek wys op die waardes wat Christene en Moslems deel. Sy is heelpad deur Moslems ondersteun en bygestaan en daarin sien ons iets raak: Al het ons nie dieselfde geloof nie, kan ons mekaar respekteer en begrip vir mekaar hê omdat daar dinge is waaroor ons presies dieselfde voel,” sê ­Gaum Vrydag.

Yolande skryf in haar boek hoe ­Pierre dit in een van hul gesprekke terwyl hulle aangehou is, opgesom het: “Terwyl Moslems die kern van Christenskap koorsagtig bly diskrediteer, klim Christene in die harnas van ongeregverdigde stereotipes in: Alle Moslems is terroriste: Wat ’n treurige stand van sake.”

Nie alle Arabiere is terroriste nie. Inteendeel, baie terroriste is nie-Arabiere, beklemtoon sy op haar sagte manier tydens ons onderhoud.

“Stereotipering maak die mensdom blind en weerhou ’n mens van geleenthede om kosbare mense raak te sien.

“ ’n Mens kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie; ’n mens mag nie summier die baba met die badwater uitgooi nie. Dié van ons wat volgelinge van Christus genoem wil wees, moet onsself afvra: het ons ’n Christus-gesindheid in hierdie stukkende wêreld? Teenoor alle mense?”

Presies 1 390 dae nadat sy en Pierre gevange geneem is, het sy gehoor haar boek is met dié prys bekroon.

Yolande gaan op 5 Mei haar prys in Wellington ontvang – die dorp waar Andrew Murray in 1917 dood is.

“Joe, dis so ’n groot eer en ek voel so klein,” sê sy. “Ek sou nie eens kon droom dat die boek in aanmerking sou kom nie. Die Here hou nie op om my te verras nie.”

Haar storie is uniek, maar ook universeel, sê sy. “Baie mense het ook iemand in hul eie lewens wat ‘gevange’ gehou word met emosionele kettings.

“Ek bly verstom oor hoe die Here iets goeds kan laat voortspruit uit iets wat so sleg was.”

Benewens die trauma waarteen hulle moes saamstaan, het haar en Pierre se huweliksverhouding ook ’n indruk op lesers gelaat. “Soveel mense vertel my dat hulle nou van voor af besef hoe kosbaar die huwelik is.”

Sy het gehoor sy ontvang die prys terwyl haar 20-jarige seun, Pieter-Ben, die Cape Epic-fietstoer gery het.

“Dit het so goed gegaan, hy het dit baie geniet.”

Ná Pieter-Ben se wegspring by die Epic is sy terug Bloemfontein toe, want “ons het ’n matriekmeisie en sy moes eers toetse skryf en goed afhandel. Toe is ons saam terug om die laaste twee dae van die Epic saam met Pieter-Ben te geniet. Dit gaan goed met Pieter-Ben en ­Lize-Mari. Sy doen langafstande en op laas jaar se Kersiefees het sy die halfmarathon vir juniors gewen.”

Pierre, wat 24 jaar lank ’n onderwyser by Grey Kollege in Bloemfontein was, het atletiek afgerig. Hy was ook ’n ywerige bergfietsryer.

“Sjoe, ek kan sommer sien hoe hy sou saam hardloop en ry om hulle oor die eindstreep te help! Bitterlik trots! Ek herinner hulle gereeld daaraan.”

Yolande is deeltyds betrokke by die Universiteit van die Vrystaat se opvoedkundedepartement. “Dis ’n nuwe generasie kinders dié, hulle wil eienaarskap neem van hul toekoms, hulle wil ’n verskil maak in hul werkplekke en gemeenskappe.

“Ek geniet die opvoedkunde-skapies wat aan my toevertrou word.”

Die afgelope jaar het dinge vir die eerste keer vir die Korkies begin normaliseer. “Daar was nie meer die konstante stres van wag om Pierre uit te kry nie. Ek en die kinders is nog in verskillende fases van ons rouproses. Elkeen se persoonlikheid is anders en ek het agtergekom hoe belangrik dit is dat ’n mens ruimte vir mekaar gee, want ons kan nie op dieselfde manier rou en dit verwerk nie.”

Maar hulle is sáám en ná die skeiding beteken dit alles. Hulle woon steeds in die meenthuis wat Pierre gekoop het voor hulle Jemen toe is.

Én Mousey, die Arabiese wildekat wat die Korkies in Jemen mak gemaak het, en vriende Bloemfontein toe gestuur het as troos vir die kinders.

“Mousey is nog ewe groot – 7 kg! – en emosioneel. Elke keer as ons ’n tas pak, gaan lê hy in die tas en kla steen en been. Maar hy is nou ’n Vrystater en ‘besit’ die hele meenthuiskompleks.”

Toe hulle gevange geneem is, vertel sy, het sy haar twee kinders “kinderlik en onskuldig agtergelaat en agt maande later het ek hulle volwasse en wys teruggekry. Dit was ’n geweldige skok vir my om hulle só groot te kom kry. Deel van die groei was ook dat hulle nie op hulself gefokus het nie, maar heeltyd op mekaar, en toe op my. En,” lag sy, “hulle het letterlik in postuur verby my en Pierre gegroei.

“Ons dink en gesels graag oor Pierre. Hy is ’n gunsteling-onderwerp in ons huisie. Party dae en weke gaan vinniger as ander. Maar in ’n stadige week pak ons die onthou-oomblikke en herinneringe uit soos mens fotoraampies op ’n kas uitpak. Ons onthou sy teenwoordigheid – sag, liefdevol en ondeund. Hy was ’n stouterd!

“Ons beleef hom dikwels in die ná-reënreuke – nat grond en doringboomblomme. Ons het by sy graf ’n doringboom geplant – sy gunstelingboom.”

Sy beskryf in haar boek hoe diep wanhopig sy gevoel het nadat sy en Pierre tydens die aanhouding ’n dag lank van mekaar geskei was. Soos haar kinders nooit weer naïef na die lewe sou kyk nie, só is dit ook vir haar.

“Ek sou nooit weer die lewe in kinderlike geloof uitdruk en definieer nie.”

En: “Verklarings, stellings, belydenisse in die Here en aangaande Hom, sou ek nooit weer in onbevange eenvoud kon doen nie,” skryf sy.

Hulle was in Desember 2015 weer na die Midde-Ooste om daar te gaan werk.

Sy huiwer om daaroor te praat, want sy wil nie mense blootstel nie.

“Dit was só goed om weer terug te wees, om weer mense te kon help wat in nood is. Daar was ook geen stres om te gaan nie, ons was nie gespanne nie.

“Inteendeel, ons was eintlik erg opgewonde.”

Die Korkies se band met die mense van Jemen is ewe sterk.

“As ’n mens saam met mense swaargekry het – die Jemeniete het bitter swaargekry in die revolusie – ons is sáám gebak in hierdie oond van omstandighede, vir ewig deel van mekaar.

“Ons Jemenitiese vriende hou ons op die hoogte van hoe dit in die land gaan. Foto’s van mooi plekke wat onherkenbaar gelaat is deur die oorlog, ’n skool naby ons huis in Taiz wat deur lugaanvalle vernietig is. Die mense probeer vlug, maar ’n Jemenitiese paspoort is nie welkom elders in die wêreld nie. Vlugtelinge verdrink terwyl hulle in oorlaaide bootjies die seestraat probeer oorsteek.”

Die onophoudelike oorlog in Jemen haal nie meer die nuus nie, sê sy. “Die bloed van daardie mense gaan op die hande van baie lande wees. Hier en daar is nieregeringsorganisasies soos Gift of the Givers wat dit regkry om hulp in te stuur. Maar hier ver aan die suidpunt van Afrika is ons verwyderd van daardie desperate nood en ons gaan voort met ons #issues.co.za.”

As Yolande Korkie die tyd kon terugdraai tot by die oomblik toe hulle as gesin besluit het om in Jemen te gaan werk . . . As sy geweet het wat gaan gebeur, sou sy steeds dat hulle Jemen toe gegaan het? Of sou sy gesê het nee, ons bly in Bloemfontein, dis te gevaarlik daar, te onstabiel . . .

Dit is nie 'n maklike vraag nie en die antwoord is paradoksaal, antwoord sy.

“Ons sal nooit spyt wees oor die Jemeniete wat ons lewens verryk het nie; nooit spyt dat ons so afhanklik was van die Here soos in daardie 558 dae nie.

“Ons wens die storie kon anders geëindig het, dat Pierre nou hier kon wees. Maar die Here het toegelaat dat Pierre se slothoofstuk in bloed geskryf moes word. Daaroor is ons eindeloos hartseer, maar ons sal Hom bly vertrou met die uitkomste. Die antwoord is dus: Nee, ons is nie spyt ons het gegaan nie en gelukkig het ons nie geweet wat gaan gebeur nie . . .”

Vanaand vertel die kosfilosoof/volkskok Peter Veldsman (’n Halfuur met Hanlie op Via – DStv 147, 20:30) van sy dae op ’n kaalgatvlakte en die smaak van komkommer vroegoggend op ’n Klein-Karoo-oggend wat sy lewe vir altyd kom verander het. Dinsdag 19:30 kuier ons by Katinka Heyns in haar huis met die blou tuinhekkie op Onrus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.