27 Julie 00:31
Kaapstad Verander Area

Donderdag

17°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 55%

Vrydag

20°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 23km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

21°C / 13°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Dinsdag

16°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Profiele
Marita oor skryf, seks en sononder

Marita van der Vyver praat oor seks, terreur, ’n geestelike noodtoestand, en hoe sy in Suid-Afrika kom “speel” dat sy ’n skrywer is.

“In sommige beskrywings van seks kan jy humor inbring, maar dit kan ook net ’n manier word om weg te kruip.”Foto: Jaco Marais

Toe sy Misverstand begin skryf, het sy nie geweet daar gaan terreuraanvalle in Parys wees oor die naweek waartydens die verhaal afspeel nie.

“As ek ’n boek begin skryf, is ek nooit seker hoe dit gaan eindig nie. Vir my was ’n groot issue, toe ek begin skryf het, of Willem (Prins, die hoofkarakter) enigsins die naweek gaan oorleef,” sê Marita.

Sy sit op die balkon van ’n statige ou gastehuis in Oranjezicht. In die verte skitter die see. Die lenige Marita is in linne geklee. Wanneer sy haar sonbril in ’n stadium afhaal, is ’n mens skielik opnuut bewus van hoe pragtig haar blou oë is. Sy beklemtoon haar woorde met sterk handbewegings en lag dikwels.

En dan dink jy onvermydelik anders oor jou lewe en of dit die moeite werd is en of jy gaan aangaan en wat jy het om te bied.

In Misverstand, haar jongste roman wat pas by Penguin verskyn het, tref ons die middeljarige Afrikaans skrywer Willem Prins aan wat “ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is” om sy erotiese roman ’n Vrou wat wil, bekend te stel – onder die skuilnaam Lolita Meyer.

Terwyl hy in die stad is, bars terreur los. Dit is die aanvalle van Vrydag 13 November 2015 waarin talle mense, onder wie besoekers aan ’n musiekkonsert in die Bataclan-teater en restaurantgangers, gesterf het.

“Willem is so depressed en jy weet nie wat hy gaan doen nie. En toe kom hierdie aanvalle en toe het ek net gedink daai hele ding van om ’n noue ontkoming te hê . . . daai ding van eintlik is die lewe miskien nie so verskriklik soos wat jy dink nie, want jy is tog verlig dat jy nie dood is nie. Iemand soos hy wat baie depressed is en soos ’n flop voel en wonder of hy nou nog enigiets het om te bied vir die wêreld om hom, dan gebeur so iets waar jy besef oeff! ’n paar minute gelede was ek daar, ek kon in hierdie ontploffing gewees het, ek het dit ontsnap.

“En dan dink jy onvermydelik anders oor jou lewe en of dit die moeite werd is en of jy gaan aangaan en wat jy het om te bied. Dis toe ’n bietjie in daai rigting wat die storie ontwikkel het: wat in ’n survivor se kop aangaan.”

Wat sal jy kies?

Willem sê vroeg in die roman hy wil hê lesers moet van hom weet, sy naam herken, hom ’n rukkie ná sy dood onthou.

“Dis ’n menslike ding, maar ek dink dis meer só by enige vorm van kunstenaar. Dis vrae wat enigiemand wat enige vorm van skeppende werk doen, tog hulself moet afvra.

“Willem se seun sê vir hom daar is mense wat in hul eie leeftyd beroemd is, maar dan tien jaar later is hulle heeltemal vergete. En dan is daar ander mense wat nooit in hul lewe bekendheid verwerf nie, en dan noem hy natuurlik Van Gogh, maar ná hul dood onsterflik word. Wat sal jy kies? En dan dink Willem: As ’n mens maar kon kies.

“Ek het nie ’n antwoord daarvoor nie, maar die meeste mense wat ’n bietjie skeppend is, sou tog seker eerder onsterflik wou wees en eendag onthou word, maar as jou lewe op aarde miserable is en jy kan nie eens een skildery verkoop nie . . . Arme Van Gogh, wat het sy onsterflikheid hom op die ou end gehelp?”

Marita van der Vyver in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Dit lei tot die vraag: Wat is die sin van skeppende werk?

“Daar is seker skrywers wat sal sê, ja, ek wil ’n skrywer word omdat ek beroemd wil wees en dan skryf ek enigiets. Maar die meeste mense wat ek nou persoonlik ken of waarvoor ek respek het, het nie skrywers geword omdat hulle beroemd wil wees nie, maar jy wil wel gelees word, wat tog ’n mate van roem of bekendheid behels, want anders gaan jy net jou dagboek skryf.

“Ek wonder baie oor dié goed. Hoeveel kan jy erken as skrywer dat jy tog streef na ’n mate van bekendheid, nou nie roem nie? En hoe hanteer jy dit, want ons is after all nie TV-sterre nie . . .

“Ek is nie gemaklik om op straat herken te word nie. Ek is verskriklik bly ek woon op ’n plek (Frankryk) waar ek anoniem is. Ek weet nie hoe my vriende in hierdie land dit doen wat op plekke soos Stellenbosch skrywers is waar almal jou die heeltyd erken en in jou mandjie kyk as jy in die supermark staan nie,” sê sy laggend.

“Dis onmoontlik om daardie skrywerspersona die heeltyd vol te hou. Ek voel ek kom hiernatoe vir twee, drie weke en dan speel ek ek is ’n skrywer. Ek act. En dan gaan ek huis toe waar ek ’n heeltemal ander lewe het.”

’n Ander Parys

Dis gevaarlik om oor Parys te skryf omdat daar al so baie oor dié stad geskryf is.

“Ek was wel bewus daarvan. En ek dink as die terreuraanvalle nie gebeur het nie, dan sou dit nog ’n groter uitdaging gewees het om nie heeltemal in clichés te verval nie.

“Maar toe gebeur daar iets, ’n gegewe. Ek wil nou nie klink of ek dankbaar is vir die terreuraanvalle nie. As skrywer kan jy skielik op ’n ander manier na die stad kyk. Dit was anders daarna en almal wat geskok is en die reaksie daarop.

Misverstand, Marita se 13de roman, word deur Penguin as “nuuswaardig en aangrypend” beskryf.

“Dit was ’n gegewe wat ek kon inwerk om ’n nuwe blik op Parys te gee. ’n Nuwe blik wat eintlik nou nog aangaan, want die noodtoestand duur voort in Frankryk en ek dink as die amptelike noodtoestand opgehef word, is daar ’n geestelike noodtoestand in Europa wat gaan aanhou vir ’n lang ruk. Ons hou ons asem op vir die verkiesings wat kom. Dinge is wêreldwyd aan die verander.”

Kon sy van haar eie beskouings oor skrywerskap en die literêre wêreld deur Willem Prins verwoord?

“Beslis, maat ek kon nog verder gaan. I could push it tot op ’n punt waar baie dinge wat ek nie noodwendig self sal erken nie, of wat die meeste skrywers nie sal erken nie, kon ek vir Willem laat erken.

“Byvoorbeeld die hele ding van prysuitdelingsgeleenthede. Ek wil myself nou nie verontskuldig nie, maar ek het darem nog nooit by ’n prysuitdeling gesit en die ander mense gehaat nie. Willem het meer macho-aggressie as wat ek het. Dit was vir my lekker om so ’n karakter te hê wat goed kan sê wat almal seker ’n klein bietjie voel, maar hy kan dit verder druk.”

Hoekom oor seks skryf?

Na aanleiding van Willem se “pers prosa”, wat hy onder die naam Lolita Meyer skryf, praat ons oor die uitdagings van hoe om oor seks te skryf.

“Dit is die moeilikste ding! Willem sê gelukkig skryf hy in ’n klein taaltjie soos Afrikaans, want as hy ooit ’n Bad Sex Award van die Literary Review moet kry, sou hy nie die moed gehad het om weer enige karakter aan ’n ander karakter te laat vat nie, wat nog te sê te laat seks hê!

“Dit is iets wat ek self al gevoel het. Eintlik moet ’n mens dankbaar wees jy skryf nie in ’n wêreldtaal soos Engels nie, want joe! dit moet darem verskriklik wees.

Gelukkig, 25 jaar ná Griet, word Afrikaanse mense nie meer so maklik geskok nie.

“Hoekom skryf ons oor seks? Dit is dan so blerrie moeilik. Dit is soos om ’n sonsondergang te beskryf. Daar is net soveel maniere waarop jy dit kan beskryf. En om op ’n oorspronklike manier ’n sonsondergang te beskryf sonder om in clichés of soetsappigheid te verval . . .

“ ’n Deel van my verweer, van Grietskryf ’n sprokie se dae af, was nog altyd dat humor ’n bietjie help. As jy humor kan inbring, dan gooi jy die leser effens. Maar jy kan nie altyd nie. In sommige beskrywings van seks kan jy humor inbring, maar dit kan ook net ’n manier word om weg te kruip.

“Willem sê: Dit sou lafhartig wees om nie oor seks te skryf nie, want dis ’n deel van ons lewe. ’n Mens moet oor alles kan skryf. Die uitdaging is juis dat dit so moeilik is om te probeer om iets te sê op ’n manier waarop dit nog nie gesê is nie.”

Die roman Griet skryf ’n sprokie was ’n literêre sensasie.

Griet skryf ’n sprokie was ’n literêre sensasie wat al in verskeie tale gepubliseer is.

“Dis nou vir my op ’n manier baie moeiliker, want toe ek Griet geskryf het, was dit so ’n geval van vergewe my, want ek het nie geweet wat ek doen nie. Rêrig, ek het nie toe gedink aan hoe gaan daai mense reageer nie. Jy weet nie eens of die boek uitgegee gaan word nie.

“Nou is dit baie moeiliker en hoe langer jy in hierdie see swem, hoe meer moet jy jouself keer om nie selfsensuur toe te pas nie. Maar gelukkig ook, 25 jaar ná Griet word Afrikaanse mense nie meer so maklik geskok nie.”

Is dit ek?

Die verhouding tussen werklikheid en fiksie en karakters wat op werklike mense gegrond is, kom ter sprake.

“Ek probeer altyd my familie en my vriende beskerm deur hulle nie heelhuids as ’n herkenbare figuur in te bring nie, maar ek dink dis onvermydelik om die heeltyd stukkies van mense te steel.

“Dit is een se bos hare en iemand anders se stemtoon en stukkies wat mense sê. Op die ou end meng jy dit saam en daaruit kom ’n karakter.

“Ek is verskriklik bly ek woon op ’n plek waar ek anoniem is.” Foto: Jaco Marais

“Maar dis vir my ’n fassinerende ding hoe mense dan . . . omdat ons almal onsself anders sien as wat ander mense ons sien . . . Ek begin soms in ’n boek met ’n karakter, iemand wat ek ken, baiekeer nie eens iemand wat ek baie goed ken nie, en dan skryf ek. Dan kom iemand anders daarna en sê vir iemand anders hulle dink Marita het hulle in daai karakter ingeskryf. Dan’s dit iemand waaraan ek glad nie gedink het nie.

“Dan besef ek mense wíl hulself in ’n boek sien en jy sien jouself anders as wat ek jou sien. Dan kan ek mos nie sê: Ja, ek het aan jou gedink, maar jy is nie daardie karakter nie, jy is eintlik ’n ander, minder aangename, karakter,” sê sy laggend.

“Maar ’n mens moet fyntrap. My vriende en familie is vir my baie belangrik en ek dink ons skrywers doen dit altyd en dis iets waaroor ek wroeg. Hoe ver kan jy hulle blootstel? My verweer is altyd dat ek myself meer as enigiemand anders blootstel.

“Ek wil nie opeindig as ’n vreeslike alleen, bitter en twisted ou skrywer wat dalk beroemd is, maar wat geen vriende of familie het nie. Die lewe is vir my uiteindelik belangriker as literatuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.