Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita praat met Alison Botha
Die verhaal van Alison
Alison Botha gesels in Kaapstad oor haar lewe. Foto: Jaco Marais

Alison Botha praat oor ’n nuwe boek en ’n rolprent oor haar lewe wat pas die lig gesien het.

Iets het Alison Botha se aandag getrek. Sy gaan staan en strek glimlaggend haar hand uit na die kooigoed (mpepo) wat op die sypaadjie groei. “Ek moet daarvan in my tuin plant!” sê sy terwyl sy oor die grys blaartjies streel wat deur tradisionele genesers gedroog en dan gebrand word. Die welriekende rook kan ’n omgewing of mens reinig en beskerm, meen hulle. Dit word ook as medisyne gebruik.

Ons stap na haar motor, waar dit langs Kusweg in Seepunt geparkeer staan. Die afgelope twee uur was ons in die Hotel Winchester Mansions, waar Alison gepraat het oor ’n nuwe uitgawe van haar boek, I Have Life – Alison’s Journey, soos vertel aan Marianne Thamm. Daarin is ’n bykomende hoofstuk waarin sy skryf oor wat in haar lewe gebeur het sedert die eerste uitgawe (waarvan al sowat 90 000 eksemplare verkoop is) in 1998 verskyn het.

Sy het ook vertel van die rolprent Alison, ’n dokumentêr met fantasie-elemente, animasie en dele wat gebeure voorstel.

Die vertrekpunt van die boek en die rolprent is wat in die vroeë oggendure van Sondag 18 Desember 1994 op ’n verlate plek buite Port Elizabeth, destyds die 27-jarige Alison se tuisstad, met haar gebeur het.

Dit kom ook ter sprake wanneer sy reg oor die wêreld as motivering­spreker optree.

“Ek het eenkeer probeer om nie oor die gebeure van ’94 te praat nie, want daar is só baie ander dinge wat ek wil sê en wat ek weet mense by sal baat vind.”

Toe sê ’n vrou vir haar: “Alison, as ons die geleentheid kry om iemand wat die Holocaust oorleef het te hoor praat, wil ons nie oor hul lewe sedertdien hoor nie, ons wil oor die Holocaust hoor. Wanneer ons na jou kom luister, wil ons jou storie van oorlewing hoor, want dit is vandag nog net so wonderbaarlik en kragtig.”

Alison: “Toe die vrou dit vir my sê, toe besef ek al dink ék dit is nie meer relevant nie – dit het só lank gelede gebeur – het hiérdie gehoor my nog nie die storie hoor vertel nie. En in ’n sin maak dit al die ander goed waaroor ek wil praat, geldig. Dis amper ’n geval van: ‘Ek moet na hierdie lewenslesse luister, want sy was iewers waarheen ek nie graag sal wil gaan nie.’ ”

Dan vertel die lieflike, slim, snaakse vrou met die groen oë op my versoek hoe sy daardie aand deur Frans du Toit en Theuns Kruger verkrag en verwurg is. En hoe sy tientalle kere in haar buik met messe gesteek is. Sy beskryf hoe haar keel afgesny is.

In ’n stadium sê sy: “Om te hoor dat die akteur wat Frans speel, gesukkel het om te doen wat hy gedoen het . . . Hy het [vir die regisseur Uga Carlini] gevra: ‘Is dit genoeg?’ Sy het gesê: ‘Nee, hy het haar 35 keer in die maag gesteek.’

Dit is ’n skatting, want die dokters kon nie die presiese getal steekwonde bepaal nie.

Dinge gaan met ons gebeur en ons moet net daardeur leef.

“Die waarde van die rolprent lê vir my daarin dat mense daarna kan kyk en sê: ‘Wow! As sy dit kan doen dan kan ék dit ook doen.’ In die rolprent erken ek dinge soos dat ek geskei het; ek het nie daardie gelukkige einde beleef waarvoor almal gehoop het nie. Maar dit beteken nie dat ek nie gelukkig is nie of dat my lewe nou verby is nie. Dinge gaan met ons gebeur en ons moet net daardeur leef. Dít is op sigself heroïes. Jy hoef nie die held te wees wat alles volmaak doen nie. Om die waarheid te sê, dit is méér heroïes om alledaagse dinge te bowe te kom en meer mense kan hulle waarskynlik daarmee vereenselwig. Dít is die kern van ons rolprent.”

Droom sy oor wat met haar gebeur het?

“Nie meer so baie nie. Een van die dinge wat mense vir my ná die aanval gesê het, en wat ek nie wou hoor nie, is dat tyd genees, veral as ’n mens nie ignoreer wat met jou gebeur het nie. As ’n mens dit ignoreer en onderdruk, word tyd amper jou vyand, want dan kom die dinge met mening terug na jou toe.

“Mense vra soms vir my of ek nie die hele storie lewendig hou in my gedagtes deur die hele tyd daaroor te praat nie. Ek dink amper die teenoorgestelde is waar. Deurdat ek daaraan aandag skenk en erken hoe groot dit was, duik dit nie op wanneer ek dit nie verwag nie. Ek het dus nie meer baie nagmerries nie. Maar as ek dit sou ignoreer en sê ek is oor dit en ek wil nie meer daaroor praat nie, mag dit . . . veral as jy nog nie die lesse daaruit geleer het wat jy moes nie. Dis ’n groot belewenis, die selle in jou liggaam onthou dit.

“Ek het wel nagmerries gehad en dit was verskriklik. Maar dit was nooit oor myself en oor Frans en Theuns nie . . . Dit was oor my má wat aangeval word. Dit was nie soos my aanval nie, daar was meer mense in die droom, en ’n aaklige situasie waar ek sonder sukses haar aandag probeer trek en skree: ‘Ma! Iemand jaag jou.’ Dit was die ék wat ek nie daardie aand kon help nie; die ek by wie ek nie kan uitkom nie en sy moet net daar deurgaan.”

Toe sy swanger was, het mense haar gevra of sy nie ’n paranoïese ma gaan wees weens wat met haar gebeur het nie.

“Ek is bly om te kan sê dat dit nié die geval is nie. Noudat hulle [haar twee seuns] ouer word en hulle probleme met vriende het of daar kwessies by die skool is, en hulle moet self daarmee worstel en dit oplos . . . Ek sal daar wees as hulle daaroor wil praat, maar ek hou daarvan dat hulle hul eie lewenservarings het en hul eie probleme oplos. Ek is beslis nie een van daardie ma’s wat dinge heeltyd vír hulle probeer oplos nie.

“Ek voel baie geëerd om seuns te hê, want ek dink ons het ’n probleem en dit is vroue wat daarteen stry. As ek seuns kan grootmaak vir wie dit nie eens ’n kwessie is nie – dat mans en vroue gelyk is, en dat as ’n vrou nee sê, dan ís dit nee.”

Ons praat oor Du Toit, wat, soos Kruger, tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, maar oor wie die kommer bestaan dat hulle mettertyd op parool vrygelaat sal word.

Maar wat hy gedoen het, is hy het my ‘doodgemaak’. Dít was sy werk.

“Hoe hy dit sien, is dat ek nie ’n storie gehad het om te vertel as dit nie vir hom was nie . . . en hy verdien ’n mate van krediet daarvoor. Maar wat hy gedoen het, is hy het my ‘doodgemaak’. Dít was sy werk. Maar die feit dat ek oorleef het en die positiewe uit hierdie aaklige situasie kon ontgin, het absoluut niks met hom uit te waai nie.

“Wat my gehelp het, is dat hulle vir sielkundige waarneming gestuur is nadat hulle gevang is en dat albei as psigopate beskryf is. En in my eie terapie het ek baie tyd daaraan afgestaan om te probeer verstaan wat dit beteken en wie hulle is. Hoekom sou hulle dit wou doen? En ek het werklik daarmee gesukkel om te verstaan hoe iemand sulke gedrag kan regverdig.

“Een sielkundige het toe vir my gesê: ‘Alison, indien jy dit kan regkry om te snap wat ’n psigopaat is, het jy in ’n sin amper die deur na aanvaarding daarvan oopgemaak. Sê liewer vir jouself jy kan dit nie verstaan nie.’ So ek probeer nie verstaan hoe hulle dink nie.”

Sy is gewoonlik uitgeput nadat sy voor mense gepraat het.

“Maar op ’n goeie manier. Ek voel of ek gegéé het. Ek het myself leeggemaak en ek wíl leeg voel. Ek raak steeds op my senuwees voordat ek met mense praat; daar is baie energie en adrenalien betrokke, maar ek wíl so voel.”

Sy probeer mense aanmoedig om ook húl stories te deel.

Ek het begin kruip. Ek moes my ingewande vashou met ’n hemp wat hulle uit die motor gegooi het.

“Ook tot voordeel van ander mense; sodat ons daaruit kan leer. Ons hoef nie almal ’n near-death-ervaring te hê om te leer wat ek daaruit geleer het nie; laat ek dit dus met jou deel sodat jy nie daardeur hoef te gaan nie. As jy kanker gehad het, deel dit met my, sodat ek nie ook kanker hoef te kry om daardie dinge te leer nie. As jy gay is en uit die kas klim, deel dit met my, want ek is nie gay nie en ek wil weet hoe dit is; as jy ’n verkragting oorleef het, déél dit sodat ek ’n idee kan kry . . .

“Dis wat ek op my eie klein manier probeer doen. Deur te praat en my gesig vir mense te wys, was ek een van die eerstes wat dit gedoen het. Dis vir my lekker om te hoor dit het ander mense gehelp.”

Dan praat sy weer oor die nag toe sy deur haar aanvallers vir dood agtergelaat is.

“Ek het begin kruip. Ek moes my ingewande vashou met ’n hemp wat hulle uit die motor gegooi het. Dit was moeilik en ek het ál swakker geword. Ek onthou ek het in ’n stadium ophou kruip en gewens ek kan net sterf. Dít was aan die begin altyd vir my die moeilike deel om met mense te deel.

“Ek is deur ’n ma grootgemaak wat vir my gesê het: ‘Alison, jy is spesiaal.’ Ek het dus grootgeword met ’n sterk selfwaarde: Ek is uniek in hierdie wêreld en daarom is ek spesiaal.

“As ek nou aan daardie nag terugdink, is dit vir my moeilik om aan myself te erken dat ek wou sterf, omdat ek myself altyd gekoester en liefgehad het. Terwyl ek daar gelê en wens het ek kan sterf, het ek besef niemand gaan my daarvoor veroordeel nie . . . En toe het ek besef ek is kosbaar genoeg om voor voort te kruip . . . om aan te hou lewe.”

  • Alison is tot Sondag op die Encounters-rolprentfees in Kaapstad en Johannesburg te sien en word ook op verskeie rolprentfeeste in die buiteland vertoon. Van 12 Augustus kan dit in teaters landwyd gesien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.