26 Junie 21:08
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

15°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 62%

Donderdag

16°C / 9°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

15°C / 12°C

Wind 20km/h

Reënval 9mm

Humiditeit 81%

Saterdag

16°C / 10°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

16°C / 12°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Profiele
Tobie: Ná 4 dekades weer Lafras

Tobie Cronjé het mense weer aan die praat met sy vertolking van die naamrol in die rolprent Die rebellie van Lafras Verwey. AJ Opperman het met hom oor dié rol, sy loopbaan, komedie en die gelaaide woord type casting gesels.

Tobie Cronjé as Lafras Verwey.

Jy moet toegee dat Cronjé veelsydig met komiese karakters is. Sy loopbaan skep die indruk dat die definisie van ’n akteur moontlik van mens tot mens verskil. Soms volg ’n loopbaan ’n sekere roete.

Cronjé het baie humoristiese karakters se uitrustings (baie daarvan rokke) gedra. Tog is daar verskillende lae aan dié karakters en elkeen verskil.

Die gesprek ontaard vir ’n wyle in die uitruil van sy tonele wat aandoenlik was (is), of watter een die lekkerste was.

Iets van die manier om waar te neem, wat op universiteit deel van sy dramastudies was, is te bespeur. Wanneer die water voor hom neergesit word (die swart Americano nog op pad), val die horlosie wat ’n ent van ons staan hom op: “Dis die sweetste horlosietjie wat hier staan. Is dit nie mooi nie?”

Hy kom nie so gereeld uit nie.

“Ek gaan nêrens gereeld nie.”

Tog is dit nie vir hom moeilik in ’n openbare plek nie.

Miskien was daardie lesinglokaal destyds aan die Universiteit van Pretoria die eerste openbare plek toe Cronjé hom aan die res van die klas moes voorstel.

“Ek het gesê ek is Tobie Cronjé van Germiston – en toe bars almal uit van die lag. Ek het toe gedink, hoekom is Germiston snaaks?”

Komiese karakters met erns

Anna Neethling-Pohl en Neels Hansen was onder andere sy dosente.

“Dit was maar ’n begin om te hoor hoeveel selfvertroue almal het, watse soort stem jy het en so aan. Dit maak vir my baie sin.”

Hy beaam dat sy komiese karakters ook dikwels ’n erns het, soms ook iets tragies soos Andries in die televisiereeks Onder draai die duiwel rond.

“ ’n Mens voel jammer vir hom ook. Hy is ’n ou sukkelaar. Dan my karakter in Amalia – hy was baie meer . . . Wat’s die ou se naam nou weer? Sakkie . . . Dankie!” val hy homself in die rede.

“Hy het gemaak asof hy oukei is. Hy was baie meer emosioneel. Andries kan nie baie goed funksioneer nie. Sakkie is eintlik baie oukei, net baie alleen. Hy is nader aan Lafras.”

Lafras is meer intellektueel.

Die gesprek duur sowat agt minute voordat die titelkarakter wat hy vertolk in die rolprent Die rebellie van Lafras Verweyter sprake kom. Simon Barnard is die regisseur, sy ma, Katinka Heyns, die vervaardiger, en sy pa, die ontslape skrywer Chris Barnard, het die teks geskryf. Simon het die teaterteks vir die rolprent gemoderniseer.

“Lafras is meer intellektueel,” sê Cronjé.

“Hy is ’n baie ernstige karakter, maar het tog komiese oomblikke.”

Cronjé moes aanpas. Van die verhoog (hy was toe ook Lafras) na rolprent meer as vier dekades later. Die ouderdom van die karakter verskil ook.

“Dis ook die regisseur. Destyds het Louis van Niekerk die regie van die toneelstuk gedoen. Hy kon my komiese moontlikhede gebruik. Simon het die heeltyd vir my gesê: ‘Nee, moenie soontoe gaan nie, hou jou gesig stiller, moenie jou mond so trek nie. Moenie jou wenkbroue lig nie.’

“So, hy het my baie meer bewus gemaak van die ernstige deel, waarvoor ek baie dankbaar is, want dit het ’n nuwe deel vir my oopgemaak.”

Hy verstaan nou waarom hy nie Hamlet was nie

Die vraag is nog nie eens klaar nie toe sê hy met ’n kopknik ja.

Ons praat oor type casting.

“Ja,” en die woord wil-wil soos ’n lag klink.

“Die meeste rolle was komies. Maar later, toe ek self begin regie doen, het ek begin kyk hoe regisseurs na akteurs kyk. ’n Mens sal nou en dan ’n kans vat en hom teen sy soort cast. Maar dit maak tog sin om die klaarblyklike deel van ’n akteur te gebruik. En oor ek lank en maer is en ’n lang kakebeen het, is dit hoe dit is. Toe ek jonk was, het ek gewonder hoekom hulle my nie wil cast as Hamlet nie. Later het ek verstaan.”

Hy is gewaarsku dat hy as Lafras baie moet fietsry. Cronjé doen onder meer tai chi.

“Ek glo dit help, maar ek voel altyd ek word deur die repetisieproses vir ’n spesifieke rol fiks. En ek het voor die tyd geoefen.”

Hy word volgende jaar 70.

“Ek moet ook bieg: Met die fietsrytonele . . . Die een deel is ’n wille, woeste opdraand en ek het ses opnames gedoen. En toe sê ek vir Simon ek sal nog een doen en dan is ek klaar.”

Cronjé sê wel as ’n mens om jou rondkyk, is daar baie mense van sy ouderdom wat fiks is.

Hy praat oor ’n fietsrytoneel op die maat van die musiek wat Lafras in sy kop hoor.

Ek kan in elk geval nie onthou wat ek in 1975 gedoen het nie.

“Ons moes probeer dat my bewegings met die musiek sinchroniseer. So hulle het dit vir my probeer speel. Eerstens dink ek daar was ’n gehoorstuk in my oor, wat nie wou werk nie, daar was tegniese probleme. Dan het hulle dit ook vir my gespeel oor ’n mikrofoon op ’n bakkie wat voor my uitry. Dit was ’n moeilike toneel.”

Meer as vier dekades later en ’n ander medium.

“Ek kan in elk geval nie onthou wat ek in 1975 gedoen het nie. Ek onthou die dirigeer van die orkes. Dit is vir my nogal jammer dat dit nie in die fliek was nie, want hy verbeel hom hy is ’n dirigent en dit sou nice kon wees as die fliekgangers regtig die orkes kon sien wat hy hom verbeel.”

Cronjé wou, soos Simon Barnard, hê dat mense na Lafras kyk as hulself, eerder as iemand anders.

“Daar is ’n toneel waarin hy van ’n tuba as ’n laer blaasinstrument praat. By die werk is hy die tuba. Maar partykeer vlieg hy soos die fluit. Dis vir my wonderlik. Dis baie mooi beskryf.”

Cronjé kan klavier speel; anders as Lafras wat, sy orkes-aspirasies ten spyt, nie ’n instrument kan bespeel nie.

Vir Cronjé was die musiek vreeslik belangrik. Tog was dit moeilik vir Lafras om uit die fietswiel se geskree by die ritme en melodie uit te kom.

En Cronjé begin die wysie neurie terwyl hy daaroor praat.

Kyk na mense met ’n ‘wye oog’

Op die vraag of hy die huidige weergawe van Lafras op die verhoog sou wou vertolk, antwoord Cronjé dat hy graag die regie wil doen.

Weer val die kenmerkende glimag op.

Tog sal hy eers ’n rukkie daarmee wag, sê hy.

Later vanjaar vertolk hy die rol van Geppetto, nie ’n vrou die keer nie, in Janice Honeyman se pantomime Pinocchio. Dikwels staan hy in dié produksies op die hoë hakke van ’n vroulike karakter, grimering, pruik, houding en al.

Tobie Cronjé. Foto: Antonia Steyn/ US Woordfees

Hy is onseker oor wanneer laas hy ’n ernstige karakter op die verhoog gespeel het. Hy onthou ’n rol in Othellolank gelede.

Henry in die toneelstuk My Fat Friend (2016) het hy eintlik as ’n ernstige karakter benader.

“Ek het dit so gesien: Hy is ’n grapmaker. Hy steek sy pyn daarmee weg. Baie queens is geneig om bitsig en skerp en eintlik aaklig oor hul eie pyn te wees. Ek het dit probeer uitdruk. Dit was nie baie suksesvol nie,” sê hy laggend.

’n Mens vermoed hy vereenselwig hom met Henry se benadering.

“Ek dink aan die begin van my lewe . . . Ek wou nie maer wees nie. Ek wou mooier wees. Ek wou dalk straight wees ook.”

Ook dié sin verander in ’n effense giggel.

“Deesdae is dit vir my hoegenaamd nie ’n probleem nie. Maar ek kan verstaan dat ’n mens so sou dink. Toneelstukke wat dit belig, is vir my wonderlik, want dit verduidelik aan die kykers en die gehore hoe so ’n persoon voel en hoekom so ’n persoon só funksioneer.”

Cronjé moes die dag ná sy pa se begrafnis op die stel van die televisiereeks TJ7 wees om te verfilm.

Sy lewensmaat, William Pretorius, se roudiens was op ’n Saterdag in 2007 en die dag daarna moes hy Kaap toe vlieg om aan Lawwe Geluide te repeteer.

Dit was ’n geval van the show must go on.

Jy leer baie van jouself. En jy leer van mense en hoe mense dink.

“Ek het besef dat ek moet fokus. Die lewe gaan aan. Dis ongelooflik hoe sulke ervarings ’n mens help as jy mooi daarna kyk. Aanvanklik dink jy jy wil dit nie doen nie, maar as jy daar déúr kan kom . . .”

Dit herinner my aan ’n opmerking van Cronjé voorheen dat drama eintlik ’n verpligte vak op skool moet wees.

“Jy leer baie van jouself. En jy leer van mense en hoe mense dink.

“Vir my . . . ta’ Anna-hulle het ons aangemoedig om met ’n wye oog na mense te kyk. Hulle het jou aangemoedig om deur die nag in ’n hospitaal se ongevalleafdeling te gaan sit. Dit was ’n projek wat ons moes doen. Net om na mense te kyk wat opdaag en mense se angs te aanskou. Omdat jy nie siek is of familie daar het nie, kon jy dit objektief inneem.”

Hy speel dikwels klavier, al hoe meer soos hy ouer word.

“Dit word vir my meer en meer ’n verbintenis met ’n ander deel van my. Dis die uiting van sekere gevoelens wat ek het, wat ek nie weet hoe om anders te beleef nie.”

Tobie Cronjé voor die klavier in 1980.

Hy en sy suster speel Bach se eerste klavierkonsert, die eerste beweging, op twee klaviere. Hy moet dit egter minstens drie keer per week doen.

Hy lees op die oomblik ook baie filosofieboeke.

“En ek hou van wetenskapfiksie. Baie.”

Die laaste woord sê hy harder.

“Dis vir my so soortgelyk aan teater omdat dit metafories is. Hulle gebruik ’n milieu wat vreemd is vir ons om ’n baie gewone situasie uit te beeld. En dit gee daai gevoel van perspektief en objektiwiteit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.