Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Sielsgoed
Feesgangers moet goeie maniere leer

By die Woordfees het Gielie Hoffmann opnuut gesien hoeveel mense nie teater-etiket verstaan nie. Hy gee sewe riglyne.

Gielie Hoffmann.

Tydens die Woordfees het ek Stellenbosch platgeloop. Ek was lanklaas so begeesterd oor Afrikaans, talent en Suid-Afrika as geheel.

Saartjie Botha en haar voorgangers het dit reggekry om ’n fees te skep waar mense geld betaal om goeie stukke te gaan kyk en nêrens word jy deur massas vertrap nie. Die enigste deel wat amper soos ’n tradisionele feesterrein voel – biertente, doef-doef-musiek en dronk feesgangers – is die Plataan-kafee.

Nogtans het ek ’n paar keer tydens die Woordfees ongemaklik gevoel, want Stellenbosch is ’n borrel in ’n borrel. Dit is ’n mooi dorp met gawe mense en goeie vermaak, maar daar is iets só uit voeling met die regte wêreld dat dit moeilik is om jou vinger daarop te plaas.

Ek het telkens geskrik vir die manier waarop feesgangers met Woordfees-personeel praat, of dit nou pendelbussie-bestuurders of kaartjieverkopers was. Keer op keer was dit moeilik om te aanskou.

Die meeste van die feesgangers is wit en middeljarig; die meeste van die personeel bruin en jonk. Daar is geen verskoning om neerbuigend met iemand anders te praat nie. Sonder uitsondering was die personeel vriendelik en bekwaam. Die meeste feesgangers was darem ook bedagsaam, maar dit bly sleg om te sien hoe rassisme, klassisme en seksisme in doodgewone geselsies deurskemer.

Ek was baie beïndruk met die gehalte van die produksies en die talent in die kunstegemeenskap. Ek sal elke liewe mens aanmoedig om hierdie talent te ondersteun en só jou persoonlike denkwêreld te vergroot. Want iets gebeur as jy in ’n teater gaan sit. Ek is elke keer meegevoer, ontnugter, verras, ontstel, deurmekaar gelaat en ja, vermaak en geïnspireerd.

Ongelukkig is daar mense wat nie weet hoe om hulle in ’n teater te gedra nie. Onthou, dis ’n ruimte wat jy met ander mense deel. Jy moet hulle in ag neem en ook die kunstenaars wat lank voorberei het. ’n Paar goed het vir my uitgestaan:

1. Wees betyds. Loop betyds in. Gaan sit op die regte sitplek. Skrop jou nes. Groet jou bure. Blaas jou neus. Doen alles moontlik om gemaklik te wees voor die vertoning begin.

2. Skakel jou selfoon af. Soos in morsdood. Los hom af. As daar iets belangrikers as die vertoning is, moet dit dan liewer nie bywoon nie. Elke skerm wat flits of luitoon wat raas, doen afbreuk aan jou medeteatergangers se ervaring.

3. Moenie geselsies maak nie. Niemand kan saggies fluister nie. Veral nie daai wat dink hulle fluister saggies nie. Worstel maar self met jou vrae, luister mooi en gesels ná die tyd buite die teater daaroor.

4. As jy wil eet of drink tydens die vertoning, oefen voor die tyd hoe. Want gorrel- en slukgeluide en ’n sopperige gekou in iemand anders se oor is nie goeie maniere nie. Waar moontlik, los eerder heeltemal die verversings. En as daar drie springmielies in die hoek van die sakkie vasgevang is, los dit vir ná die tyd.

5. Sit enduit. Loop voor die tyd ’n draai. Beplan jou program so dat jy die hele vertoning kan kyk. Elke keer as iemand opstaan, struikel, skuifel en uitstap, steur jy die ander teatergangers en die akteurs. Dit toon ’n gebrek aan respek. En as jy nie saamstem met iets in die stuk nie, is dit nie nodig om uit te stap nie. Kyk dit klaar. Teater is ’n veilige ruimte vir gevaarlike idees.

6. Gaan kyk teater om dit te geniet, nie om dit te beoordeel nie. Geniet elke stuk vir wat dit is; om appels en pere te vergelyk is onnodig. Onderskei tussen feite en fiksie. ’n Akteur speel ’n rol. Hy/sy gee nie sy/haar mening oor iets nie.

7. As iets goed was, klap hande. As dit baie goed was, staan op. En as jy jouself nie kan keer nie, gil maar.

* Hoffmann werk as lewensafrigter met atlete, leiers en entrepreneurs. Hy woon in Pretoria.

Meer oor:  Gielie Hoffmann  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.