27 April 09:03
Kaapstad Verander Area

Donderdag

20°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Saterdag

27°C / 18°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 39%

Sondag

20°C / 17°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

21°C / 15°C

Wind 28km/h

Reënval 0

Humiditeit 67%

Sielsgoed
'Godsdiens hoort juis nié net in private lewe'

Godsdiens móét ’n openbare aangeleentheid wees. Die gedagte dat dit tot die private lewe gerangeer kan word, is uiters gevaarlik, skryf Nico Botha.

Prof. Nico Botha.Foto: Deaan Vivier

Alida Kok, dosent in politieke wetenskap, het in ’n rubriek te velde getrek teen ’n ritueel in Unisa se senaatsaal om koloniale geeste uit te dryf.

Die gebeure wat met rook en walm gepaard gegaan het, was deel van Unisa se somerskool oor dekolonialiteit.

Die fokus van die bespreking hier is nie ’n beoordeling van hoe sy dekolonialiteit verstaan of misverstaan nie, of dat sy die ritueel waarna verwys word as waansin afmaak nie, maar eerder ’n taamlik obskure stellinkie in haar artikel wat soos volg lui: “Godsdiens hoort in die private lewe.”

Hierdie uiters aanvegbare stelling is kennelik misgekyk deur ander akademici wat haar loof vir haar kritiek op dekolonialiteit en die “waansin” van die ritueel.

Op haar stelling kan ’n mens heel lakonies reageer met iets soos: “Regtig?” ’n Kollega in die departement teologie aan Unisa het op grond van die stelling sinies opgemerk: “Daarmee skryf sy ons en dié in die departement godsdienswetenskap uit die openbare tersiêre instellings uit.”

Wat maak die stelling dat godsdiens in die private lewe hoort so aanvegbaar en tegelyk uiters gevaarlik?

Voordat ’n mens hierop probeer antwoord, is dit dalk belangrik om net eers toe te gee dat die Suid-Afrikaanse Christendom wel die indruk wek dat die stelling waar is in die wyse waarop ons ’n na-binne-gekeerde geloof en kerk gevestig het.

Die land het ’n broertjie dood aan die soort geprivatiseerde, burgerlike godsdiens wat soos ’n sousie oor gruwelike wandade gegooi word.

’n Sprekende voorbeeld hiervan is dalk die onvermoë van die Christendom om in Suid-Afrika ’n duidelike profetiese reaksie oor die toestand in die land te formuleer. Intussen floreer sommige kerke (wat lidmaattalle en geldelike bydraes betref) sonder dat hulle enige noemenswaardige uitwerking op die samelewing het.

Desondanks is die godsdiens per definisie bedoel om ’n openbare saak te wees wat radikaal op die wêreld gerig is. Die gedagte dat godsdiens tot die private lewe gerangeer kan word, skep ’n uiters gevaarlike digotomie. ’n Digotomie ontstaan wanneer ’n mens dinge wat wesenlik bymekaar hoort, van mekaar skei.

Daarom verstaan ons nou nog nie hoe iemand wat ’n liefdevolle ouderling in sy kerk was en tuis ’n baie goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders, in die naam van apartheid ander mense kon martel nie.

En daarom verstaan ons nie waarom ons president die Bybel aanhaal en die mooiste dinge kwytraak oor ’n sorgsame samelewing, maar homself aan ernstige vorme van korrupsie en staatskaping skuldig maak nie.

Geloof moet uitgeleef word

Die Christelike godsdiens is by uitstek ’n openbare godsdiens. Allereers omdat Jesus Christus, die sentrale figuur van die Christelike godsdiens, ’n openbare persoonlikheid was wat ten aanskoue van ander mense gevoed en genees het, hul skuld vergewe het en op grond van ’n heilige verontwaardiging oor die vertrapping en uitbuiting van arm mense in die tempel die sambok ingelê het.

Dis tog ondenkbaar dat sleutelwaardes van die ryk van God soos geregtigheid, vrede en vreugde tot die private sfeer beperk sou word.

Uiteindelik sou hy in die openbaar tereggestel word te midde van blaffende, tjankende honde en vloekende mense.

Sedertdien weet ons dat die Christelike godsdiens nooit bedoel was om geprivatiseer te word nie – die lig mag nie onder ’n maatemmer weggesteek word nie.

Ook die waardes van die ryk waarvoor Christus sou sterwe, sou totaal onsinnig wees as die bedoeling nie was nie dat dit gestalte behoort te kry in die manier waarop die samelewing ingerig moet word.

Dis tog ondenkbaar dat sleutelwaardes van die ryk van God soos geregtigheid, vrede en vreugde tot die private sfeer beperk sou word. Anders gestel, hierdie waardes wat eintlik aan die sekulêre lewe ontleen is, maak eintlik in godsdienstige terme net sin as hulle in hul sosiale betekenis uitgeleef word.

Nie net die Christendom nie, maar alle ander godsdienste gaan van die standpunt uit dat die geloof slegs geloofwaardig is as dit uitgeleef word.

Geprivatiseerde, burgerlike godsdiens

Suid-Afrika as ’n land waar ons daagliks hoor van die gruwelikste moorde wat gepleeg word waarin kinders hul ouers en grootouers verloor, sal slegs ten goede verander wanneer die godsdiens uit sy Rip van Winkel-slaap wakker skrik en toetree tot die openbare arena.

Die land het ’n broertjie dood aan die soort geprivatiseerde, burgerlike godsdiens wat soos ’n sousie oor gruwelike wandade gegooi word. Eers wanneer die godsdiens uittree uit die rand van die samelewing om openbaar ’n profetiese getuienis te lewer, sal dinge verander.

Teologie aan ’n instelling soos Unisa byvoorbeeld, kan ’n stewige bydrae lewer deur te sorg dat die godsdiens in die algemeen en die kerk in besonder toegerus is vir die taak. Maar dan moet dit die soort teologie wees wat die opvatting dat godsdiens vir die private lewe is, grondig weerspreek.

* Prof. Nico Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.