18 Augustus 14:28
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 8°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Saterdag

19°C / 10°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Sondag

18°C / 11°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 81%

Dinsdag

12°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 19mm

Humiditeit 69%

Woensdag

14°C / 10°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 76%

Sielsgoed
'Ek het nie meer vir Jesus kos uitgesit nie'

Toe sy klein was, was Oukersaand vir haar ’n towerwêreld toe sy kon glo in die onmoontlike. Maar namate sy ouer word, het dit ’n merker geword vir verlies, skryf Willemien Brümmer.

Skets: Hanlie Malan

Toe ek klein was, was Kerstyd om soos Alice deur die spieël te klim. Dit was ’n wonderwêreld vol liggies en geheime en die illusie van ewigheid.

Ek het letterlik die dae afgetel totdat ons huis, bekend as die Mad Hatter’s Castle, die episentrum van die uitgebreide familie se Kersfeesvieringe geword het. Ooms en tannies en niggies en nefies het van heinde en ver toegesak op my ma, wat soos ’n Moeder Maria die middelpunt van die Kersgeharwar was. Snags het hulle op matrasse op die vloer geslaap en bedags was daar ’n gedrang van feesdriftiges wat die laaste voorbereidinge getref het vir Oukersaand.

Op dié dag sou ons gewoonlik vroeg al begin oefen aan ons Kerskonsert waarby elkeen wat kon viool speel of sing of blokfluit speel, ingetrek is. My pa het hom in sy donker studeerkamer, weg van die familie, gaan toesluit om die Kersverhaal uit te dink.

Die denneboom in die hoek van die sitkamer was ’n spektakel van kerse en papierengeltjies en toegedraaide gemmerkoekies wat ons self gemaak het en ’n berg presente wat gewoonlik al teen vroegdag onder die boom opgehoop het.

Kos was nooit regtig ’n faktor nie. Voordat die vieringe begin het, was daar gewoonlik pizza of sop wat jy met vlinders in jou maag ingewurg het en as die verrigtinge klaar was, was daar altyd tuisgemaakte gemmerbier, Kersfeeskoek en taai Rice Krispies-koekies.

Ek onthou die gewyde atmosfeer van die lied, asof die skoonheid van ’n Kaapse somersaand en die misterie van ’n man wat in ’n stal gebore is, daarin ineengevleg was.

Iewers deur die loop van die aand het ek altyd weggeglip en ’n kaastoebroodjie gemaak en ’n glas melk geskink en dit vir Liewe Jesus in die tuin neergesit. Jy moes immers op jou verjaardag kos kry. Ek het gedink Hy sou, vermom as ’n bergie, van huis tot huis gaan en met ’n sekere heimwee deur die helder verligte vensters na binne kyk.

Wat hy by ons sou sien, was ’n groepie kinders en grootmense wat teen skemertyd om die klavier in die eetkamer saambondel, met die res van die familie wat op stoele, op skote en op die vloer sit om te luister na “Stille Nag”. Dikwels was dit met klavier- of blokfluitbegeleiding en terwyl die note van “soete hemelse rus” deur die lug draal, het my ouma soms saggies begin huil.

Ek onthou die gewyde atmosfeer van die lied, asof die skoonheid van ’n Kaapse somersaand en die misterie van ’n man wat in ’n stal gebore is, daarin ineengevleg was. Daar was ook ander liedere, soos “O Jesuskind rein, o Jesuskind soet” en “Welkom, o stille nag van vrede” wat jou na ’n toorwêreld gevoer het waarin jy vir ’n oomblik in die onmoontlike kon glo.

Ná die singery was daar gewoonlik stories – ’n “kopstorie” deur my pa en ’n boekstorie deur my ma, soos die verhaal van die vierde wyse man. My oom Willem het dan gewoonlik uit die Bybel gelees en gepreek en gebid – en daarna was die jagseisoen oop.

Ek sien dit nou nog voor my: My ma wat voetjie vir voetjie na die Kersboom loop en die kinders wat hul asem ophou. In ’n dramatiese stemtoon roep sy die name op die blink geskenkpakkies uit totdat die voorhuis ’n ontploffing van speelgoed, boeke, Kersklere en geskeurde papier is.

Die Kersgeskenke was soos skatte wat jy opgegaar het waarmee jy die hele Kersdag kon speel, maar niks was duur of uitspattig nie.

Merker vir verandering en verlies

Soos ander feeste, het Kersfees egter ’n barometer geword van die tye, ’n soort merker vir verandering en verlies.

Ek onthou die dag toe my ouma Sarie nie meer ná die Kerssang my hande kom vat en gesê het: “Kind, julle sing so mooi” nie. Eers het sy met ’n loopraam begin opdaag en later het sy saam met haar oppassers in haar klein woonstelletjie in Plumstead gebly. Tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi het sy op 100 jaar stil heengegaan na ’n wêreld waar dit vir altyd Kersfees is.

Deur die loop van die jare het die geskenke minder geword, want iemand het die reël ingestel dat jy net vir een ander persoon ’n geskenk van R100 mag koop. Mettertyd het die familie uitmekaar gespat namate elke gesin liewer by vakansieplekke begin uitspan het.

Ek het nie meer vir Liewe Jesus kos in die tuin uitgesit nie, want ek het nie meer in hom geglo nie.

Vir my het die Karoo-Kersfeeste op ons plasie by Ladismith hul eie bekoring gehad, maar skielik was die towerformule verbreek. Omdat daar nie ’n klavier of nefies en niggies met blokfluite en viole was nie, was die Oukersaande stil. Namate my broers met ywerige kokke getrou het, was die Kerstafel skielik gelaai met eend en kalkoen en braaiaartappels en slaaie.

Ek het nie meer vir Liewe Jesus kos in die tuin uitgesit nie, want ek het nie meer in hom geglo nie. Daar was ook nie meer dominee-ooms om te bid of die Bybel te lees nie.

En toe, een Desember kort ná Madiba se dood, word veelvuldige miëloom, ’n skaars soort kanker van die plasmaselle, by my ma gediagnoseer. Skielik het Kersfees sy glans verloor. Ek sal nooit vergeet hoe ek saam met haar Kersgeskenke gaan koop het en sy skaars die 50 m vanaf die boekwinkel tot by die motor kon stap nie.

Ons het by ’n Chinese restaurant gaan sit om te rus, maar sy was uitasem en bleek soos ’n honger vampier.

Daardie Kersvakansie het ek my ma soos ’n verdwaalde hondjie agtervolg. As sy in die dam gaan swem het, het ek op die wal gesit en elke haal van haar borsslag dopgehou.

Vir ’n oomblik het ek weer die beeld van Jesus onthou wat binnetoe kyk na die lag en die lig, maar altyd met ’n mate van heimwee.

As sy geëet het, het ek haar aangemoedig om nóg te eet en as ons gaan stap het, het ek haar tree vir tree gesond gewens.

Daardie Oukersaand was stiller as gewoonlik. My pa se storie was stadig en dwalend en in plaas van my ma, het ek die presente uitgedeel.

Met ete het my ma en pa aan die ver kant van die tafel gesit. Hulle het nie juis in die gesprek gedeel nie en vir ’n oomblik het ek weer die beeld van Jesus onthou wat binnetoe kyk na die lag en die lig, maar altyd met ’n mate van heimwee.

Dié Kersfees het in die teken gestaan van verganklikheid. Die Oukersaande van my jeug was slegs ’n vae herinnering aan iets onmoontliks soos feetjies en die tandemuis.

Die mirakel van lewe

En toe, presies ’n jaar ná my ma se diagnose, trou ek – en sowat vier maande later gebeur die mirakel van lewe. ’n Seun word vir ons gebore kort voor middernag en sy krete klief soos ’n “Stille nag” deur die ou Kaapse Volkshospitaal.

Skielik word my ma se wange rooier en ek begin stadig maar seker weer in wonderwerke glo.

Ek verlang steeds na die Oukersaande van my jeug, maar vir die eerste keer is my eie versugtinge nou op die agtergrond.

Ek verlang steeds na die Oukersaande van my jeug, maar vir die eerste keer is my eie versugtinge nou op die agtergrond.

Ons Kersfeeste is nou by Keurboomstrand by my man se familiestrandhuis tussen see en berg en bosloeries.

Daar word steeds nie gesing nie en daar word baie geëet. Maar vir my lê die opwinding van Kersfees nou daarin om ’n kleine seuntjie te sien wat die papier van sy geskenke afskeur en vir wie ek, namate hy ouer word, ’n geheime wêreld kan skep van sand en see en engeltjies aan bome en liedere wat geheimenisse ontsluit.

Ek weet nie of ek weer tot Kersfees bekeer kan word nie, maar skielik glo ek weer deur die oë van ’n kind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.