26 Junie 14:10
Kaapstad Verander Area

Maandag

18°C / 10°C

Wind 8km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

15°C / 12°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Woensdag

14°C / 10°C

Wind 12km/h

Reënval 11mm

Humiditeit 61%

Donderdag

16°C / 9°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Vrydag

15°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 84%

Saterdag

16°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Sielsgoed
Menswees met respek vir ander ís moontlik

Is daar nie genoeg Suid-Afrikaners wat uiteindelik gaan stem vir ’n eerbare, goed ingeligte, nederige en nugter leier nie, vra Rudi Swanepoel.

Rudi Swanepoel

Hernieude nasionalisme, manlike (en wit) chauvinisme en sterk leierskap.

Hierdie drie aspekte – bitter nou verweef met mekaar – blyk herhalende temas in die Trump-era te wees.

Op ’n vreemde manier bied hierdie situasie ’n geleentheid vir Suid-Afrika. ’n Mens sou selfs kon praat van ’n “getuienisgeleentheid”, maar kom ons volstaan vir nou by geleentheid.

Maar hoe?

Suid-Afrikaners is mense wat vertroud is met indiepte-gesprekke (bewustelik of onbewustelik) oor nasionaliteit, taal, ras en geslag. Ons het sedert die 1990’s ’n Grondwet wat diversiteit koester en verskans destyds al ’n liberale en gesofistikeerde dokument genoem.

Baie Suid-Afrikaners het aanvanklik nie die waarde daarvan besef nie, maar het al telkens, soos weer in 2016, die lig gesien toe die Grondwet met vrug gebruik is om vergrype te help bekamp.

Ons het (post-1994) ook gestoei met en gewroeg oor identiteitsvrae: Is ek in die eerste plek ’n Afrikaner? ’n Suid-Afrikaner? ’n Wit, manlike Suid-Afrikaner wat Afrikaans praat? En verskeie groepe het hierdie vrae gevra.

Die feit dat hierdie vrae gevra is, beteken (helaas) nie dat ons by ’n stabiele, gedeelde Suid-Afrikaanse identiteit uitgekom het nie.

Ons het oomblikke soos die mooi Boeing oor Ellispark gehad, ja, maar Suid-Afrikaners het nie opgehou om mekaar verdag te maak en met agterdog te bejeën nie. Maar ons het ook (nog nie) besluit dat die land gesuiwer moet word van enige moontlike ideologie of siel wat die nasie durf bedreig nie. Ten minste nie toe ek laas gekyk het nie.

Dalk het ons unieke handelsmerk – “Trots Suid-Afrikaans” – mooier gegroei as wat ons besef.

Gaan mans en vroue, straight en gay, swart en wit, nie ontdek dat niemand daarby baat vind om jouself teen die ander op te stel nie?

Wat manlike chauvinisme betref, bevind ons ons op ’n plek wat geleentheid roep en skreeu. Ons eie president het met woord en daad gewys dat hy nie ’n navolgenswaardige figuur op hierdie gebied is of gaan wees nie, maar hy was die katalisator vir baie belangrike gesprekke oor geslagsrolle, geslagsgegronde geweld en die verkragtingskultuur.

Soos die verset teen ongelykheid en sosiale ongeregtigheid in die VSA, gaan die verset teen ongelykwaardige behandeling in Suid-Afrika ook nie verdwyn nie. Die stryd duur voort en die geleenthede om alternatiewe (vir byvoorbeeld enige vorm van oorheersing van een deur ander) te beliggaam, is baie.

Laastens: Donald Trump beklemtoon die mensdom se universele behoefte aan sterk leierskap. Hy word in sommige kringe geloof as iemand wat presies doen wat hy gesê het hy gaan doen. Hy vat nie nonsens nie, hy tree op en neem besluite. Maar – soos in sommige ander presidente se geval – tel sy karakter en leierskapstyl (o ja, sy Twitter-rekening ook) teen hom.

Waar ’n vriendelike diktator dalk nog geduld (en gerespekteer) kan word, het ’n onvriendelike diktator die manier om vinniger vyande te maak as wat jy “kernoorlog” kan spel.

Daarom die vraag: Is daar nie tans ’n gulde geleentheid vir ’n land soos Suid-Afrika om te wys wat gedoen kan word nie?

Is daar nie genoeg Suid-Afrikaners wat uiteindelik gaan stem vir ’n eerbare, goed ingeligte, nederige en nugter leier nie?

Is daar nie genoeg gewone mense wat die Grondwet gaan gebruik om voorspoed en welvaart vir ’n groeiende groep mense te help moontlik maak nie?

Gaan mans en vroue, straight en gay, swart en wit, nie in ’n stadium tog ontdek dat niemand daarby baat vind om jouself teen die ander op te stel nie, maar dat menswees moontlik is mét respek vir ander?

Die tyd sal – soos altyd – leer.

Vir nou, kan ons net aanhou glo dat dít wat onmoontlik lyk, tog moontlik is.

* Rudi Swanepoel is ’n leraar in die NG kerk se Andrew Murray-gemeente.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.