Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Sielsgoed
'Vir wie werk die Grondwet nou eintlik?'

Ondanks ’n Grondwet wat wêreldwyd hoog aangeslaan word, moet ons erken dat sommige mense in hierdie land steeds gelyker is as ander, skryf Nico Botha.

Die afgelope tyd het Suid-Afrikaners met skok en verontwaardiging gesien hoe kwesbaar miljoene landgenote is in hul menseregte.

Al word daar deur pres. Jacob Zuma en Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, in alle tale ontken dat daar ’n krisis is, is dit uiters ironies dat die lompe en onverantwoordelike hantering van die uitbetaling van maatskaplike toelae juis in die tyd rondom Menseregtedag afspeel.

Wat ’n mens amper totaal sinies laat, is dat politici boonop nog applous kry as hulle aankondig dat uitbetalings wel op 1 April sal geskied – asof dit nie ’n vanselfsprekende saak behoort te wees nie.

Maar só word die volslae uitgelewerdheid van mense ten aansien van hul mees basiese regte en die manier waarop dit as ’n politieke speelbal deur magtiges gemanipuleer word, blootgelê.

Gruwelike oorvereenvoudiging

Suid-Afrikaners begin wonder hoe veilig die regte van mense in Suid-Afrika werklik is ten spyte van ’n Grondwet wat op ’n amper clichéagtige manier as een van die bestes ter wêreld aangeprys word. Natuurlik, as ’n mens op ’n soort veralgemeende manier na die Handves van Menseregte kyk, is dit maklik om te sê dat Suid-Afrikaners se regte baie goed beskerm is.

Dit sou egter op ’n gruwelike oorvereenvoudiging neerkom. Uiteraard sou die ander oorvereenvoudiging wees om te sê dat die Grondwet eintlik vir niemand werk nie. Maar juis daarom behoort die volgende vraag gestel te word: Vir wie werk die Grondwet nou eintlik?

’n Mens sou die vraag ook anders kon stel: Vir wie werk die Grondwet nié? Om krities na die laaste vraag te kyk, sou byvoorbeeld wees om te vra wat beteken goed soos vryheid van spraak en vryheid van assosiasie vir mense wat nie eens seker is of hul pensioene en toelae uitbetaal sal word nie?

Die vraag sou verder verskerp kon word deur na te dink oor die betekenis van sulke regte in ’n oseaan van ongeletterdheid.

’n Reg of ’n luukse?

In so ’n konteks is dit belangrik om in ons verstaan van menseregte enkele belangrike kwessies in gedagte te hou. Eerstens moet daar ernstige vrae gestel word oor of die Grondwet nie slegs vir ’n getal baie bevoorregte Suid-Afrikaners werk nie, van wie ek een is.

Baie van die opstandelinge geniet nie die reg tot ruimte en blyplek en ’n ordentlike onderwys en opvoeding vir hul kinders nie.

As mense nie eens kan lees en skryf nie, hoe en waar kry hul gevoel oor die verloop van sake in ons samelewing gestalte? Hoe en waar word dit verwoord? As hulle bekommerd is oor die uitbetaling van R1 600, waar kry hulle energie vandaan om te praat en hul standpunte oor dinge te stel?

Mense se omstandighede maak hulle stom. En daarom is die reg tot vryheid van spraak – soos om drogstandpunte in die media te stel – ’n absolute luuksheid in Suid-Afrika. Ander geniet nie daardie luuksheid nie en daarom hoef dit ons nie te verbaas as hulle uit loutere frustrasie aan prostesoptogte deelneem nie.

Baie van die opstandelinge geniet nie die reg tot ruimte en blyplek en ’n ordentlike onderwys en opvoeding vir hul kinders nie.

Dis nie verniet Lydenstyd week nie

’n Ander kwessie is om in ons nadenke oor menseregte nie verby die werklik bestaande magsverhoudinge te kyk nie. Mense wat oor politieke toegang beskik, sal altyd die stelsel aanwend om hul eie regte te verseker. In die Suid-Afrika van 2017 gaan dit selfs verder as dit – hulle gebruik die politieke toegang om op uiters onaanvaarbare maniere geld en goed bymekaar te maak.

Maar ook diegene wat oor die mediamag, kennis, kundigheid en bevoorregting beskik, sal steeds beter in staat wees om vir hul regte te baklei indien dit enigsins bedreig sou word.

Ondanks ’n Grondwet wat wêreldwyd hoog aangeslaan word, moet ons erken dat sommige mense in hierdie land steeds gelyker is as ander.

En natuurlik kom godsdiens ook ter sprake wanneer ons oor menseregte nadink in ’n plek wat ongeneeslik godsdienstig vertoon.

Vir die gesprek hier word daar met die Christelike godsdiens volstaan. In die lig van die boek van die Christene, die Bybel, is die vraag of ’n mens hoegenaamd van menseregte kan praat.

Het die mens onvervreembare regte? Dit wil voorkom asof ons slegs, by gebrek aan ’n ander woord, van menseregte kan praat omdat dit die bedoeling van die regte mens uit Nasaret, Jesus Christus, was om deur sy lewe, lyding, kruis en opstanding ’n ryk van geregtigheid, vrede en vreugde te vestig.

Sy bedoeling was immers om ’n oorvloedige lewe vir sy navolgers te verseker wat op ’n versigtige wyse as menseregte getipeer kan word.

Maar daarom is dit in Suid-Afrika belangrik om nie die samehang tussen Golgota en Sharpeville by Sedibeng – wat beteken “saam by die waterbron” – te vergeet nie. Ook nie die verband tussen Marikana of Rooikoppie buite Rustenburg en die koppie buite Jerusalem nie.

Dis nie verniet Lydensweek nie.

* Prof. Nico Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.