Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Waldimar Pelser: Zuma se era sal nie so maklik verdwyn

Vrydag se onthulling dat ­Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van Eskom, gedwing is om uit sy pos te bedank omdat hy nie wou “saamspeel” met die Gupta-familie nie, sal nie die laaste bom oor die ­Saxonwold-mafia se perverse greep op die staatsmasjinerie wees nie.

Tsotsi het aan die Mail & Guardian gesê hy het aan die begin van sy tweede termyn as Eskom-baas ’n oproep van die Guptas gekry waarin hulle beklemtoon het dat hulle besluit het om hom nog ’n kans te gee. “Twee maande ná my aanstelling het hulle gebel en gesê hulle sal my laat afdank, want ek speel nie die spel nie. Ek is kort daarna gedwing om te bedank.”

Die lys van ANC-hoës wat openlik hul walging uitspreek oor sulke kru handel in politieke invloed – en wat hulle by implikasie ook as teenstanders van pres. Jacob Zuma posisioneer – sal in die dae ná die naweek se vergadering van die ANC se nasionale ­uitvoerende Komitee (NUK) groei.

Die geskiedskrywers, of ten minste die Twitterati, sal getrou hul name voeg by dié van: Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, wat maan dat ons ’n “mafiastaat” word; Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, wat sê die Guptas se werksaanbod aan hom maak ’n “bespotting” van die demokrasie; Vytjie Mentor, die ANC-LP wat beweer die Guptas het ook vir haar ’n kabinetspos aangebied; en Ngoako Ramatlhodi, minister van openbare werke, wat sê die Guptas het hom vir ’n dop genooi ná sy aanstelling destyds as minister van minerale bronne omdat hulle by hom iets wou hê.

Ook ministers Rob Davies (handel en nywerheid) en Derek Hanekom (toerisme) het hulle by Jonas geskaar, en oudminister Barbara Hogan het gekla oor druk destyds dat sy die Guptas se sakebelange by die departement van openbare werke moes bevorder.

Die SAKP het so ver gegaan as om by monde van Solly Mapaila, adjunkhoofsekretaris, te eis dat die NUK ­Zuma vra om te bedank. Dit was einste Mapaila wat die Guptas se rol al by ’n ANC-lekgotla in Januarie die “olifant in die kamer” genoem het. Selfs die lojale Zizi Kodwa, ANC-segsman, het agterna gesê die lekgotla het “gewaarsku ons moet hierdie dreigement takel, selfs al is dit net ’n persepsie, dat daar sterk mense buite die staat is wat nie net die president kan beïnvloed nie, maar ook die kabinet”. ’n Voorganger van Kodwa en ANC-LP, Jackson Mthembu, het op Twitter vir Jonas in die bresse getree. Dit het begin lyk na ’n skeuring in die ANC tussen hervormers en Zuma-lojaliste.

Selfs die grootste Jonas-napraters sal hulself afvra wat die finansiële koste sal wees as die empire val.

Oor eersgenoemde kamp, mense soos Jonas en kie, skryf Darrel Bristow-Bovey: “Ek is bly dit gebeur, maar is nie seker wat hulle motiveer of watter onderstrominge hier aan die werk is nie. Ek is ook nie baie beïndruk dat dit hulle so lank geneem het nie. Dit kan hul gewete wees, maar dis meer waarskynlik politiek.”

Hy is reg. As Mentor en Jonas en al die ander wat nou so verontwaardig oor die Guptas en dié se Nommer Een-skoothond fluit, gedryf is deur beginsel, sou hulle lankal iets gesê het.

Maar hulle het gewag. Baie van hul simpatiseerders sou die naweek buite Pretoria ook ingestem het tot ’n kompromis om Zuma eers in sy pos te hou, uit vrees dat ’n leierstryd binne die party so kort voor ’n verkiesing dalk meer kwaad as goed kan doen.

Hulle word nie gedryf deur beginsels nie, maar deur die vrees dat die herroeping van daardie man die verkiesingsbeloftes van die ANC nóg moeiliker gaan maak om aan ’n skeptiese, onrustige publiek te smous.

Hulle word gedryf nie deur die wete of besef dat Zuma sleg is nie, want dit is hy nog altyd, maar deur ’n wiskundesom: Word hy nou te duur?

Dit is politiek en nie beginsel nie wat die NUK-lede sou laat vra: Is nóú die tyd om ons geld op ’n nuwe perd te verwed in die aanloop tot die ANC se leiersverkiesing in 2017?

Selfs die grootste Jonas-napraters sal hulself afvra wat die finansiële koste vir hulself en hul vriende sal wees as hierdie empire val. Want wie kom in Zuma se plek?

Eiebelang is die rigtende beginsel. Daarom is dit nie net die knaterlose ANC-jeugliga wat sal aanhou om rondom die sotlike president te ululeer nie. Talle ANC-kaders met huisverbande en staatskontrakte sal Zuma aanhou steun so lank as wat hy oor mag beskik.

Danksy ’n rits Zuma-aanstellings in die intelligensiedienste en die nasionale vervolgingsgesag en die inkomstediens en semistaatsinstellings en die SAUK, kan die Zuma-era dalk nog veel langer duur as wat die rebelle reken, wat hul motiewe ook al is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.