24 Junie 07:17
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Stemme
Ons moet woeker vóór ANC mag verloor

Ervaar u ook die diep onrustigheid oor waarheen “ons” op pad mag wees?

Die selfdood van ’n groot skrywer help nie juis nie, in die mate waartoe dit steeds en weer duidelik maak dat die onus op ons is om sin van dit alles te maak – daar is nie orakels nie, daar is geen vlees-en-bloed-messias nie, die vorige generasie se antwoorde raak gaandeweg op.

Dit is net ons wat oorbly.

Dis ons – u, die leser, ek, die onseker skrywer, hulle, die menigte ander burgers van hierdie geliefde land wat elke oggend steeds en weer redes vind om op te staan sodat die groot skrywer se volkome moedverloor (“So is dit genoeg.”) hulle nie plattrek nie – dis óns probleme dié.

Ons het dalk anders gestem, maar dit is óns vrot regering.

Die vermoëndes mag dalk beplan vir ’n veiliger, saaier bestaan oorsee, maar die meeste Suid-Afrikaners het nie eens een paspoort nie, wat nog te sê van ’n tweede plus ’n trommel dollars vir die verplanting van hierdie ingewikkelder wordende lewe, so dis óns fight dié.

Ons wat weier om afgestomp te raak, wat verseg om boedel oor te gee, ons wat hier gewortel voel, ons kan mos nie net toekyk nie.

Al wat help, is om eienaarskap te neem van ons probleme, van dít wat ons laat rondrol in die nag.

Die plunderaars in Coligny. Die wantroue. Die vrese vir gewapende aanvalle helder oordag en selfs vir anargie. Die frustrasie dat netjiese oplossings ons 23 jaar later bly ontwyk. Dat ras en identiteit van net te veel sware dinge merkers bly en opnuut word.

Ons span die doringdraad, ons kontrakteer vir ADT, ons skep lewensvat­bare alternatiewe vir die staat. Ons wonder: Hoe steur ’n mens jou nie aan gepeupel-politici soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (NDZ) en Supra Mahumapelo se rassehaat nie?

Ons, Suid-Afrika, se jeug, wat oorlog nooit geken het nie, takel die simbole van ’n ou orde af en verbeel hulle dan ’n vry en welvarende Azanië sal uit die puin van hierdie imperfekte kompromis verrys. Hulle sien slegs die putatiewe wins van konflik raak.

Ons luier by ’n kruispad, maar hou nie self die stuurwiel vas nie.

Afgevaardigdes van ANC-takke, mense met gesinne om te voed en tenders om los te slaan, selfs dié wat nog grondwetlike ideale koester, gaan in Desember namens die res van ons besluit: Draai die party en land links na ’n verskroeideaarde-opsie wat die rasnasionalisme – wat reeds so volop in wetgewing is – ’n wekroep maak tot iets veel meer destruktiefs? Dis die Zuma-opsie. Ons weet reeds NDZ is presies net so geurloos gemarineer in die gifsappe van ­populisme soos haar tsotsi-eks. “Die wittes het die grond gevat!” Sonder om ooit by te voeg: “En kyk net wat het hulle daarmee gemaak.”

Of dalk draai die kaders in Desember eerder regs? Dan kies hulle in die belang van ’n 2019-oorwinning vir die ANC en ’n afrekening met die Zumas ­iemand wat meer klink soos ’n sentris? Maar dan hoor ’n mens dat selfs Cyril Ramaphosa fantasieë aan kiesers smous dat die ANC in 2019 75% van die stemme kan kry.

Ter verdediging van die stomme man: Wys my een leier wat nog ooit so min moontlik mag wou hê. Maar die dringendheid waarmee selfs die “goeie ouens” in die party streef na “volkome beheer” maak my yskoud.

Die staat moet net daar wees waar hy noodsaaklik is. Die ANC, wat homself tans so verteer en wat magteloos was om selfs te keer dat Brian Molefe soos ’n held teruggestuur word na Megawatt Park, glo daarenteen die staat moet oral wees, al los staatsmag deesdae bykans net verval in sy kielwater.

Kyk na die infrastruktuur. Kyk hoeveel mense het nie daagliks meer toegang tot skoon drinkwater nie. Kyk na die waglyste in openbare hospitale. Kyk na die korrupsie met tenders.

Dis mos malligheid. En nou?

Ons wat weier om afgestomp te raak, wat verseg om boedel oor te gee en te lag oor die kripvreters se skitterende buit, ons wat hier gewortel voel, ons kan mos nie net toekyk nie.

Ons is ook by ’n kruispad en beslis nie magteloos nie, al wil die ANC en ras­ideoloë kritici te skaam maak oor die verlede om ooit weer iets oor die hede of die toekoms te sê.

Om teen die ANC te stem is natuurlik noodsaaklik, maar ’n mens kan nie bloot op die party se toekomstige magsverlies sit en wag nie.

Organiseer. Staan op. Voel trots op wat jy vir jou medemens doen. Maak aanspraak op jou regte en ook op die regte van ander wat jy sou hoop vir jóú in die bresse sal tree as die gort eendag goed gaar is. Praat uit.

Ondersteun enigiemand wat die wêreld om hulle ’n beter plek probeer maak. Dit sluit die kunste in. Koop ’n boek. Lees ’n koerant. Lig jouself in.

Beveilig jouself. Reik uit, rig iets op. Lag vir dié wat jou wegwens. Daag jouself nietemin uit. Weeg perspektiewe op. Verdedig jou posisie, maar onthou daar is altyd iets om te leer, en dat nuwe moontlikhede selfs in die grootste krisis sigbaar word vir dié wat teen moedverloor kies en besluit om iets aan ons eie en mekaar se probleme te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.