27 Maart 00:44
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Boeke
As jy van jou perd afval...
As jy Jani Allan se memoire, ‘Jani Confidential’, lees, kom jy vinnig agter daar was altyd allerhande soorte diere in haar lewe – en nie net omdat sy ’n geesdriftige kampvegter vir viervoetiges is nie. Debbie Loots gesels met haar oor pommerhondjies, perde, en die olifant in die vertrek.
Jani Allan

’n Mens kan dit nie verhelp nie. Daar is ’n weerloosheid aan Jani Allan wat jou dadelik ’n knop in die keel gee wanneer jy haar die eerste keer ontmoet. En dan skud sy boonop nie hand nie, sy gee ’n drukkie.

Jani, in die 1980’s die modelmooi hoëprofielrubriekskrywer van Sunday Times, is vandag 62. Sy werk as kelnerin in ’n klein Amerikaanse dorpie, Lambertville; bly in ’n piepklein woonstelletjie saam met haar drie “dogters”, die pommerhondjies Breeze, Molly en China; en sy is gelukkig met haar lewe en trots daarop, baie dankie.

Sy’s diep gelowig, ’n vurige aktivis vir diereregte en haar donkiewerk by die restaurant, soos wat sy dit beskryf, hou haar nederig. Sy bedien mense, dra kos aan, maak toilette skoon. Haar kollegas is meestal geharde oudsoldate wat nie elders werk kan kry nie. Alles net mooi die teenoorgestelde van haar glanslewe as die skrywer van die gewilde Just Jani, ’n rubriek wat uiteindelik die ondergang van haar loopbaan en vernietiging van haar reputasie beteken het.

Nou het sy ’n boek geskryf oor haar lewe, Jani Confidential, en is sy in Suid-Afrika om dit te bemark.

Bekyk jy haar vandag, dan sien jy beslis tekens van die ou Jani. ’n Soort 1980’s-kitsch-mooi is onmiskenbaar: Haar mond is so rooi soos ’n rissie geverf, sy’t ’n Belinda Carlisle-bos hare, ’n skewe keps bo-op en sy dra goue juweliersware. Maar met haar perdebylyfie in ’n swart T-hemp en skinny jeans posisioneer sy haarself pens en pootjies in 2015.

“Ek wil vreeslik graag weer begin perdry,” sê Jani geesdriftig, sommerso met die intrapslag toe ons vir geen spesifieke rede nie begin praat oor oefening. “As ek eers terug in Amerika is.”

Perdry. Visioene uit dele van Jani Confidential doem ewe skielik op. Vroeg in die boek: Sy wat as kind oombliklik ’n vurige diereliefhebber word nadat sy haar eie perd kry en ordentlik leer ry onder leiding van haar streng ma.

In ’n latere hoofstuk: Die AWB-leier, Eugène Terre­’Blanche, wat gedurende ’n parade in Pretoria verfilm word toe hy van sy perd afval en daarna kla dat die televisiespan nie genoem het dat die perd gestruikel het nie.

Terug in die hede en ons drink tee in die tuin van die Kaapse gastehuis waar Jani bly voor sy terugkeer Johannesburg toe vir die laaste deel van haar boektoer. Die media wine and dine haar, haar selfoon piep aanhoudend van al die vriendelike boodskappe. Sommige is van mense wat tien jaar laas met haar gepraat het, vertel sy.

Sy ontmoet weer haar ou vriend Mangosuthu Buthelezi, die aktrise Sandra Prinsloo, ’n klompie akteurs van 7de Laan. Die lys van beroemdes en belangrikes hou nie op nie. Haar boek is gewild, die resensies vol lof, almal soek ’n stukkie van ­Jani. Amper soos in die ou dae.

En dis wat Jani briljant doen. Dis haar ding. Sy steek die draak.

“Ek voel oorweldig deur alles,” sê sy. “Ek het nie gedink mense sou my onthou nie. Dit maak hierdie bejaarde ou vrou sommer bewoë.” Sy lag, maar sy’s ernstig.

En dis wat Jani briljant doen. Dis haar ding. Sy steek die draak. Want sy is verslaaf aan goedkeuring – dis nooit genoeg nie, sê sy. Partykeer, vlymskerp en bitsig, spring sy op haar perdjie. Vandag nog. Veral as sy in ’n hoek gedruk voel, haarself moet verdedig, soos toe John Maytham haar nou die dag in ’n radio-onderhoud gevra het of hy maar mag begin met die ­elephant in the room.

Of destyds, toe sy heeltyd reg moes staan sodat haar redakteur Tertius Myburgh beïndruk bly met haar kwinkslae, haar “lawwe kort sinnetjies” soos sy hulle noem, slim aanmekaar geflans vir Just Jani. Daardie jare moes sy uithaal, wys sy’s nie bang om te sê wat sy wil nie. En sy het. Niemand was gevrywaar nie, sy self ook nie.

Daardie tyd, tussen 1980 en 1989, het Jani gekerjakker met die rykes, uitgehang in top­restaurante, selfs een verjaardag gekla dat haar kantoor te vol van die rose is, sy kon haarself nie draai nie.

Gelief of gehaat, Suid-Afrika het aan haar lippe gehang. Toe eendag, ná ’n scoop-onderhoud met Terre’Blanche, maak sy een van haar “lawwe kort sinnetjies” op vir haar rubriek, en kort daarna verskiet haar ster. Slim het haar baas gevang.

’n Baie openbare vernedering volg in 1992 toe sy die Britse Channel 4 hof toe vat in ’n mislukte poging om haar naam in ere te herstel. Hulle het geïnsinueer sy en Terre’Blanche het seks gehad. Sy, ’n diereregteaktivis, het seks met die man van wie sy eenkeer in afgryse weggejaag het toe hy haar die wrede manier wys waarop hy perde tem. Sy, wat jare lank in terapie was by die bekende sielkundige Dori Weil omdat sy juis so gesukkel het met intimiteit en seks . . . so skaam was.

Die advokaat George Carman QC het in die hofsaak vir Channel 4 opgetree en dit reggekry om Weil se getuienis, asook ander vir Jani, uitgegooi te kry. ­Jani se woonstelmaat en eertydse vriendin Linda Shaw getuig teen haar. Jani het nog nooit weer met haar gepraat nie.

“Ek is nie kwaad vir Linda nie,” sê sy, haar stem koud. “Ek dra nie ’n wrok nie. ’n Mens word meegevoer deur die oomblik, ek verstaan dit. Linda het gehuil toe sy getuig het.

“Sy was deurmekaar, het gesê sy wou nie daar wees nie.”

Ja, ek is ’n waitress, en ek word baie keer sleg behandel. Die ander kelners is ongeskik. Een sê ewe vir my: ‘To not know you is to love you.’

In 2002, ná Carman se dood, skryf sy seun Dominic ’n boek oor sy pa se lewe, No Ordinary Man. Jani se geval verskyn ook hierin as ’n voorbeeld van die soort sake wat sy pa altyd aangevat het.

“Al wat vir George saak gemaak het, was om te wen,” sê Jani. “Nie of ’n mens skuldig of onskuldig was nie. Ek het met Dominic gepraat nadat ek sy boek gelees het, en hy het my vertel sy pa het net so oor my saak gevoel. Hy was gewetenloos. Ons is vandag vriende, ek en Dominic.” Sy glimlag. “Hy gaan my boek in Engeland ­resenseer. Hoe’s dit vir full ­circle?”

Ná Jani se nederlaag in Londen bevind sy haar in Amerika, waar sy uiteindelik met ene ­Peter Kulish trou, net om jare lank fisiek deur hom mishandel te word. Haar pogings om ’n green card te kry ry hy in die wiele, en toe sy een nag vlug en uiteindelik van hom skei, was al werk wat sy daarsonder in Amerika kon kry, dié van kelnerin.

En sy kan nie help om haarself daaroor aan te vat nie. “Ja, ek is ’n waitress, en ek word baie keer sleg behandel. Die ander kelners is ongeskik. Een sê ewe vir my: ‘To not know you is to love you.’ ” Sy lag.

“Hoe ironies.

“En dit is seker nog ’n vorm van mishandeling,” sê sy. “Maar ek oorleef, betaal my eie huur en ek gaan nog eendag ’n boek skryf daaroor. Hoe om te be­dien in plaas van om bedien te word.”

En nee, ’n romantiese perd gaan sy nooit weer vir haarself opsaal nie. ’n Regte perd, ja. Soos in haar jeug. As sy eers terug is in Amerika.

“Romantiese liefde is vir die mooi, jong klomp beskore.” Sy sidder skielik. “Ek moet wegkyk as ek hande met lewervlekke op mekaar sien liefkoos. Daar’s net iets verkeerds daaraan.” Sy streel oor haar wange. “Ek hou boonop nie van mense naby my gesig nie. Net my poms lek my in die oggend wakker, veral noudat ek coconut-olie gebruik, nie meer duur gesigroom nie!”

En dis Jani Allan vandag: ’n Hartstogtelike diereliefhebber wat, as sy die jackpot sou wen, ’n kothuis sou koop op ’n groot genoeg erf om vir hawelose diere ’n tuiste te bied.

O, en sy sou heeldag in ’n cardigan rondloop.

Spot sy? Wie weet.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.