30 April 18:43
Kaapstad Verander Area

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

18°C / 16°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Saterdag

17°C / 16°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 81%

Boeke
Debuutroman wat aangryp
Lien Botha betower in haar liriese debuutroman. Sy is dalk die oudpolitikus Pik Botha se dogter en die rock-musikant Piet Botha van Jack Hammer se suster, maar Lien Botha en haar kunswerke verwerf al 25 jaar lank stil-stil wêreldbekendheid. En nou is haar skitterende debuutroman, Wonderboom, aan die beurt. Debbie Loots het by haar op Bettysbaai gekuier.
Lien Botha

Met die N2 langs, op pad om met die kunstenaar-fotograaf Lien Botha in Bettysbaai te gaan gesels oor haar debuutroman, Wonderboom, kan ’n mens nie anders as om aan die storie se hoofkarakter, Magriet Vos, wat demensie het, te dink nie.

Sy het immers dieselfde reis van Kaapstad af te voet aangepak na haar bouvallige huisie in Bettysbaai. ’n Lewensgevaarlike tog in ’n plofbare, post-apokaliptiese Suid-Afrika.

Magriet is ’n violis wat noorde toe wil trek, na haar mense toe, voordat sy haar geheue heeltemal kwyt is. Maar eers moet sy ’n laaste vertoning lewer aan Albino X – die bleekvel-tiran wat spog met ’n diorama vol opgestopte mense by sy Vergelegen-hoofkwartier – voordat sy vir goed haar goed vat en uit Bettysbaai Pretoria toe vlug.

Terug in die hede en jy stop voor Lien en haar man, Raymond Smith, argitektuur- en erfenispraktisyn, se Bettysbaai-huis.

Met die intrapslag vertel Lien waar sy dink haar liefde vir voëls vandaan kom.

Hulle is immers oral: op Wonderboom se pragtige omslag (ontwerp deur Michiel Botha) en dan, op bl. 1, braai ’n dooie swart spreeu oor kooltjies. Dit is Magriet se karige ete.

En dit is maar net die begin. “Ons het altyd voëls aangehou. Wilde voëls en budjies,” sê sy terwyl ons die huis inloop.

“Toe ek klein was, het ek eendag die hok oop gelos en toe vlieg hulle weg. My gesinslede was almal kwaad vir my, dae lank. Dit het nogal ’n indruk op my gemaak. O, en my ouma het ook ’n mak kraai gehad,” onthou sy. “Hy’t oral heen gehop-hop.”

Sy glimlag aan die gedagte. “Ja, ek was nog altyd mal oor voëls, hulle is magic.”

Ons kuier oor koffie in haar ateljee met sy houtlaaikaste vol van haar kunswerke. Twee fietse leun teen die muur en die wintersonnetjie skyn deur ’n boonste ry vensters oor haar stoel. Terwyl haar lang silwer hare sag oor haar wang vee soos sy rondskuif om die strale uit haar oë te keer, vertel sy van haar en Raymond se eie groot trek wat voorlê.

Nie soos Margriet noorde toe nie. Hulle is op pad Pringlebaai toe vir ’n ruk voordat hulle terugkom na Bettysbaai waar hulle al 11 jaar lank bly, na ’n off the grid-huis deur Raymond ontwerp. “Ja, ons bou vir die tweede keer!” Dit is hier in Bettysbaai waar sy hoort. Sy wat in Pretoria gebore is en grootgeword het en verskillende plekke in Suid-Afrika, en die res van die wêreld, al huis genoem het.

Daar is ooreenkomste tussen haar beelde van toe en nou se teks.

En dan ken die voëls in die bome en bosse rondom die huis in Bettysbaai boonop vir haar en Raymond. “Ons sal die voëls moet laat weet waar om ons te kry die volgende klompie maande.”

Sy lag, maar dit is ernstige sake vir haar, sake van die hart. Bettysbaai is immers ook Wonderboom se geboortedorp.

“Om hier te kon bly was noodsaaklik,” sê sy. “Op Bettysbaai het ek die boek se eerste anekdotes neergeskryf, oor wat elke dag hier gebeur, die mense se doen en late, al die klein burgerlike goedjies . . .”

Maar dit is ’n alleenbestaan, en sy erken dit. “Bettysbaai doen definitief interessante goed met jou kop. Jy raak seker bietjie mal hier, die isolasie kan sommige mense op ’n manier ekstreem maak.”

Haar oog val op haar rekenaar op die houtlessenaar. Tekens van haar visuele prosesse is bokant, teen ’n kurkbord, vasgesteek. “En om boonop nog te sit en ’n boek te skryf hier.” Sy lag weer en skud haar silwer hare. “Dis ’n helse ding. As ’n mens eers in die verhaal is, dan is dit al wat jy eintlik wil doen. Wanneer jy lank sit en skielik op ’n beter woord afkom, is dit soos toorkuns.”

En sy is uitstekend daarmee, so met woorde toor. Nes Margaret Atwood, een van haar gunstelingskrywers van distopiese fiksie, kry Lien dit reg om haar leser in haar verbeelde wêreld in te trek, te laat voel vir haar karakters wat komiese, absurde en somtyds tragiese omstandighede moet trotseer en oorleef.

En dat tegnologie te doen het met die mens se geleidelike vervreemding van mekaar en sy omgewing, is sy oor seker. Die negatiewe, maar ook die positiewe uitwerking daarvan. Het sy dan nie besef hoe Magriet Vos moet lyk danksy ’n foto van ’n vriendin op Facebook nie?

“Maar, deesdae maak ’n mens al hoe meer staat op masjiene, die eksterne. Dit raak vir my duideliker – in kommunikasie, die manier hoe die brein begin aanpas, die gesprek. Dit is onvermydelik, dit is soos die nywerheidsera, daar gaan vervreemding wees.”

Nadat die ekonomie ’n paar jaar gelede wêreldwyd in duie gestort het, het sy dit veral begin opmerk. Mense wat sukkel om ’n bestaan te voer, hoe “brutaal” die omgewing geraak het, ewe skielik.

“Daar is nog skoonheid, natuurlik, maar op ’n sekere vlak vind ek die wêreld baie genadeloos, baie cut throat. Groot dele van Wonderboom het daaruit gekom, uit my ervaring van die wêreld ná 2009.”

Haar kunswerke praat reeds lankal ook van so ’n onherbergsame omgewing. Kyk jy veral na haar Parrot Jungle- en Yonder-werke, dan sien jy dit. Daar is ooreenkomste tussen haar beelde van toe en nou se teks. Daar is strak, gestroopte landskappe, ’n gevoel van hopeloosheid. Sement-swane in ’n woenstynland, ’n leë swembad, ’n opgestopte leeu en ’n verlate speelpark. Roerende werke wat sy oorweeg het vir gebruik in Wonderboom: sy wou elke hoofstuk met sy eie foto voorafgaan, maar toe steek sy vas.

“Dit sou amper dokumentêre foto’s gewees het, maar alles raak toe vir my te letterlik. Op ’n kol het ek die visuele element heeltemal uitgegooi. Tot in April verlede jaar, nadat ek taamlik ver was met die teks, toe het die collage-gedagte begin posvat. Alles het duidelik begin raak en ek uiteindelik presies geweet wat ek moet doen.”

Maar die invloed van Lien se kunswerke op Wonderboom het nie daar gestop nie. Sy sê Aristoteles se klassieke idee dat die intrige van ’n storie bestaan uit ’n begin, ’n middel en ’n einde, is allermins beperk tot teks.

Trouens, sy beoefen hierdie manier van storie-vertel al meer as 25 jaar lank, deur haar kuns. En dit het haar as’t ware voorberei vir romanskryf.

Iemand roep Lien na buite. ’n Lek op die dak word reggemaak voordat sy en Raymond Pringlebaai toe trek.

Toe sy terugkeer, gaan sit ons in die kombuis. Middagete prut op die stoof. Deur die eetkamer se groot houtraamvensters sien ’n mens ’n kuierplek buite. Dit word omring deur Bettysbaai-bos en ’n ou rottangstoel staan eenkant.

Lien sê sy is eintlik stilweg ’n botanis. ’n Soort stille getuienis daarvan is nie net te sien in haar kunswerke nie, haar teks is deurtrek daarvan.

En daar is ook die oorspronklike name wat sy Wonderboom se hoofstukke gee. Hulle is amper soos aanwysings op Magriet se pad huis toe: “Diereboom”, “Spookboom”, “Sterboom” . . .

Terwyl sy kos inskep, praat Lien oor die groot oppak en trek. Die laat gaan van goed wat jare lank deel was van jou lewe en om oor te begin. En soos ’n mens rondkyk en na haar luister, kan jy nie help om te dink nie dat sy (nes Magriet, wat haar lewe stukkie vir stukkie vergeet het soos sy uiteindelik geleenthede gekry het huis toe, Pretoria toe) ook dinge moet agterlaat, en selfs verloor, op haar eie reis na ’n nuwe tuiste.

En dat haar aangrypende debuutroman, Wonderboom, op ’n manier haar en Magriet se dokument is daarvan.

Wonderboom word op 16 Julie by die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel en 1 Augustus by Protea-boekwinkel in Stellenbosch.

Lien neem op 9 September aan die Open Book-fees in Kaapstad deel.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.