Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Boeke
Lag maak die lewe draaglik
Rachelle Greeff se ‘Rondomskrik’ het haar vanjaar ’n ATKV-Woordveertjie-prys vir beste dramateks in die sak gebring. Riette Rust het met haar gesels.
Shaleen Surtie-Richards en Crystal-Donna Roberts in Rondomskrik op die KKNK. | Foto: Deon Raath

Wat beteken die ATKV-Woordveertjie vir jou en ook vir die drama-genre? ’n Vlietende oomblik van verligting.

Hoekom suig die genre so aan die agterspeen? Onder elke derde boom is ’n kunsfees, met meer bierbottels en boepensborde as grensverskuiwende kuns, maar mét teater. Baie. Van die konsert- tot gimtrim-jou-grysstof soort. Daar’s borge en daar’s boude op sitplekke. Agterspeen, nee. Uitgewers is traag om toneelstukke te publiseer omdat die lesersmark te klein is vir wins. Dít smaak agterspenig.

Gaan jou drama uitgegee word? Deur wie?

Wat is die belangrikste vereistes waaraan goeie dramateks behoort te voldoen? Ek weet nie, buiten dat ek weet dit wissel van soort teater tot ander soort teater. Die Britse teatermaker Duncan Macmillan het gesê: “I can’t speak for what theatre can or should do, but I know from my perspective I’m interested in complexity.” My belangstelling lê ongetwyfeld by kompleksiteit. ’n Komplekse karakter bevonk my.

In watter mate het jou dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch jou gehelp om die genre onder die knie te kry? In geen mate nie. Ek was nog nie in die skool nie toe ek ’n pop in die Bellville-burgersentrum was. En vóór dit het my ma my ballet toe geneem, in die Kaapse stadsaal en die afgestorwe Alhambra. Altyd is ek konserte toe geneem. Toe ek Eduard Greyling (ek was vyf en hy 15) deur ’n deurskreef sien dans in die Broadway-gebou waar die Leipoldt-hospitaal nou staan – dít het my geprikkel en my ontsnaproete geword. Terloops, ek het absoluut niks “onder die knie nie”, buiten poedings maak.

Anene Booysen van Bredasdorp se grusame verkragting en moord is net die vertrekpunt van Rondomskrik. Hoe sou jy die storie opsom? Dit vertel die verhaal van Jasmien Adams, ’n onderwyseres, wat probeer om ’n verskil aan haar leerlinge se lewe te maak, onder andere aan die tienermeisie Antjie Fortuin s’n.

Wat maak Shaleen Surtie-Richards so ideaal vir die rol van die juffrou? Sy’s so ’n kleurvolle, intense teenwoordigheid. Ek verstaar my altyd in haar geselskap. Haar tong flits die een oomblik nog soos ’n matmes, maar voor jy kan sê liefde, sê sy dis alles oukei, liefiekind van my hart, al is niks op dié oomblik oukei nie. Stel jou voor ’n mens kan haar kloon en ’n kar vol Shaleens by elke skool in die land aflaai, vir Krismis.

Een van die beoordelaars het gesê die stuk is ’n kragtige pleidooi vir medemenslikheid en burgerlike betrokkenheid. Wat wil jy met die teks sê? Ek wil asseblief nooit iets sê vir niemand nie. As ’n mens jou karakters toelaat om hul eie loop te neem, kry hulle ’n stem as jy hard werk en al jou groente eet. Dan sê hulle, en vir elke mens in die gehoor, iets anders.

’n Teaterganger het aan Hennie van Greunen, die regisseur, gesê sy wil nie die drama sien nie, want sy sien daagliks geweld op televisie en in die koerante. Wat sou jy vir haar wou sê? Ek begryp wat sy sê. Anders as Anene Booysen se storie het Antjie Fortuin s’n vertakkings van hoop. Juffrou Jasmien en Gigi en Jasmien se Distrik Ses-onder­wyserpa praat juis met daardie teaterganger. Ek weet nie waarin die hoop gesetel is nie. Dit verander na gelang van omstandighede. Miskien die wete dat alles verbygaan. This too shall pass . . .

Van Greunen sê Rondomskrik leen hom tot ’n baie swaar toneelstuk, ‘maar Greeff verstaan dat die lewe uit meer as dit bestaan. Die balans tussen weemoed en humor is perfek.’ Hoekom humor? Uys Krige het mos gesê die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is. Vir my is die hele ou gesous alleen en vaagweg draaglik as ’n mens nie net ’n bietjie nie, maar baie kan lag. Dit behoort ’n skoolvak te wees met modules soos harlekynery, malkoppigheid, satire op steroïde, ironie ensomeer.

Die beoordelaars sê jou dialoog vibreer van egtheid, dit klink waar en dit slaan hard. Hulle sê ook jou vindingryke keuse van karakters skep ’n gemeenskap wat selfs op papier lewe kry en jou konfronteer en kwaad maak. Hoe skep jy lewensgetroue karakters en dialoog? Ek luister altyd. Dié keer het ek wel spesifiek en doelgerig gaan luister hoe bruin mense op die platteland praat. Ek sal lieg as ek sê ek het tussen bruin mense grootgeword, maar Tokai en Retreat en Grassy Park is spoegafstand van mekaar. Ek het ook verlede jaar Son gelees, ses dae van die week.

Hoe het jy op die titel gekom en watter betekenis hou dit in? Iewers is ’n deel van ’n bruin buurt wat nie-amptelik Rondomskrik genoem word. Ek kan nie onthou of dit in Prince Albert of in Bredasdorp of iewers anders was nie, want dit het so fiktief geraak, die hele besigheid. Dit was sommer die werkstitel om my kop in die regte rat te hou. Sowel Hennie as ek het nie gedink dit sou end-uit werk nie, maar dit het, hoe dan ook. Hopelik kan almal hulle daarmee vereenselwig, want almal van ons voel tog van tyd tot tyd omsingel deur skrik.

Jy het Anene se suster, Anne-Maré, ontmoet en ook Rondomskrik aan haar opgedra. Ek het haar twee weke ná Anene se dood ontmoet en sy was min of meer stom, sy was so getraumatiseer. My verhouding met haar het geleidelik en heeltemal afsonderlik van die teks gegroei. As alle 22-jariges in Suid-Afrika die helfte van haar integriteit en deursettingsvermoë gehad het, was ons op pad na ’n paradys. Ek het ’n artikel/storie met haar gedoen wat net voor Kersfees laas jaar in Rapport was. Die kop was ‘Sy is geen slagoffer nie’. Anne-Maré gaan, so verneem ek, deel wees van die groter verrigtinge rondom die een opvoering wat Rondomskrik op 1 November in Bredasdorp gaan hê. Nou dáár is vir jou ’n storie . . .

Die stuk kry staande applous. Wat was Van Greunen se insette wat die teks betref? Soos ek op die Veertjie-aand gesê het, as Hennie nie my teks – elke liewe weergawe van die 970 weergawes – elke keer geduikklop het nie, het dit nie vandag gelyk soos dit lyk nie.

Wat is die aangrypendste reaksie wat jy al van ’n teaterganger gekry het? Alles wat almal sê, maak my skaam en hartseer en bly. Ek bedoel, is dit nie genoeg dat mense geld uitgee en gelipstif in die kar klim en ry en parkeerplek soek en hul selfoon afsit en na jou play kom kyk nie?

Van Greunen sê hy hoop dat mense die stuk, soos met Die Naaimasjien, nog lank sal wil sien en dat die boodskap daarvan by gemeenskappe sal uitkom waar dit die nodigste is. Maar hy sê ook hy hoop daar kom ’n dag wanneer die toneelstuk sy relevansie verloor. Jou kommentaar. Hennie maak 99,9% van die tyd sin. I go with that.

Sien jy jouself as kortverhaalskrywer of dramaturg, of albei? Nie een van die twee nie. Buiten kortverhale en toneelstukke het ek al kinderboeke gepubliseer, twee romans (waarvan die een beskamend vrot), en twee versamelbundels met rubrieke. Ek skryf ook boekresensies en keurverslae vir uitgewers. Ek skryf sodat ek botter kan koop pleks van margarien. Ek skryf omdat ek nie tjello of toneel speel nie.

Waaraan skryf jy tans en broei daar al ’n idee vir ’n volgende drama? Daar “broei” altyd meer as wat een hen kan lê en kan grootmaak.

 Riette Rust is ’n skrywer en vryskutjoernalis. 

​Rondomskrik se speelvak:

7-11 Oktober: Aardklop;

31 Oktober: Clanwilliam;

1 November: Bredasdorp;

6-22 November: Baxter-teater, Kaapstad.

Rondomskrik is ook volgende jaar op die US Woordfees te sien en later in die Markteater in Johannesburg.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.