Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Boeke
Digterlike afdruk van 'n lewe verbeeld

Fotostaatmasjien

Bibi Slippers

TAFELBERG, R200

Bibi Slippers Foto: Sven Kristian

Moenie gaap net omdat ek sê hierdie bundel gaan oor intertekstualiteit nie. Maar by die lees kan jy jouself voortdurend liggies teen die voorkop klap, soos in “bliksem, wie sou raai?”, gevolg deur nog ’n klap agter die kop, soos in “wat ’n beeld!” Dit sal genoeg wees.

Want hierdie bundel maak ’n gawe aanslag op álle lewens.

En nou moet daardie plesierige Afrikaners vir wie hierdie bundel in die eerste plek geskryf is, my verskoon. Ek gaan my resensie vir die sogenaamde “intellektueles” skryf, sodat hulle kan weet Bibi Slippers het hulle ook lief. En sodat die plesieriges ook maar herinner kan word daaraan hulle lees meer as net ’n plesierigheid hier.

Die bundel bestryk die lewe van ’n stadsmeisie in die Suid-Afrika van vandag, so in haar vroeg dertigs, haar liefdes en onliefdes, haar huislik- en onhuislikhede, en veral die aktiwiteite wat so ’n lewe tipies kenmerk: die sosiale (sowel as asosiale) media (afdeling: “afscroll” en “album”); en die plasing van haarself binne die wyer tydsverloop van die land en die assorted waansinnige omwentelinge van haar politieke lot (afdeling: “gedoentes”; en die afdeling: “die tye en swye van Thamsanqua Jantjie”).

Daar vind ’n uiters innemende digterlike herinterpretasie van die skeppingsverhaal plaas, (waarmee ’n meisie soos die skrywer sou grootgeword het) in terme van moderne kantoortegnologie en hedendaagse media (afdeling: “die eerste fotostaatmasjien” en “dubbelfoute”).

Die kardinale woord vir hierdie bundel is “media”, waarin die mediavorme van vandag ’n metafoor word vir die aard van betekenis: iets wat bemiddeld bestaan, en wat omringende faktore nodig het om sin te maak, en selfs te bestaan.

Hierdie konnotasie van betekenis as ’n spel van skakerings, vind neerslag in die bladsye waarvan sommiges gemaak is om te lyk na swak gefotokopieerde bladsye, iets wat die onvolmaaktheid van die wêreld en sy voortplantings suggereer.

Maar die “grys” is ook metafoor vir meer as dit. Só word ’n verhouding beskryf wat afgesluit van sy omringende bestaan: “ons dae is sowel liggrys as geel/ die goeie grys van sywurms/ die liggeel van verbleikte knope”.

Die koppeling van “verhewe” temas (byvoorbeeld die skeppingsverhaal) met alledaagse verwysings uit die reklamewêreld en popkultuur, is nie nuut in Afrikaans nie. Uiteraard ook nie die tema van intertekstualiteit nie, wat terloops holrug gery is. So wat maak Slippers so vars?

Dit is die resonerende en driedimensionele onderbou wat sy haar tema verskaf in terme van vars beelde, slim registeruitdrukkings, die aktivering van ’n aktuele wêreld, en veral ’n stemtoon waarin lakoniese humor hoogty vier.

Ek gaan ’n Nederlandse letterkundige, Rosemarie Buikema, aanhaal, waar sy kritiek lewer op die hantering van intertekstualiteit in kuns en kunskritiek: “ . . . intertextuality is [often] applied as a form of ideological criticism . . . in danger of reducing popular culture and artistic expressions to a mes-sage about the construction of gender, ethnicity, nationality and/or sexuality, thereby paying too little attention to the specific nature of the medium and the effect of its form.”

Die maklike dekonstrueerbaarheid waartoe die tema van intertekstualiteit homself verleen, het al te dikwels in tematiese en strukturele oppervlakkigheid ontaard. Fotostaatmasjien trap nie in hierdie slagyster nie.

Die opsetlike aanwending van intertekstualiteit, wat die Afrikaanse digkuns al vir dekades kenmerk, veronderstel ook nie noodwendig oorskryende digkuns net omdat intertekstualiteit ’n sogenaamde postmoderne tema is nie. Die digter T.T. Cloete, byvoorbeeld, het die motief behendig gebruik om ’n eintlik baie behoudende lewensuitkyk, naamlik van ’n universele kohesie en skeppingsplan, uit te druk. Slippers se hele opset suggereer ’n teenhanger by uitstek. ’n Belangrike implikasie van haar beelde blyk juis te wees dat daar geen vooropgestelde logika is wat die ooreenkomste tussen sosiale en natuurlike verskynsels verklaar nie (’n aanname wat ook dikwels voorkom in die ekopoësie); dat dit pure ongeluk is wat bepaal, en dat die wêreld se samehang min of meer op die grille van waarneming berus.

Een van die baie treffende wyses waarop sy hierdie lig gehanteerde suggestie uitdruk is ’n motief van homonimie. Woorde wat dieselfde klink maar niks met mekaar te make het nie word spottenderwys gebruik om struktuurbepalend in die bundel te funksioneer.

Een van die baie treffende wyses waarop sy hierdie lig gehanteerde suggestie uitdruk is ’n motief van homonimie.

My gunsteling is die gedig “ondersoek na die geskilderde windhond met spesifieke verwysing na die latere werk van Lucian Freud”, waarin byvoorbeeld die betekenisse van “Dinsdag” en “dunste” berym word. Die gedig steek sodoende die draak met psigoanalitiese ontledings van kuns: “watter weeksdag is die wind- / hond? mens wil dink ’n woens- /dag, maar, nee: die windhond/is dunner, en ’n dinsdag dus.”

Op bl. 39 in die gedig “What Jesus would do” skakel die woord “tiete” en die tema om iemand te verneuk (in ’n verhouding) met die volgende gedig se titel “David Tieties van Verneukpan dra sy donkie”. Die idee van konvensionele betekenisskakeling word met hierdie toevallige homonimiese verbandlegging omvergewerp, soos ook die orde van rydier en ryer in die meegaande foto, van ’n karretjiesman wat sy donkie dra.

Van die hoogtepunte met hierdie motief kom voor in die gedigte “my pop val stukkend” (waar “pop” na popkultuur verwys); en ook in “Foutiewe vertaling i: Copy” (bl. 118); en “Foutiewe vertaling ii: Cut”, waar “copy” en “cut” onderskeidelik “koppie” en “kat” beteken.

Die intertekstuele tema voltrek homself verder op vele wyses, onder meer op die maniere waarop die digter haar Afrikaanse digterlike voorgangers betrek. Dis egter die wyse van betrekking wat hier belangrik is: integraal ingeborduur in die geledinge van die bundel, wat hier en daar aan konkrete poësie grens.

Die hantering van erotiek en raaiselagtigheid in die magiese gediggie “Voëlvang in die skemering”, is ’n Jonker op haar beste waardig.

“Die resiesfiets en die reier” herinner aan die Nederlandse digter Gerrit Krol se vermoë tot elliptiese skakeling en is op ’n soortgelyke vlak van grillige beeldingsvernuf. ’n Verdere hoogtepunt van die tema is die heerlik speelse tweeluik “Vergissing”, waarmee die bundel afsluit.

Natuurlik is daar ook insinkings (“15 instagram-gedigte”). Insinkings? Totdat jy sien hierdie prestasies van “ligter allooi” versterk die tema van lukraakheid op die vlak van die bundel se leitmotiewe. Die bundel maak ’n appèl op die breë lesersmark sowel as op die fynproewerleser. Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fame regop sit.

Charl-Pierre Naudé is ’n digter van Johannesburg.

Meer oor:  Bibi Slippers  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.