27 Maart 00:52
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Boeke
‘Elke manuskrip sal huis kry’

Louis Esterhuizen, literêre agent, saam met sy vrou, die digteres Marlise Joubert.Foto: Jaco Marais

In Suid-Afrika, en veral in Afrikaans, is die konsep van ’n “literêre agent” ’n vreemde idee. Jo Prins het Louis Esterhuizen, wat onlangs ’n literêre agentskap begin het, ’n paar vrae gevra.

Was hierdie vir jou ’n natuurlike oorgang ná jou jare as bestuurder by Protea Boekhuis in Stellenbosch (en as digter)?

Inderdaad. Dit is vreemd, maar dit voel asof al my beroepservarings my na hierdie punt toe gedwing het. Vir my is daar amper iets onafwendbaar daaraan dat ek my op hierdie stadium van my lewe sal bevind in die posisie van tekspraktisyn; in hoofsaak weens my ervaring van die boekbedryf as skrywer en handelaar, maar ook ten opsigte van “teks” en die produksie daarvan.

Hoekom “literêre agent”? Is daar plek vir so iets in die literêre landskap in Suid-Afrika?

Baie beslis. Die afgelope dekade het die Afrikaanse boekbedryf enorm gegroei; nie net ten opsigte van produksie nie, maar ook verkope. Tydens my jare as boekhandelaar was ek dikwels in gesprek met uitgewers en ek het sterk onder die indruk gekom van die frustrasies binne die bedryf: uit elke 100 manuskripte wat byvoorbeeld ontvang word, sal waarskynlik nie eens tien vir publikasie aanvaar word nie.

Die magdom wat teruggestuur word, het egter koste-implikasies ten opsigte van leestyd, buitekeuring, ensovoorts. In dieselfde tyd was ek ook dikwels in gesprek met skrywers wat manuskripte terug ontvang het, maar die terugvoering was sodanig dat hulle nie weet wat om verder met die manuskrip waarin soveel moeite en tyd belê is, te doen nie.

En altyd die vraag: of ek nie sal omgee om net te “kyk” nie.

Boonop het hierdie toedrag van sake aanleiding gegee tot ’n groeiende alternatiewe bedryf: selfpublikasies en die toetrede van “ego”-uitgewers wat ’n boek teen betaling vir die skrywer publiseer.

Vandaar die noodsaak vir ’n literêre agentskap, myns insiens.

Iemand wat nie net as bemiddelaar tussen teks, skrywer en uitgewer kan optree en ’n bepaalde diens kan lewer ten opsigte van manuskripontwikkeling én teksversorging nie, maar ook kundige advies kan gee oor die verdere verloop onderweg na publikasie.

Wat presies is die rol van die literêre agent? Wat is die proses?

Uiteraard sal daar ’n verskil wees tussen die plaaslike en die oorsese ekwivalent. Daar is dit ’n gevestigde bedryf waarvolgens uitgewers hul produksiekoste beperk deur die literêre agent te bemagtig omrede baie van die teksversorging – wat hier ter land tradisioneel die taak van die uitgewer is – reeds op daardie vlak geskied. Die rol van die literêre agent is dus onder andere dié van teksbegeleier; van manuskripontwikkeling en gepaardgaande taalversorging, tot en met die punt van onderhandeling (of aanbeveling) ten opsigte van moontlike publikasie. Hierdie verskeidenheid dienste is egter nié uniek nie: talle taalpraktisyns lewer dié dienste al vir jare met groot sukses op vryskutbasis aan ’n verskeidenheid kliënte, insluitend uitgewers.

Wat egter nou nodig geword het, volgens my, is dat dié verskeidenheid dienste gekonsolideer en as ’n pakket aangebied moet word ter ondersteuning van sowel die skrywer as die moontlike uitgewer.

Dink jy nie die konsep is te vreemd hier ter plaatse nie? Mense is dalk bekend met Isobel Dixon van Blake Friedmann, maar . . .

Moontlik, maar tog is dit ook niks “nuuts” nie. Soos ek hierbo aangetoon het, is die uitdaging nou om ’n meer formele struktuur te probeer vestig ten einde as bemiddelaar te kan funksioneer. Nie al die manuskripte wat deur ’n uitgewer van die hand gewys word, is immers sonder verdienste nie. Ook is ’n bepaalde manuskrip, hoe goed dit ook al geskryf mag wees, nie noodwendig geskik vir ’n spesifieke uitgewery nie. Elke uitgewer publiseer immers boeke na gelang van markdinamika, -fokus en publikasielys.

Terloops, ek is van mening dat daar tans géén manuskrip van waarde bestaan wat nié ’n uitgewer sal vind nie. Dit is egter daardie “van waarde”, en die wyse waarvolgens dit bepaal word, wat problematies is. Hiervolgens het die literêre agent ’n rol te speel ten opsigte van waarde wat toegevoeg word tot die manuskrip; selfs nog vóór dit voorgelê word aan die uitgewer.

Het jy enige planne om die agentskap uit te brei?

Natuurlik droom ’n mens van ’n uitgebreide agentskap, maar daar is nog vele strukture wat eers onderhandel en tot stand gebring sal moet word. Die reaksie op my aankondiging was egter bemoedigend; die hoop beskaam dus nie.

Op dié tydstip wil ek egter net voldoende inkomste genereer deur middel van ’n inisiatief wat nie net bedryfskennis verg nie, maar terselfdertyd ook ’n persoonlike passie is.

Daar is heelwat mense wat beweer hulle ontwikkel voornemende skrywers se manuskripte, maar is self nie skrywers nie. Wat meen jy maak ’n goeie agent?

Respek vir die teks. Dit staan vir my sentraal. Soos ’n kind se strewe na wasdom, is die teks. En jy hanteer nie alle kinders dieselfde nie. Elkeen moet op eie meriete hanteer word.

Nie dat dit beteken dat dissipline, selfs stréng dissipline, nie by tye nodig is nie. In hierdie opsig het die skrywer waarskynlik ’n voordeel bo die nie-skrywer omrede die skrywer waarskynlik ’n duideliker begrip het vir die proses waarvolgens ’n teks tot stand kom.

Suksesvolle manuskripte is nie gewaarborg nie (manuskripte wat deur uitgewers aanvaar word vir publikasie). Hoe hanteer jy dit? Hoe bestuur jy die voornememde skrywer se verwagtinge?

Deur te alle tye eerlik en met integriteit te onderhandel. Wanneer ek aan ’n kliënt verslag doen, wys ek pertinent op die haalbaarheid van die teks, watter uitgewer moontlik geïnteresseerd mag wees en wat die kanse op sukses waarskynlik is.

Hoe werk betaling?

Weens die gestruktureerde bedryf oorsee ontvang die literêre agent by wyse van vergoeding ’n beduidende persentasie van die kliënt se tantième. In Suid-Afrika is dié reëling egter nog nie haalbaar nie, omrede die drukoplae per titel veel kleiner is as oorsee en die tantième dienooreenkomstig veel minder, persentasiegewys.

Gevolglik kwoteer ek tans nog volgens aanvaarbare vryskuttariewe vir elke diens wat verlang word: hetsy lees- of keurverslag, manuskripontwikkeling of taalversorging.

Die aanbeveling ten gunste van ’n bepaalde uitgewer – en moontlike verdere onderhandeling – is dus gratis en vorm deel van die diens wat ek wens te lewer.

My toetrede is gewoon om die waarskynlikheid van ’n suksesvolle publikasie te verbeter; of dit dan nou by wyse van selfpublikasie is of deur ’n gevestigde uitgewery.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.