Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Boeke
Gedigte verken Bibi se wêreld

Debuutbundel al met die eerste oogopslag aweregs, skryf Neil Cochrane.

Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R200.

Afrikaanse digters is nie so gewild soos Kurt Darren, Jay of Lianie May nie. Hulle tree nie voor massagehore op nie en digbundels haal nie platinumverkope nie. Die meeste digters is hermiete wat jy ontmoet in knus boekwinkels of by intieme optredes iewers op ’n feesprogram. Met Bibi Slippers is dit anders gesteld. As installasiekunstenaar hang sy woorde tussen mure en bedryf taal in openbare Babeltorings. Sy praat oor boeke op haar televisieprogram In die bed met Bibi en deel haar passie vir skape en ander wollerige goedjies met baie volgelinge op sosiale media.

Fotostaatmasjien, haar debuutbundel, is reeds met die eerste oogopslag aweregs. Dit is speelkleigeel en van die bladsye lyk soos swak fotokopieë met swart inkblertse, grys afdrukstrepe en penmerkies. Sommige gedigte is windskeef of op ’n pikswart agtergrond gedruk, terwyl ander jou herinner aan haastige knipsels vir ’n laerskooltaak. Daar is ook tegniese sketse, ’n kleuterskoolrapport en ’n foto van ’n man by ’n babadonkie.

Op die omslag is ’n onleesbare reproduksie van ’n gedig. Dit is duidelik gemaak deur ’n gehawende kopieermasjien met ’n nypende inktekort. Moet asseblief nie jou geld terugvra nie, want niks skort met jou eksemplaar nie.

Fotostaatmasjien is nie ’n gewone digbundel nie, maar ’n kunsboek waarin Slippers teks, tipografie, beeld en vorm op kreatiewe maniere vermeng.

Die verfomfaaide inslag en andersoor­tige visuele elemente vorm deel van haar werkwyse. Sy is ’n vroetelende kleuter wat knip, spoeg en plak uit ’n allegaartjie-argief van tekste – popliedjies, motto’s, Instagram-foto’s, kunswerke en gedigte.

In dié opsig verwys sy na haarself as ’n “skiewie in die skriptorium” en ’n “afvallige amanuensis”. Al lyk dit miskien so, is sy beslis nie met kinderspeletjies besig nie. Deur gesofistikeerde nawerking en herinterpretasie van bestaande tekste ontkiem nuwe (en selfs beter) tekste wat iets anders te sê het.

’n Goeie voorbeeld is “En route: Suid-Afrika” wat gegrond is op die bekende “America” van die Amerikaanse digter Allen Ginsberg. Net soos die gedig van Ginsberg is dit ’n kompromislose klaaglied teen ’n onuithoudbare samelewing, alhoewel die fokus nou verskuif na ’n jong wit vrou op reis deur ’n teenstrydige doolhof:

Lees my heupe:

Jou asem ruik na moord en kruisement

almal byt op hul gebalde vuiste.

Net die volstruise lyk nog lus om liefde te maak

In die slotstrofe verwoord die spreker haar hardnekkige verset teen die chaos en paradoks in ’n taal wat almal kan verstaan:

Goeiemôre Suid-Afrika, ons moet opstaan en aangaan.

Lig jou gat, ek is klaar met jou stories oor bloed en berading.

Ek volg jou voorbeeld, volg jy nou myne.

Suid-Afrika, ek sit my spanner in die wiel.

Bibi is die hofnar in die Koninklike Paleis van die Poësie. In “my pop val stukkend” stel sy poësie gelyk aan ’n saai kloosterkoek wat bevrees is “om bietjie boudwang te laat uithang” en niemand se oog tref nie. Gelukkig het sy darem ’n sexy suster genaamd Populêre Kultuur (of sommer net Pop) oor wie almal gaande is, want sy “spin spookasem van als wat/seermaak of plooie veroorsaak”. Die spreker se raad aan mededigters is ook ’n manifes van haar gedagtes oor die digkuns:

hou dit lig en pienk en eetbaar, poëte

vergeet die gewete en hogere kuns

gaan koop vir jou hoëhakskoene

en ’n hotpant laat staan jou righteous

rant en word ordentlik meegevoer

deur die dinge wat net flikker om die grense

van enige goedbeligte disko-dansvloer

Slippers se gedagtes oor poësie kom baie ooreen met dié van haar versvriend Loftus Marais. Sy boogie, terwyl hy rock in “Die digter as rockstar” uit sy debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters (2008). In dieselfde gedig speel Marais met sy “fokken lugdrukboor” klaar met Van Wyk Louw se beiteltjie, terwyl Slippers in “Jonker as voorbok van Afrikaanse pop” die spot dryf met Ingrid Jonker se paarrym en verkleinwoordjies. Jonker se “grootste bydrae bly egter die bybies en die bokkies” wat vandag nog voorteggo in Afrikaanse popmusiek.

Enersyds ondermyn Slippers die kultusstatus van Jonker; andersyds ontbloot sy die kinderagtige brabbeltaal van Afrikaanse popsangers:

Deel 3 van Rook en Oker is pure pop, ek meen “Jy’t my

gekierang Dolie / jy’t my gefop”!? en dan daai inspired

stroke of genius: “Dolie bokkie baby” – waarvan die eggo

tot in ewigheid met ons gaan bly in die treffers van Karlien

en Kurt en Bobby en Lianie May en Jay

Slippers verstaan populêre kultuur baie goed, hoewel sy teenstellende beskouings hieroor het.

Sy ontmasker die oppervlakkigheid, terwyl sy terselfdertyd haar verwonder aan popstertruuks. In die gedigreeks “waarlangs ek weer: herhalende temas in die treffers van Taylor Swift” val die fokus op die foefies van dié Amerikaanse country(pop)sangeres. Swift sing dikwels oor haar liefdesteleurstellings en verhoudings met mans. Hierdeur gee sy gehoor aan haar aanhangers wat graag glo dat hul liefdesdriehoekies ook van popstergehalte is. Dit alles kom neer op ’n martelende sirkelgang van verveling wat die spreker uitstekend in die slotreëls van “mans (meermalig) mans” aan die kaak stel:

bekend: die ekstase en die opwinding die eenvoud

soms van liefhê en die kwelling die kleure waarin

daar ervaar word die sinksand die beginne en die

eindes en die eindes

In “mans/melodrama: Eddie Raymayne” wys die spreker op hoe vernuftig Swift vuilbekkige skinderstories in ’n trefferliedjie kan omtower. As bekroonde popster gee sy skinderbekke baie om oor te praat, maar Taylor is nie dom nie. Sy skryf ’n liedjie hieroor, noem dit “Blank Space” en verkoop duisende kopieë.

Die liefdesgedigte is vir my een van die hoogtepunte, alhoewel Slippers in “halfhartige poging tot ’n oorspronklike liefdesgedig” sê dat dit onmoontlik is om oorspronklike liefdesgedigte te skryf, want dit is ’n tema waaroor al so baie gedig is. Daar is eintlik niks meer oor die liefde te sê nie, behalwe dat “die enigste opwinding lê/in die fabrieksfoute/en flaterkodes”. ’n Mens moet egter nie alles glo wat digters kwytraak nie, want die liefdesgedigte in die gedigreeks “mix tape” is allesbehalwe mislukte pogings. Dit is opstoppergedigte oor die liefde as ’n emosionele bokskryt. In die uitstekende “Kostuumpartytjies” gaan dit om die ontkenning van ou wonde:

asof jy nooit ophou dans het nie

asof jy nooit ophou soen het nie

asof al die vorige houe ook van kussings was

Slippers is ’n internet-junkie in murg en been. Sy voel tuis in die kuberparadys waarin sy ongebonde flaneer. Die afdeling “Afscroll” bestaan uit gedigte oor soekenjins, emoji’s en Instagram-foto’s. Die reeks “15 instagram-gedigte” bestaan uit 15 flitsverse oor die spreker se Instagram-obsessie. In die gedig “Hefe” gebruik Slippers die bekende Uys Krige-gedig “Ken jy die see . . .” om verskille tussen toe en nou uit te wys. Anders as in Krige se tyd, beleef ons vandag die wêreld op ’n nagebootste manier. Ons ervaar alles, maar tegelyk ook niks:

ken jy die see, meneer, of net

die mak blokkies kleur wat

daarvoor instaan hier? ken jy

die koue of net die foto’s van

water in die diepste bloue wat

oor die skerm stroom?

Vir Slippers gaan dit nie slegs om oulike Instagram-foto’s van hondjies en katjies nie; dit is vir haar ’n soort lewensideaal om na te streef:

ek wil ’n ander lewe hê, een wat meer

soos Instagram is: volkleur, vierkantig

geraam, geredigeer. gemaklik-vervelig

en ergonomies maar verslawend.

In die reeks “Handgebare: Die tye en swye van Thamsanqa Jantjie” bied die spreker ’n herinterpretasie van die kommunikasiesirkus wat op 10 Desember 2013 op die Mandela-gedenkdiens plaasgevind het. Die skisofreniese aard van dié gebeure word meesterlik in die gedig “Program” verwoord:

laastens nog vir oulaas ’n vinnige

preek en dan die dankies. dinkies. . .

dinkies: donkies! bankie maan &

Osama se ma (o ja)

niks kos nie sekel lê nie af riet kla

In die visuele kunste het ons reeds Christina’s World, daardie bekende skildery van Andrew Wyeth van ’n jong meisie op ’n grasveld wat opkyk na ’n plaashuis doer in die verte. In die romankuns is Sophie’s World deur die Noorweegse skrywer Jostein Gaarder, wat handel oor ’n tienermeisie en haar middeljarige leermeester in die filosofie.

Nou is daar Bibi se Wêreld van popsterre, alle soorte voëls(e), fietse, kussinggevegte, alpakkas en llamas. In dié wêreld is baie Bibi’s aan die woord. Jeuk jy al van nuuskierigheid?

Slippers is ’n wolf in skaapsklere wat baie slim te werk gaan. Die slotwoorde oor haar verrassende debuutbundel behoort egter aan die voormalige popsensasie Roxette: “I’m gonna get dressed for success, hitting a spot for the big time, baby.”

  • Neil Cochrane is ’n dosent in Afrikaanse letterkunde in die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Meer oor:  Bibi Slippers  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.