22 Julie 09:33
Kaapstad Verander Area

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 67%

Sondag

17°C / 12°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Maandag

17°C / 10°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 41km/h

Reënval 13mm

Humiditeit 68%

Woensdag

13°C / 9°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Donderdag

17°C / 8°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Boeke
In stories lê groot deel van waarheid

Dié grootse roman is die hoogtepunt van die temas in Van Heerden se oeuvre, skryf Frederick J. Botha.

Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R350.

Tolstoi het gesê: “Alle groot letterkunde is een van twee verhale: ’n man vertrek op ’n reis of ’n vreemdeling kom in ’n dorp aan.” Hierdie definisie is ’n volmaakte opsomming van Etienne van Heerden se jongste roman, Die wêreld van Charlie Oeng. Maar dis nie die rede hoekom ’n mens dié roman as “grootse” letterkunde kan bestempel nie: Wat veel meer meriete dra, is dat Van Heerden daarin slaag om met die bedrewenheid van ’n meester ’n ambisieuse roman te skep wat tegelykertyd vermaak, ontroer en intellektueel prikkel.

Van Heerden se 11de roman bevat soos talle van sy vorige romans verskeie verhaallyne wat uiteindelik op vernuftige wyse met mekaar verbind word.

Tian Kilian is ’n uitgewer van Kaapstad wie se ouers destyds voor sy oë op hul plaas, Slootplaas, in die Karoo vermoor is. As volwassene sukkel hy steeds om hierdie pyn te verwerk en is hy belas met ’n skuldgevoel oor sy moontlike aandadigheid wat soos die swael­reuk van vuurwerke om hom hang.

Daarom besluit Tian om Charlie Ng, oftewel “Oeng” se verhaal te skryf: die Chinees wat lank gelede op hul plaas opgedaag en gevra het om ’n vuurwerkvertoning vir hulle te hou. Sodoende reis Tian na Amsterdam en Kowloon in Hongkong, al op die spoor van Charlie se verlede, want soos hy dit stel, “as ek hom begryp, het ek die roete na myself gevind”.

Charlie, later ook bekend as Koekepan, Soutchinees en Gelatenheid, word groot in Amsterdam as deel van Nederland se Chinese gemeenskap. As jong seun toon hy reeds ’n kunstalent, maar dit word deur die matriarg van die familie, Ouma Voetjies, afgekeur. Charlie begin in ’n fietswinkel werk, maar wanneer hy onbedoeld by ’n noodlottige ongeluk betrokke raak, is sy enigste uitweg om as slagter deel te word van die triade: ’n netwerk wat onder meer goedkoop vark- en eendevleis aan Chinese restaurante smokkel.

Charlie besluit later om weg te breek en dit is dan wanneer sy vlugtelingsbestaan begin: Eers vlug hy na Parys waar hy straatkunstenaar word, dan word hy kok en hofsketser vir Duitse offisiere, en uiteindelik bevind hy hom as bedelaar in Kowloon, voordat hy as byspeler ingespan word in die Brits-Amerikaanse rolprent The World of Suzie Wong (waarvan die roman­titel heel moontlik afgelei is).

Met die triade steeds op sy spoor vlug Charlie na Suid-Afrika waar hy op die soutpanne in die Oos-Kaap gaan werk, voordat hy uiteindelik op ’n klein dorpie in die Karoo beland waar sy pad met dié van Tian en sy ouers s’n kruis.

Die vertelling kan beskou word as Tian se opskryf van Charlie se lewensverhaal wat met die herinneringe aan sy eie grootwordjare in die Karoo vervleg word. So word die verhaal ingekleur met boeiende karakters wat elk bydra tot die talle intriges in die roman: die heldersiende Ouma Ogies, die blinde bywoner op Tian-hulle se plaas; Witkant, die albino-Xhosa wat as informant vir die veiligheidspolisie optree; die naamlose Sy wat saam met Charlie per boot na Afrika vlug en met wie hy ’n verhouding aanknoop; en die Hollander Corrie van Gogh – afstammeling van Vincent van Gogh se minder bekende broer Cor – wat met ? geheime agenda na Afrika vlug.

Omdat dit ons nie altyd beskore is om te weet hoe die mens “se gemoed omgaan met dinge soos skaamte, vernedering en jaloesie nie”, word daar deur middel van uitgebreide vertellings gestalte gegee aan bogenoemde randfigure, uitgewekenes en voortvlugtiges, en word hierdie karakters almal teenoor Charlie geplaas om te wys dat sy wêreld ook hulle s’n is.

Dit is veral met die tekening van Witkant waarmee Van Heerden hom oortref: ’n volronde karakter wat eers bejammering en simpatie by die leser wek, maar ons uiteindelik met volskaalse verafskuwing vul.

Hoewel die roman oor verskeie dekades en ruimtes afspeel, is dit veral die 1960’s in Suid-Afrika wat as oortuigende era geskets word, veral aan die hand van die kleindorpse verkramptheid en die ideologieë van die tyd wat betrek word. Dit is egter met sy tekening van ruimtes soos Amsterdam en in die besonder Kowloon waarmee Van Heerden as woordsmid die leser heeltemal meevoer – elke moontlike sintuig word geprikkel wat hierdie ruimtes op die bladsye tot lewe roep en die leser saam op Charlie se spoor laat loop.

Soos in talle van Van Heerden se romans speel die magiese hier net so ’n groot rol: van Ouma Ogies se droombeelde en haar vermoë om die Skreeu in die sloot te sien, tot by die drakies in Charlie en Witkant se skuur en die “toorwiel” wat Charlie trek en waarbinne hy gaan staan om van alle boosheid beskerm te word.

Kwessies oor identiteit word ook dikwels in Van Heerden se oeuvre aangeraak, en in hierdie roman bereik dit ’n hoogtepunt in die karakter van Charlie: ’n Hollandse Chinees wat hom uiteindelik aan die suidpunt van Afrika kom vestig en Afrikaans leer praat. In Hongkong is dit waar Charlie tot die besef kom: “Hy is so ver van hierdie taal verwyder, net soos hy van die Hollands van Amsterdam verwyder was. Waar hoort hy en waar is woorde wat hy verstaan?” Hierop bied Tian self ’n moontlike antwoord: “Die land van stories is my land van herkoms.”

Juis daarom is die naspeur en vertel van ons stories, soos Tian uiteindelik opnuut besef, die enigste manier hoe ons werklik óns waarheid kan bepaal. Sodoende dien skryf dus as ’n vorm van terapie; ’n middel tot genesing. Tian besef egter dat ’n mens altyd net ’n gedeelte van die waarheid op papier kan opteken: “Die grootste deel, dit wat waarskynlik die waarder waarheid is, bly ongeskryf.”

Die wêreld van Charlie Oeng is ’n grootopgesette en meesleurende roman waarmee Van Heerden voortbou op bekende temas uit sy oeuvre en bewys waarom hy een van die bedrewenste prosaïste in Afrikaans is. Aanhangers van sy werk sal groot genoeglikheid vind in die verbande wat ­getrek kan word tussen hierdie roman en sy Hertzogprysbekroonde 30 nagte in ­Amsterdam.

  • Frederick J. Botha is ’n draaiboekskrywer van Kaapstad en doktorale student in Afrikaanse letterkunde.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.