23 Augustus 13:58
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 12°C

Wind 19km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 28km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 63%

Saterdag

16°C / 11°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Maandag

20°C / 9°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 51%

Boeke
Meesterlike Deon Meyer oortref homself

Koors

Deon Meyer

HUMAN & ROUSSEAU, R290

Deon Meyer Foto: Mlungisi Louw

Die sinsnede wat ’n mens bybly wanneer jy Koors neersit, is “die verskeurende pyn van kennis”.

Inderdaad. Hierdie roman is die boek van die kennis van goed en kwaad. Deon Meyer was nog altyd filosofies ingestel, maar in Koors maak hy sy volwaardige buiging as “filosofiese romanskrywer” met die klem sterk op La condition hu­maine, soos die skrywers Albert Camus, Stendhal, Balzac, Melville, Proust en Dostojewski.

Hieruit kan afgelei word dat Meyer as skrywer ’n nuwe koers ingeslaan het, maar filosofies of nié, bly dit steeds ’n spanningsverhaal wat jou van bladsy na bladsy laat asem ophou.

Die Koors, soos dit deurgaans genoem word, het weens ’n komplekse nuwe virus 95% van die wêreld se bevolking uitgewis. In Suid-Afrika lê plase, dorpe en huise verlate. Diere soos honde en varke het wild geword en val mense in troppe aan. In hierdie landskap wat soos “ou” Afrika in “sagte lig met die kleur van heuning” stil is met slegs die “dik” geluide van voëlsang en insekte, dreun die bose ­egter nader.

In dié stille verlatenheid brom ’n Volvo FH 12 en ’n toe sleepwa met 16 wiele. Willem Storm en sy 13-jarige seun Nico is na nêrens op pad. Die sleepwa is vol gelaai met kos, medisyne, wapens en boeke wat in verlate winkels en biblioteke gekry is. Daar is ’n teer verhouding tussen hierdie twee wat ná Die Koors en die dood van Nico se ma op mekaar aangewys is.

Die verhouding tussen hulle is die leitmotief van Koors. Willem is ’n sagsinnige en slim man wat graag oor die herkoms van woorde en filosowe soos Spinoza, Voltaire en ander besin. Hy het die visie om iewers ’n gemeenskap van oorlewendes te skep met moraliteit, die regte beginsels en ware omgee vir mekaar. Vir Nico is sy pa ’n held.

Hulle beland dan op die dorpie Vanderkloof en die dam en vestig daar ’n nuwe “kolonie” met die naam Amanzi. Die bose dreun kort-kort met motorfietse hierdie paradys binne. Die meeste van die oorlewendes het roekelose geweldenaars geword wat sonder huiwering selfs kinders doodmaak op soek na kos, diesel en soms vroue. Meyer ondersoek die vraag of beskawing nie dalk net vernis is wat die diere in mense verdoesel nie.

Hierdie ongebreidelde geweld laat sy merk op die verhouding tussen pa en seun. Op 13 moet Nico twee mans doodskiet ten einde te keer dat sy pa vermoor word. Nico noem daardie gebeurtenis die Tweede Groot Verlies ná die dood van sy ma, want hy besef: “Hulle het my beroof van my pa as heldefiguur.” Hy sien sy pa skielik as tenger, broos, bang, breekbaar en sterflik. Hy besef hy sal voortaan sy pa moet beskerm, en hy word kwaad vir sy pa hoewel hy hom steeds hartstogtelik liefhet.

Met die aankoms van die enigmatiese Domingo met ’n “harde” ­filosofie kry Nico ’n nuwe held.

Domingo was op sy dag ’n bendeleier en soldaat en is bekend met geweld en die dood. Hy word dan ook die leier van die soldate wat noodwendig ter beskerming van Amanzi opgelei moet word. Op 17 het sersant Nico reeds 12 mense doodgemaak en die kloof tussen hom en sy pa verdiep. Sy pa probeer verstaan, maar Nico verhard sy hart. Onder invloed van Domingo dink hy: “Ons is diere, social animals. Domesticated, social ­animals.”

Die gemeenskap van Amanzi het intussen teruggeval na die ou weë. Godsdiens veroorsaak ’n kloof en gou word daar politieke partye gestig. Die godsdienstige groep trek weg en eis ’n aandeel van alles wat intussen opgebou is. Die spanning binne en buite die gemeenskap loop hoog. Meyer som dit goed op: “Die ‘hulle’ verenig die ‘ons’, veral as die ‘hulle’ boos is en die ‘ons’ goed.”

Dit is ’n dik en uitsonderlike boek hierdie, propvol interessante en goed afgeronde karakters. Elkeen met ’n eie storie. Soos nog selde in Afrikaans word die “menslike kondisie” gedissekteer. Die eerste sin van die verhaal lui: “Ons onthou die oomblikke van vrees, verlies en vernedering die beste.” Hierdie sin word verskeie kere in Koors herhaal en dit is hierdie onthou wat die skerp mes word waarmee die menslike aard blootgelê word.

By die onlangse Vrystaat Kunstefees is die nuwe uitgawe van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Perspektief en profiel, bekend gestel.

Die redakteur, prof. Hennie van Coller, het onder meer gesê dat Meyer vir sy bydrae op die gebied van speurverhale ook opgeneem is omdat sy verhale “na die letterkunde neig”. Met Koors is dit beslis die geval.

Ondanks ’n slot wat vir hierdie leser ontoereikend was, bevestig Koors die filosofiese inslag met die stelling “dat die mens sélf die plaag is”!

Deon Meyer oortref homself.

Cas van Rensburg is ’n oudjoernalis en skrywer van Onrusrivier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.