22 Augustus 20:43
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 11°C

Wind 27km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 59%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Saterdag

18°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Sondag

19°C / 11°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

21°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Boeke
’n Magistrale geskiedenis van Afrikaans
Jerzy Koch se boek is die deeglikste tot nog toe oor die ontstaan van Afrikaans, skryf Daniel Hugo.
Jerzy Koch en Daniel Hugo Foto: Verskaf

Jerzy Koch – A History of South African Liter­ature: Afrikaans Literature 17th - 19th Centuries, Van Schaik. 360 bladsye.

Met hierdie magistrale boek skop die Poolse professor Jerzy Koch stof in die oë van die meeste Afrikaanse literatuurhistorici. Dit is die omvattendste en deeglikste geskiedenis tot nog toe van die ontstaan van die Afrikaanse letterkunde. Dit is oorspronklik in Pools geskryf en besonder leesbaar in Engels vertaal deur Dominika Ferens.

Koch doseer al ’n geruime tyd Nederlandse koloniale literatuur, Suid-Afrikaanse Engelse en Afrikaanse letterkunde aan universiteite in Pole. Vir die eerste keer word die oorsprong van die Afrikaanse letterkunde binne wyer Europese en koloniale kontekste geplaas. Hy wys byvoorbeeld op 17de- en 18de-eeuse tekste (dagboeke en reisverhale in verskeie Europese tale) wat die uitvloeisel was van die sogenaamde “wetenskaplike toerisme” van destyds.

Verder het die amptenare (in opdrag van die VOC) en die koloniste self (vrywillig) ook dinge opgeteken as ’n bydrae tot die amptelike geskiedskrywing van die handelsmaatskappy wat die land bestuur het en as persoonlike ars memoriae (herinneringskuns). Hierdie geskrifte is skatkamers van ou taalvorme waaruit die ontwikkeling van Afrikaans nagespeur kan word.

Die verhaal begin by die deesdae so vermaledyde Jan van Riebeeck in 1652. Van Riebeeck se vrou, Maria, het die tienjarige Khoi-meisie Krotoa in haar huishouding opgeneem, haar leer lees en bid, en toe herdoop tot Eva.

Die vroegste opgetekende voorbeelde van geradbraakte Nederlands deur Khoi-sprekers kom uit hofverslae van 1671 en 1672.

Die Khoi-meisie leer Nederlands so goed praat dat sy Van Riebeeck se belangrikste tolk en bron van inligting omtrent die Khoi word. Van Riebeeck skryf in sy Daghregister vol lof van Eva dat sy “terdegen perfect Duyts spreekt”. Met Duyts het Van Riebeeck natuurlik 17de-eeuse Nederlands bedoel – ’n taal wat toe maar onlangs gestandaardiseer is met die verskyning van die Statenbijbel in 1637. In dieselfde trant het Afrikaans ook talle name die afgelope drie eeue gehad: Kaaps-Hollands, Plat-Hollands, Dopper-Hollands, Hottentot-Hollands, Boere-Kaaps, Patriots, Kombuistaal, ensovoorts.

Die vroegste opgetekende voorbeelde van geradbraakte Nederlands deur Khoi-sprekers kom uit hofverslae van 1671 en 1672. En in 1710 is die volgende wrang opmerking aangeteken: “Ons denkum ons altijt Baas, maar, ja zienom, Duitsman meer Baas.” In die benaming “Duitsman” vir ’n wit man van Nederlandse herkoms hoor ’n mens die eggo van Van Riebeeck se “Duyts” vir sy moedertaal

Die geskiedenis van Suid-Afrika en van Afrikaans is inderdaad een van akkulturasie en kontak tussen inheemse en uitheemse tale. Hierdie Babelse taalverwarring het selfs ’n komiese wending gekry met die eerste Khoi-Nederlandse woordelys wat in 1663 deur Georg Friedrich Wreede saamgestel is. Hy het dit om ’n onverklaarbare rede nodig gevind om die Khoi-woorde in die Griekse alfabet te transkribeer! Hierdie soort ortografiese verwarring het weer opgeduik toe Afrikaans in religieuse geskrifte deur Moslem-geestelikes aan die Kaap gedurende die 19de eeu in Arabiese skrif geskryf is. En vir die meeste gebruikers van Afrikaans was S.J. du Toit se fonetiese ­Patriot-spelling in dieselfde tyd sekerlik nie minder vreemd nie.

Jan Willem van Grevenbroeck het in die vroeë 1700’s ’n Latyn-Khoi-Nederlandse woordeboek geskryf. (Dit is dieselfde Van Grevenbroeck wat die verteller is in Dan Sleigh se onvolprese historiese roman ­Eilande, wat handel oor die eerste 50 jaar van die Nederlandse bewind aan die Kaap.)

Tydens die eerste VOC-ekspedisies na die binneland is ’n basiese kennis van Latyn as ’n goeie kwalifikasie beskou om ’n persoon tot tolk te promoveer, asof dié uitgestorwe Europese taal van nut sou wees om Afrika se inheemse bevolking te verstaan!

In die tweede deel van die studie, wat handel oor die verskillende Afrikaanse taalbewegings, verfyn Koch die bestaande growwe verdeling tussen ’n Eerste (1875-1900) en Tweede Taalbeweging (1900-1930). Hy onderskei tussen die Oosgrenstaalbeweging, Maleier-Afrikaanse Taalbeweging, Bybelvertalersbeweging, die GRA, en die Afrikanerbond. Daar is in die verlede al heelwat navorsing gedoen oor al dié faktore in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans, maar Koch maak ’n oortuigende saak uit vir die afsonderlike kenmerke en belang van elk.

Koch se belangrikste bydrae tot die literatuurgeskiedskrywing is sy uiteensetting van die Morawiese Sending se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans as kultuurtaal. Vanaf 1850 het die drukpers op Genadendal talle publikasies in Nederlands en Afrikaans die lig laat sien, waaronder Benigna van Groenekloof of Mamre in 1873. Dit vertel die bekeringsgeskiedenis van ’n Khoi-vrou en is in Nederlands en Afrikaans geskryf deur die Duitse sendeling Herman Benno Marx. Koch plaas die verhaal binne die tradisie van die outobiografiese religieuse geskrifte (meestal deur vroue) wat diep gewortel was in die Duitse Piëtisme.

Die grootste deel van Benigna is geskryf in Nederlands, maar die dialoog van die bruin karakters en die wit boere is in Afrikaans – ’n bewys dat Afrikaans in sy vormingstyd nie gebonde aan ras of etnisiteit was nie. Dit is besonder interessant dat die Khoi-karakters se taalgebruik ná hulle bekering en doop van Afrikaans na vlot Nederlands in ’n Bybelse toonaard verander. Koch bring dié merkwaardige metamorfose in verband met die “spreek in tale” waarvan daar sprake is in die Nuwe Testament. Tog is Benigna ’n bewys dat Khoi-karakters nie konsekwent as karikature (soos Bain se Kaatje Kekkelbek en Boniface se Grietje Drilbouten) in die vroeë Suid-Afrikaanse letterkunde uitgebeeld is nie.

Koch wys verder op die belang van die enkele geskrifte wat deur Voortrekkers nagelaat is. Die Afrikaans in tekste van voor 1860 is taal wat in die monde van bruin sprekers gelê is. In die Voortrekker-dagboeke (waarvan Louis Tregardt s’n die belangrikste is) en memoirs (soos Sarel Cilliers s’n) kry ons ’n voorbeeld van die taalgebruik van wit boere. Interessant genoeg het vroue soos Susanna Smit en Anna Steenkamp ’n relatief groot bydrae tot hierdie skryfwerk gelewer. In die tyd van die GRA (gestig 1875) het dit natuurlik anders daaraan toegegaan. Vroue is nie toegelaat om lid te word van dié broederskap van Paarlse onderwysers en wynboere nie.

Dit is natuurlik ironies as ’n mens in ag neem dat die belangrikste kontak tussen die eerste Nederlanderse nedersetters en die Khoi deur ’n vrou, Krotoa-Eva, bewerkstellig is. Dit was juis een van die belangrikste ontstaansprikkels vir Afrikaans.

Dié leser sien reikhalsend uit na dele twee en drie van Koch se literatuurgeskiedenis. Gelukkig het deel twee, wat die jare 1900-1930 dek, reeds in Pools verskyn.

 Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.