24 April 15:25
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

23°C / 14°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Donderdag

20°C / 16°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Vrydag

20°C / 14°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Saterdag

28°C / 16°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Sondag

18°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Boeke
’n Merkwaardige man kom uit die verf

Jan Smuts: Afrikaner sonder grense

Richard Steyn

JONATHAN BALL, R250

In 1970 het lord Todd, hoof van Christ’s College aan die Universiteit van Cambridge, opgemerk: “In die 500 jaar van die kollege se geskiedenis was drie van sy lede, in die verlede en tans, waarlik uitmuntend – John Milton, Charles Darwin en Jan Smuts.” Wat ’n getuigskrif! Vra jy egter vandag ’n jong mens in Suid-Afrika wie Jan Smuts was, kyk hy gesteurd en onbegrypend van sy slimfoon af op.

Hoe tragies, want as daar ooit ’n tydperk in ons geskiedenis was wat Jan Smuts tot Suid-Afrikaners behoort te spreek, is dit vandag waar ons leierloos is en die groter geheel van samewerking – waarvoor Smuts hom so beywer het – broodnodig maar afwesig is.

Vir Richard Steyn – oudregsgeleerde, oudkoerantredakteur, ouddirekteur van korporatiewe sake en kommunikasie van ’n bankgroep en nou voltydse skrywer – was hierdie toestand onhoudbaar. Hy het gevolglik besluit om ’n nuwe, leesbare en bondige studie vir ’n nuwe generasie oor Smuts aan te pak.

Soos Steyn dit stel: Smuts was ’n man wat in sy leeftyd beroemder as sy land was en wie se invloed, ten goede of ten kwade, steeds in postkoloniale en postapartheid Suid-Afrika gevoel kan word. Hy is vir ons relevant, reken Steyn, oor sy lewenslange toewyding aan openbare diens, ’n man wat van meet af aan sy besonderse talente in diens van sy land en sy mense gebruik het, nié om homself te amuseer of te verryk nie.

Steyn verklaar hy het ’n keuse gehad. Hy kon homself die volgende paar jaar onder navorsing begrawe en ’n lywige boek voortbring wat op die rakke stof gaan vergader, of hy kon ’n korter en minder ontsagwekkende boek skryf wat hopelik besige mense sal verlei om dit te lees. Hy het die tweede opsie gekies.

Ook maar goed, want dit sou moeilik wees om te kompeteer met die tweedelige swaargewig-biografie deur die Australiese historikus sir Keith Hancock, die man wat die Smuts-dokumente vir die Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek georden het en oor ’n deeglike kennis van elke moontlike stukkie inligting oor Smuts beskik het. Hy en Jean van der Poel het ook ses volumes uitgegee met geselekteerde dokumente uit die Smuts-versameling.

Uit die verf kom ’n merkwaardige man wat soos ’n regsgeleerde en filosoof gedink en opgetree het.

Steyn se werk is dus gegrond op sekondêre werke, en veral dié van Hancock, Kenneth Ingham, F.S. Crafford, Piet Beukes, Piet Meiring en Jannie Smuts jr.

Besonder welkom is ook die raadpleging van resente werke, soos dié van Martin Meredith, Mark Mazower en Hermann Giliomee. En laat ons onmiddellik erken: Steyn slaag uitmuntend daarin om uit hierdie bronne die essensie van die enigmatiese Smuts vir ’n nuwe gehoor te distilleer.

Die boek is in twee dele geskryf. Die eerste 18 hoofstukke is ’n chronologiese verslag van Smuts se lang en veelbewoë lewe (1870-1950). In die tweede deel word Smuts in agt hoofstukke in al sy dimensies uitgebeeld – sy persoonlikheid, sy gesin, sy verhoudings met vroue, sy geestelike lewe en filosofie van holisme, sy belangstelling in ekologiese kwessies, insluitend die botanie, die problematiek van swart stemreg en sy ervarings as internasionale staatsman.

Smuts se passie om die Britse ryk te beskerm en uit te bou ná die Anglo-Boereoorlog, en sy visie vir ’n verenigde Suid-Afrikaanse nasie van wit Afrikaners en Engelssprekendes onder beskerming van die Britse sambreel om in ’n oorweldigende swart omgewing te oorleef, loop soos ’n goue draad deur die boek. Dít, en die feit dat Smuts Afrikanerbelange ondergeskik gestel het aan die groter Suid-Afrikaanse en wêreldprentjie, was juis die redes waarom Afrikanernasionaliste hom so verkwalik het. Maar nuwe tye bring nuwe insigte en die vraag kan gevra word: Het hierdie Afrikaners werklik soos Smuts en sy groot steunpilaar, generaal Louis Botha, besef dat Suid-Afrika slegs met die steun van buitelandse kapitaal ekonomies kan groei?

Die leser duisel by die besef van Smuts se merkwaardige vermoë om deur sy vooraf-opstel van memorandums, manifeste, beleidsformulering en programme van aksie die inisiatief te neem en die gang van die geskiedenis te beïnvloed en te lei – of dit nou tot die aanloop van die Anglo-Boereoorlog, die Vrede van Vereeniging, die konstitusionele ontwikkeling van Suid-Afrika of die totstandkoming van die Volkebond en die Verenigde Nasies was.

Steyn se gemaklike skryfstyl (en Anne-Marie Mischke se aantreklike Afrikaanse vertaling van die oorspronklike Engelse uitgawe) maak hierdie werk ’n lus om te lees – van Smuts se pa wat vertel sy seuntjie is maar “ ’n eienaardige kêreltjie sonder veel intelligensie” tot ’n sinvolle evaluering van Smuts se bydrae tot die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis.

Uit die verf kom ’n merkwaardige man wat soos ’n regsgeleerde en filosoof gedink en opgetree het. Rede, koue rede, het Smuts se optrede bepaal. Altyd was hy oortuig dat hy in goedertrou en korrek opgetree het.

Dit het inderdaad tyd geword om weer na Smuts te kyk. En daarvoor is Richard Steyn se boek ’n gawe begin.

Fransjohan Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.