Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Boeke
Van Heerden se verset teen die finale woord

Die wêreld van Charlie Oeng

Etienne van Heerden

TAFELBERG, R350

Etienne van Heerden Foto: Imke van Heerden

Daar is geen lokteks agterop die buiteblad van Etienne van Heerden se nuwe roman nie. As mens die boek oopmaak, is die eerste woorde wat jy lees egter: “Tian Kilian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas.” Die misdaad wat plaasgevind het, is dus geen geheim nie, maar oor meer as 550 bladsye word die raaisel van die hoe?, hoekom? en deur wie? van hierdie moorde, en veral die gevolge daarvan, geleidelik langs verrassende wendings onthul.

Die roman word aangebied asof dit deur Tian Kilian geskryf is. In ’n nota voor die eerste hoofstuk sit Kilian uiteen dat die roman se 36 hoofstukke gegrond is op ’n oud-Chinese krygshandleiding waarin 36 krygstaktieke bespreek word. Hierdie taktieke berus egter nie op dapper slagveldmaneuvers nie, maar op misleiding, op maniere om die vyand te uitoorlê deur geslepenheid en bedrieglikheid, en om nie van oneerbare metodes weg te skram nie.

Die roman is uiteindelik ook vol dwaalspore en misleiding. Op kenmerkende Van Heerden-manier word verskeie verhaallyne, wat almal van ongebreidelde verbeeldingskrag getuig, vervleg. Die karakters boei die leser: soos Witkant, die Albino wat inligting aan die veiligheidspolisie gee; Ouma Ogies, die blinde ouma wat “die agterna vooraf kan sien”; Charlie Oeng, die soutchinees, dreinchinees, slagter en film-eksta; Cor van Gogh, ’n familielid van Vincent, en die geheimsinnige vrou wat slegs as “Sy” bekend staan.

Nie net die verbeeldingryke draaie wat die verhale met hierdie interessante karakters gooi nie, maar ook die taalgebruik en doodluiterse vermenging van die magiese (swawelspuwende drakies, pogings om die Skreeu in ’n bottel te vang) en historiese gebeurtenisse (die Tweede Wêreldoorlog, die veiligheidspolisie se onderdrukking van swart weerstand teen apartheid) het al ’n bekende Van Heerden-stempel geword.

Ten einde sy lewensverhaal te vertel, moet Tian Kilian terugkeer na sy eie verlede, spesifiek die verskriklike aand toe sy ouers vermoor is en sy aandeel daaraan. Hiermee kom ten minste twee sentrale temas in Van Heerden se oeuvre weer aan bod: die rol van die verlede en skuld. Konfrontasies met die verlede is in byna elke roman belangrik. Dink maar aan die proloog in Die swye van Mario Salviati waarin ’n grot oopgeskiet word sodat die verlede gekonfronteer kan word. Ook in In stede van die liefde, Dertig nagte in Amsterdam en Klimtol moet karakters ’n pynlike verlede konfronteer.

Reeds sedert Toorberg is Van Heerden se oeuvre ten nouste gemoeid met skuld. Die regbank se soeke na eenduidige waarheidsaansprake word soos ’n beroep op burgerlike of godsdienstige moraliteit telkens gekompliseer in situasies waar elke lid van die gemeenskap aandadig is aan wat gebeur. In Die wêreld van Charlie Oeng gebeur dit selfs treffender.

Tian se konfrontasie met sy eie verlede word eintlik die ondersoek van die wêreld van Charlie Oeng. Oeng is ’n Kantonees wat in Amsterdam gebore is en grootgeword het. As jong man verlaat hy Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog via Frankryk (om te ontsnap van ’n ondergrondse Chinese beweging waarvoor hy moorde moes pleeg) tot hy uiteindelik in Hongkong beland. Hy word ingehaal deur die Chinese bende en ná nog ’n moord vlug hy vroeg in die 1960’s na Suid-Afrika waar hy verlief raak, sy liefde verloor en jare lank aan wraak beplan op die Karoodorpie waar Tian Kilian, toe nog ’n jong skoolseun, se pa ’n prokureur en naweekboer is.

Om geskiedenis te skryf is om ’n onbekende wêreld te betree – enige weergawe van die verlede is altyd ’n rekonstruksie – gebrekkig en vol dwaalspore. Tian besef hoe moeilik dit is om ’n ander mens te kan ken en hoedat ons telkens in stereotipe kennis oor ander en oor onsself verval (ook jouself konstrueer jy as ’n “ander” wanneer jy oor jouself nadink). Seepgladde stories en die name wat ons gee, betower ons en draai ons vas in beelde wat ons van die waarheid vervreem.

Tian doen navorsing, besoek Amsterdam en Hongkong. Hy raak verlief op ’n Nederlandse lugwaardin van Oosterse afkoms en word ook in die liefdesverhouding gekonfronteer met sy eie opvattings wat werklike begrip van ’n ander en van homself moeilik maak.

Soos in Van Heerden se ander romans, speel kuns en kunstenaars ’n belangrike rol.

Soos in Van Heerden se ander romans, speel kuns en kunstenaars ’n belangrike rol. Kuns bemiddel die verlede, maak kennis van die self en ander moontlik, onder meer deur teen stereotipes te worstel. Die Suid-Afrikaanse politieke realiteit en koloniale verlede – en veral die rol van stereotipering en skuld in hierdie verband – word ook deur Tian se speurverhaal ondersoek.

Die groot vraag is hoe om aan enigiets naam te gee sonder om te stereotipeer. Hoe vertel ’n mens ’n verhaal sonder om te mislei? Naamgewing en vertelling stereotipeer en mislei. Skrywers pen telkens een aspek ten koste van ander moontlike name en weergawes vas. Sommige skrywers veg hierteen deur hul prosa te stroop. Van Heerden veg daarteen deur ritse woorde wat soms oordadig bly borrel en die onvaspenbare waarheid van veelvuldige, half-onmoontlike verhale, want sodoende verhoed hy dat mens vasval in die verleidelikheid van ’n finale woord of ’n enkele weergawe.

Uiteindelik “droom” Tian homself in ’n verhaal in, en word sy en Charlie se verhale een. Deur Charlie se wêreld te droom, vind hy homself. Op ’n manier is dit wat hierdie roman doen, is dit wat fiksie in die algemeen doen: Dit sleep mens in die “opgedroomde verhaal” in en ’n mens ervaar jouself in ’n ander wêreld. Dit het ’n transformerende effek.

Willie Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.