21 Augustus 04:27
Kaapstad Verander Area

Maandag

16°C / 13°C

Wind 28km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 79%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 64%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 4mm

Humiditeit 75%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 64%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Boeke
Verlede soos aan eie lyf gevoel

Met die lees van drie uiteenlopende, verteerbare geskiedenisboeke het Herman Wasserman weer eens besef die verlede is nie iets wat agtergelaat behoort te word nie.

Hitler, Verwoerd, Mandela and Me: A ­Memoir of Sorts, deur Marianne Thamm. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R280.

History Matters: Selected Writing, 1970-2016, deur Bill Nasson. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Verwoerd: Só onthou ons hom, saamgestel deur Wilhelm J. Verwoerd. Uitgewer: Protea Boekhuis. R250.

Foto:

Daar is Geskiedenis, met ’n hoofletter, soos ’n mens dit opgeteken vind in boeke – feite, datums, kronings, oorloë, slagoffers en statistieke. En dan is daar geskiedenis soos ’n mens dit aan jou lyf voel – wanneer groot politieke stelsels vergestalt word in die klein details van ’n gewone lewe; wanneer beleide gemaak in die sagte stoele van die parlement ’n verwoestende impak op jou daaglikse ervarings het; wanneer groot magstryde bloedig weerspieël word in die intiemste persoonlike verhoudings.

In al drie hierdie boeke sien ons die ­Geskiedenis op so ’n manier eggo in die persoonlike geskiedenisse van mense, hul verhoudings, hul lewenskeuses.

Wanneer Marianne Thamm in haar outobiografie terugkyk op haar eie lewe, plaas sy haarself in die titel van haar boek op dieselfde lyntjie as groot historiese ­figure. Die skadu van Hitler val oor haar kindertyd, die spook van Verwoerd loop deur haar grootwordjare en volwasse ­lewe, maar die nalatenskap van Mandela gee haar hoop om voort te gaan in hierdie droewe, deurmekaar, geliefde land.

Thamm se vertelde lewe is deurgaans ook ’n gestoei met die erwe van die vaad’re. Tot kort voor haar vader, Georg, se dood sukkel Thamm om vrede te maak met sy Nazi-verlede en sy skynbare onvermoë om aan te pas by ’n veranderende Suid-Afrika. Aanvanklik raak die herhalende skerp kritiek teen haar vader ietwat steurend, asof die leser ’n waarnemer is by ’n persoonlike terapiesessie. Thamm sien in haar vader, ’n voormalige lid van die Hitlerjugend, ’n manifestasie van die onverdraagsaamheid, meerderwaardigheid en etnosentrisme wat bots met die waardes waarvoor sy haar as joernalis en aktivis beywer. Maar stelselmatig begin die besef dan deurskemer dat hierdie verhouding tussen kind en vader ook op wyer metaforiese wyse gelees kan word – as die voortdurende stryd van ’n jonger geslag om in die reine te kom met hul politieke en kulturele erfenis en die historiese skuld of ten minste kollektiewe verantwoordelikheid wat hulle met hul saamdra.

Uit Thamm se vertelling word dit duidelik hoekom sy ’n gerespekteerde en gewilde joernalis is. Haar vertelling van haar grootwordjare in die voorstede, haar soms onbeholpe ontdekking van haar seksualiteit en huiwerende eerste tree van ouerskap word weergegee met deernis, selfkennis en ontmaskerende humor wat dit sal laat weerklank vind by vele lesers wat soortgelyke ervarings gehad het. Maar dit is haar vermoë om dié ervarings te kontekstualiseer binne ’n rassistiese, homofobiese en paranoïese Suid-Afrikaanse samelewing wat aan die outobiografiese detail ’n veel wyer maatskaplike resonansie gee.

’n Soortgelyke vermoë as dié van Thamm om verbande te trek tussen die oënskynlik alledaagse of spesifieke gebeure en ’n groter historiese sleurstroom, vind ’n mens by Bill Nasson, al is sy werk in ’n meer akademiese register. Nasson, wie se bundel ’n genotlike allegaartjie is van akademiese artikels, boekresensies en herinneringe, is ’n toonbeeld van ’n historikus in murg en been – iemand wat die hede voortdurend beleef aan die hand van ’n bestudering van die verlede, vir wie die kleinste alledaagse ervaring geprojekteer word teen die groot doek van die geskiedenis. Sy eie skooljare word in herinnering geroep om die ideaal van nierassigheid in heroënskou te neem; die motief van weerstand teen onderdrukking word telkemale teruggevind, soos in sy artikels oor historiese figure soos Abraham Esau, die bruin ystersmid van Calvinia, wat ’n wrede dood aan die hand van plunderende Boeremagte gesterf het, of die kontraste tussen die 1916-opstand in Noord-Ierland en die Afrikaner-Rebellie.

Kultuur en politiek is deurgaans bedmaats, en selfs braaivleis en krieket kom aan die beurt. Nasson dink ook na oor die dissipline van geskiedskrywing, en bekla die onvermoë van baie historici om die geskiedenis toeganklik te hervertel vir ’n breër leserspubliek. Kennelik is Nasson self nie hieraan skuldig nie.

’n Omgekeerde verhouding met die vader as dié van Thamm kom na vore in die bundel oor Hendrik Verwoerd, saamgestel deur sy seun (wat in sy voorwoord korte mette probeer maak met die “holrug geryde beskuldigings van Nazisme, rassisme, anti-Semitisme en dies meer”). Die boek, ’n herwerking van ’n 2001-herinneringsbundel, is heruitgegee met bykomende bydraes om die 115de herdenking van Verwoerd se verjaardag en 50ste herdenking van sy dood te herdenk. Van kritiese beskouing is daar min sprake – dis veel eerder ’n hagiografie wat ’n prentjie probeer skilder van ’n streng maar menslike “doktor” wat ’n rasionele verduideliking kon bied vir rassediskriminasie. ’n Mens moet jou soms knyp om te besef jy lees hierdie herinnering van Verwoerd in 2016, sonder enige sweem van ironie. Of die beeld van Verwoerd as patriarg, wat sy kind ’n skrobbering gee oor dié se vriend met ’n kortbroek by die ampswoning opdaag, of sy kleinseun ’n lepel mosterd voer sodat hy kan ophou vra om met die potjies op die tafel te speel, hom mensliker uit die verf laat kom as in die meeste geskiedenisboeke, moet die leser besluit. Wat wel in die krop steek, is die pogings om Verwoerd se “verduidelikings” van die apartheidsbeleid op te haal asof die geskiedenis eintlik verkeerd oor Doktor geoordeel het. Inderdaad, “Doktor het nie sommer ’n fout gemaak nie” (bl. 283).

Vertel dit vir Thamm se aangenome dogters, vir wie rassisme, skewe kyke en ongemaklike vrae deel is van hul grootwordervaring. Dit is in daardie los opmerking by die kleuterskool, by die staar in die supermark, in die aangeleerde wreedheid van maatjies wat ’n mens weer die eggo’s van die groot historiese narratiewe in die klein dramas van die alledaagse hoor weerklink. In sy seun se oë was Verwoerd miskien ’n goeie pa en gesinsman, maar dit maak geen historiese hond haaraf oor sy politieke en maatskaplike nalatenskap nie. Geen hoeveelheid banale staaltjies oor hoe hy met sy gesin, personeel of vriende omgegaan het, kan dit ongedaan maak dat hy die argitek was van ’n bose stelsel waarvan die tentakels tot vandag toe in elke aspek van ons openbare en persoonlike lewe gevoel kan word nie. “Onthou,” het Opperman immers gewaarsku, “aan jou dade grens ’n ewigheid.”

Die geskiedenis soos verwoord deur die drie skrywers, wys die verlede is nie iets wat agtergelaat kan of behoort te word nie. Die erwe van ons vaad’re het toe mos vir ons kinders erwe gebly.

  • Herman Wasserman is professor en direkteur van die Sentrum vir Mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.