Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Boeke
Vroue ryg die literêre pryse in

’n Sterk linie vroueskrywers word vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir hul bydrae tot die letterkunde.

Benewens die digter en akademikus ­Antjie Krog, wat die gesogte Hertzogprys vir poësie vir haar bundel Mede-wete ontvang, ontvang ’n drieluik vroue die Eugène Marais-prys vir prosa, poësie en ’n drama. Dit is die eerste keer dat die Akademie die prestigeprys, wat net een keer aan iemand toegeken kan word vir ’n vroeë of debuutwerk, aan drie mense ­toeken.

Lien Botha, skrywer van Wonderboom (2015), sê toe sy aanvanklik vir kommentaar genader is, het sy van niks gewis nie. “[Ek] dag hy verwar ’n naglied met ’n boom. Of so iets. Haal Eugène Marais se boeke van die rak af: Die huis van die vier winde, Dwaalstories, Burgers van die berge; op elke bladsy – die Donker Stroom.

“Die Queillerie-uitgewer Hester Carstens stuur die Akademie se persvrystelling. Ek gaan swem en vertel die water, die water maak soutgeluide in my ore. ’n Onsigbare vis klap hande. Die volgende dag spoel die land see toe. Die lug sug, vreugde ontbind – soos ’n droom. Maar mens mag skryf. Taal in die Insektewêreld.”

Die tweede ontvanger van die Eugène Marais-prys, Amy Jephta, se drama Kristalvlakte het in 2016 verskyn.

“Ek skryf nie om pryse te wen nie en was dus heeltemal onkant gevang met hierdie toekenning. Dis vir my die grootste eer om op hierdie lys langs van my gunstelingskrywers te verskyn, veral omdat die storie van Kristalvlakte na aan my hart is en baie persoonlik kom word het.

Dit is positiewe terugvoering en temper die vertwyfeling oor jou werk.
Bibi Slippers

“Ek is bly die werk het met teatergehore geresoneer, en dat die prestige van hierdie prys die werk nou kans sal gee om lesers te bereik.”

Bibi Slippers ontvang die Eugène Marais-poësieprys vir haar debuutbundel, Fotostaatmasjien.

“Dit is werklik ’n voorreg om jou naam in dieselfde asem genoem te hê as die mense op dié lys. Die ander ding wat lekker is van so ’n prys, is dat dit die raklewe van die boek verleng. As ’n boek bekroon word, wek dit opnuut belangstelling daarin. Dis positiewe terugvoering en dit temper die vertwyfeling oor jou werk. Ek dink vertwyfeling is gesond, maar dit kan ook verlammend raak.”

Die veelbekroonde Marita van der Vyver, wat reeds vir haar ikoniese roman Griet skryf ’n sprokie, die kinderboek Olinosters op die dak en die jeugboek Swemlesse vir ’n meermin deur die Akademie vereer is, is “omtrent onkant gevang” met haar erepenning vir haar hoorspel Genade – iets wat net een keer elke drie jaar toegeken word. “Ek hoop ek is besig om die rekord vir veelsydigheid in die Afrikaanse skryfwêreld te breek! Dis ’n enorme eer as ek dink aan al die goeie radiodramas wat die afgelope drie jaar uitgesaai is.”

“As vorige wenner van die Eugène Marais-prys dink ek dis fantasties dat die prys vanjaar drie keer uitgedeel word – aan drie vroue – en dat die Hertzogprys ook aan ’n vrou gaan. Ons maak tog vordering.”

Daniel Hugo, gereelde Rapport Weekliks-rubriekskrywer en -resensent, is bekroon met die SA Akademieprys vir vertaalde werk vir sy vertaling van Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans.

“Die prys is vir my ’n groot eer,” sê Hugo, “maar dit is ook ’n erkenning aan Nicol Stassen van Protea Boekhuis vir sy waagmoed om vertalings uit ­Nederlands te publiseer.

“Mag die prys Afrikaanse lesers aanmoedig om Stefan Hertmans se manjifieke boek oor die Eerste Wêreldoorlog te lees.”

Stassen is self deur die Akademie vereer met ’n erepenning vir die bevordering van geskiedenis. “Dr. Stassen het oor ’n wye front ’n besonder positiewe bydrae tot die studie van geskiedenis gelewer. Nie alleen het hy met sy eie publikasies ’n unieke bydrae tot ons kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer nie, maar hy speel as uitgewer en boekhandelaar ’n prominente rol in die ontginning van geskiedeniswerke en, as ’n mens die begrip kultuurgeskiedenis breër interpreteer, vanweë die publikasie van Afrikaanse poësie, prosa en dramakuns, en die vertaling in Afrikaans van anderstalige werke van fiksie en niefiksie.”

Carel van der Merwe, ontvanger van verlede jaar se kykNET-Rapport-niefiksieprys, ontvang ook die L.W. Hiemstraprys vir niefiksie, ook vir Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.

“Ek geniet dit baie om ’n niefiksieboek na te vors en te skryf, en die proses bring sy eie beloning. Maar om ’n prys soos dié te kry is ’n groot eer, want dit is bevestiging dat daar ander is wat my werk geniet en waardeer. Ek is nou met ’n nuwe niefiksieprojek besig, en die prys is ’n groot aansporing,” sê Van der Merwe.

  • Die Jan H. Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar gesamentlik toegeken aan prof. Jaap Steyn van Bloemfontein en prof. Jan van der Watt van Nijmegen, Nederland. Die prysgeld van R500 000, as erkenning vir hulle lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans, word gelykop tussen die twee pryswenners verdeel en sal op 30 Mei op Stellenbosch aan hulle oorhandig word.

Steyn het die afgelope bykans 50 jaar honderde publikasies geskryf, van koerantartikels tot gedigte en kortverhale. Sy biografieë van N.P. van Wyk Louw, Piet Cillié en M.E.R. word as standaard beskou. Hy het veral bekend geword vir sy twee boeke oor die geskiedenis van Afrikaans, Tuiste in eie taal (1980) en Ons gaan ’n taal maak (2014).

Van der Watt geniet wêreldwye erkenning as deskundige oor die Nuwe Testament en het bande met akademiese instellings wat strek van Duitsland en Rusland tot Suid-Korea.

Sy talle publikasies (waarvan baie in Afrikaans, maar ook in Duits, Engels en Nederlands) het tot eerbewyse en ook uitnodigings na akademiese instellings oral ter ­wêreld gelei.

Meer oor:  Bibi Slippers  |  Antjie Krog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.