Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Feeste
‘Appels’ tref gehoor in Grahamstad met ‘mokerslag’
Gideon Lombard skitter in Die reuk van appels op die Nasionale Kunstefees op Grahamstad.

Die reuk van appels gaan in die toekoms vir teatergangers meer wees as bloot die reuk van ’n vrug. As die enigste Afrikaanse produksie op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad se hoofprogram het Die reuk van appels reeds met sy eerste opvoering Sondag ongekende emosionele reaksie uitgelok.

Gehoorlede wat vooraf gevra is om na die tyd iets oor hul belewenis van die stuk te sê, het ná die tyd nie kans gesien om te praat nie. Selfs mans met lang baarde het gesukkel om hul emosies in toom te hou gedurende en ná die opvoering.

Die stuk is gegrond op die roman van Mark Behr en die verwerking is deur Johann Smit. Die regisseur is Lara Bye.

Die stuk lê ’n deel van die Afrikaner-psige van die 1970’s bloot deur die oë van die 11-jarige Marnus. Hy aanvaar dinge soos wat hy dit uit volwassenes se monde hoor en van wat werklik in die land aangaan het hy nie eens ’n vae vermoede nie.

Die akteur Gideon Lombard het die gehoor in die palm van sy hand met sy vertolking van Marnus en die res van die karakters in sy jong lewe in Suid-Afrika.

Kommentaar van gehoorlede ná die eerste opvoering was:

*Francois le Roux (ook bekend as Ha!man) van Stutterheim: “Dit was asof my hele verlede soos ’n sak patats oor my uitgekeer is. Ek is geheel en al ingetrek in die verskillende lae totdat die uiteindelike verkrummeling ingetree het. Dit was asof ek deur ’n loergaatjie in my eie donkerte ingekyk het.”

*Ann Wilson, ’n Engelssprekende gehoorlid van Lydenburg, Mpumalanga: “Die stuk het soveel herinneringe aan my eie verlede opgeroep. Ek het in die 1960’s grootgeword en my broer was ook in die weermag. Dis moeilik om die gemengde emosies te verwoord wat ek ervaar het.”

*Jon Daamen, ’n Hollandsprekende van Napier: “Gideon Lombard is net die beste akteur wat ek in ’n lang tyd gesien het. Die inhoud van die stuk is hartverskeurend. Ek het lanklaas iets so aangrypend gesien.”

*Anne Hobson van Port Elizabeth: “Gideon Lombard het ’n aangrypende vertolking gegee en ’n mens weer laat besef dat wat mense aanmekaar doen vir ewig ’n invloed op ander het. Die regie is subtiel en sensitief, soos ’n mens van Lara Bye verwag. Alles het juis so goed gewerk omdat daar nie oordadige fisieke spel is nie. In sy kinderlike onskuld dra Marnus groot waarhede oor.”

*Sheila Simon van Port Elizabeth: “Daar is so baie wat ’n mens wil sê. ’n Mens wil praat oor herinneringe en pyn wat jyself beleef het in daardie jare. Die aangrypendste sin in die stuk kom vir my uit die brief wat Marnus se ma aan hom skryf wanneer hy self op die grens is. Sy sê geregtigheid het nie noodwendig ’n swaard in die hand nodig nie.”

Joke Debaere (oorspronklik van België, nou van Stutterheim): “Ek verstaan nie alles nie, want ek het die gebeure nie beleef nie, maar my vriend praat baie daaroor. Aanvanklik het sekere goed my ongemaklik laat voel. Toe gryp die stuk my en ek dink nie ek het al ooit so gehuil in ’n toneelstuk nie. Ek kan dit net met een woord beskryf: Mokerslag.”

Die reuk van appels word ná sy speelvak op Grahamstad van 19 tot 22 Julie op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein opgevoer, van 30 Augustus tot 24 September in die Staatsteater in Pretoria en in die Fugardteater van 17 Oktober tot 4 November.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.