29 Mei 23:00
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 47%

Woensdag

19°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Donderdag

19°C / 13°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 50%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 36km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 69%

Sondag

16°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 2mm

Humiditeit 65%

Feeste
Karin Hougaard vir twee konserte in Kaapstad
Karin Hougaard Foto: Hans Mooren

Karin Hougaard woon al bykans nege jaar in Amerika. Sy besoek Kaapstad volgende week vir die eerste keer sedert 2013 vir twee konserte, waarvan een deel van die Suidoosterfees is. Mariana Malan vind meer uit hieroor en waarmee sy tans besig is.

Vertel iets meer van die konsert op die Suidoosterfees wat op Vrydag 27 April gehou word.

Die konsert word op Vryheidsdag, Vrydag 27 April, om 15:00 gehou. Die regisseur is Basil Appollis. Vir my is die groot bederf om die verhoog te deel met onder andere Coenie de Villiers, Dizu Plaatjies, die Kaapstad Operakoor, Karin Kortjé, Unmute en ander. Ek sing onder meer ’n duet saam met Coenie asook ’n lied saam met Karin en Coenie. Dit beloof om wonderlike medewerking te wees tussen kunstenaars vanuit verskillende genres.

Hoe verskil die konsert wat jy op 29 April in die Drostdyteater doen van hierdie een?

Ek stel die inhoud van die konsert in die Drostdyteater spesiaal saam vir die geleentheid. Dit sal bestaan uit ’n verskeidenheid van musiek wat oor my hele loopbaan strek.

Aangesien ek so lanklaas hier gesing het, het ek gedink dit sal lekker wees om die publiek opnuut bekend te stel aan my komposisies oor die jare heen.

Ek word op klawers begelei deur die formidabele Jaconell Mouton. Hoewel die voertaal hoofsaaklik Afrikaans sal wees, sluit ek van my Engelse en Nederlandse liedere ook in.

Bring jy miskien ’n nuwe album saam?

Hoewel ek nie ’n nuwe album saambring nie, sal ek nou al noem dat ek 95% klaar is met ’n projek getiteld 25 Shakespeare Sonnette wat bestaan uit ’n digbundel met Afrikaanse vertalings van die sonnette deur Anna Neethling-Pohl en ek lees dit voor op die CD. Ek stel dit egter nie bekend tydens hierdie besoek aan Suid-Afrika nie. Ek bêre dit vir my volgende kuier.

Werk jy nog baie saam met Herman van Veen?

Ek werk minstens een maal per jaar op een of ander manier saam met Herman of Harlekijn Holland aan ’n projek. My nuutste projekkie was pas verlede week vir Harlekijn – ’n vertaling van ’n liedteks uit Nederlands na Afrikaans.

In 2015 het ek saam met Herman ’n mini- Suid-Afrikaanse kunstefees aanmekaar gesit wat ons oor drie dae in Holland aangebied het.

Ek was bevoorreg om ’n handjievol van my Suid-Afrikaanse kollegas (waaronder Coenie de Villiers, Pops Mohammed, Anna Davel, Josua na die Reën) aan die Nederlandse publiek bekend te stel.

Dan is daar sprake van ’n vertoning hier in die Kaap in Januarie 2018 saam met Herman en kie waarby ek ook betrokke sal wees, maar dis nog nie finaal bevestig nie.

Mense wonder dikwels wat jy in Amerika doen. Vertel so iets hiervan.

Ek is bykans nege jaar gelede na Amerika toe ek die geleentheid gekry het om tyd daar te gaan deurbring. Aanvanklik was dit net vir ’n sabbatsverlof, maar dit het iets meer langtermyn geword. Omdat my konserte steeds hoofsaaklik plaasvind in die lae lande en in Suid-Afrika, is Amerika nou die adres oftewel die plek waar ek konsepte bedink, die aanvoorwerk doen en natuurlik ook die rus- en herlaaiplek.

My ateljee in Noord-Carolina kyk uit op ’n pragtige bos, wat op sigself sorg vir inspirasie. As skilder is ek is tans besig met ’n opdragwerk wat dieselfde toneel gesien tydens die vier seisoene moet uitbeeld. Lekker uitdaging. Ek skryf ook kortverhale. Die mees onlangse een getiteld “Sterkind” is opgeneem in die bundel Skrik op die lyf in 2016.

Ek het ook reeds twee digbundels gepubliseer. Verder hou ek my besig met opdragwerk soos die skryf van musiek en/of lirieke vir ander kunstenaars, soos onder andere Herman van Veen en Jannemien Cnossen.

My nuutste enkelsnitopname van Leonard Cohen se “Hallelujah” het ek in my tuisateljee opgeneem en die uitleg van die Shakespeare Sonnette-bundel en die meng van die CD het ek ook daar gedoen.

’n Meer onlangse onderneming is die redigering van musiekvideo’s. Buiten myself het ek al musiekvideo’s vir onder andere Anna Davel en Clarabelle van Niekerk aanmekaar geslaan.

Wat mis jy van Suid-Afrika en wat geniet jy van Amerika?

Die beste van Amerika is gewis die persoonlike vryheid wat ek daar geniet, dat ek nie agter hoë mure hoef te woon, of bang hoef te wees om saans êrens heen te ry nie.

Van Suid-Afrika mis ek die wonderlike humorsin waarmee ons mense alles – die goeie en veral die moeilike dinge wat oor ons pad kom – hanteer. En dan natuurlik melktert en biltong!

Hou jy tred met ontwikkelings op Suid-Afrikaanse musiekgebied?

Ek luister baie selektief musiek. Dit geld ook Afrikaanse musiek. My voorkeur is meer dramatiese en teatrale werk. Natuurlik maak die internet dit deesdae so maklik om te sien wat aangaan in die wêreld, ook in Suid-Afrika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.