Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Feeste
Ná 5 jaar ontkiem ‘Winterboom’ by fees
Die akteurs in Winterboom is van links Jaco Nothnagel, Susanne Beyers en Cintaine Schutte.

Winterboom het vyf jaar geneem om te ontkiem.

“Dit is hoe lank ek en Cintaine (Schutte) gepraat het oor saam optree in ’n stuk. Intussen het ek gevoel ek wil Susanne (Beyers) kans gee om in ’n toneelstuk met vleis te speel. Ons het uiteindelik sover gekom om koppe bymekaar te sit oor ’n onderwerp en daarna kon die wiele begin rol.”

Jaco Nothnagel, vervaardiger en akteur, gesels land en sand oor dié baie interessante drama wat op die Vrystaat Kunstefees debuteer.

Die onderwerp is iets waarin al drie akteurs ’n besondere belangstelling het – aanneming.

Nothnagel vertel die stuk open met ’n toneel in ’n kolossale rykmanshuis en kartondose wat die wêreld vol staan. Gerda Harmse (Beyers) en haar aangenome seun, Marius (Nothnagel), is aan die oppak om uit hul huis op die plaas Winterboom na ’n woonstel te trek nadat die pa oorlede is.

Ané Volschenk (Schutte) daag in die chaos op om ’n rok te koop. Maar eintlik is sy op Gerda se spoor met inligting wat Gerda gehoop het altyd geheim sal bly. Die reën wat die middag uitsak en verhinder dat Ané terugkeer huis toe, gee vir elkeen die geleentheid om sy hart uit te praat.

Nothnagel sê: “Trek is reeds traumaties. Sit die emosionele trauma van aanneming daarby en jy het ’n propperse drama.” Sy keuse vir ’n regisseur het op Marí Borstlap geval omdat sy tekste “met ’n sagte hand hanteer en aanneming ’n aangeleentheid is wat teerheid verg”.

Wessel Pretorius in Die ontelbare 48.
Nothnagel het lof vir Wessel Pretorius se teks wat “maklik is om te memoriseer omdat woorde vir hom so natuurlik kom”.

Die moeilike deel is Beyers se rol.

“Sy speel meestal in ligte humoristiese opvoerings maar in dié geval moet sy in diepe hartseer delf om Gerda geloofwaardig uit te beeld,” sê Nothnagel.

Dié Kapenaar het in Brackenfell grootgeword en aan die Universiteit van Kaapstad studeer waar hy in 2009 met ’n dramagraad gegradueer het.

Ter wille van ’n vaste inkomste het hy sedertdien meestal agter die skerms gewerk en kosbare ondervinding in onder meer die Fugardteater, die Edinburgfees in Skotland en as produksiebestuurder by Kaapstad Opera opgedoen wat hom boonop na verskeie oorsese lande geneem het.

Hy het egter akteurswerk gemis en sê dit is so lekker om weer op die verhoog te wees.

“As ek saans by die huis kom, glimlag ek van oor tot oor en wil net verder werk.”
* André Huguenet-teater, 20 Julie om 17:00 en 20:30, 21 Julie 21:00. R130

Die ontelbare 48

Die talentvolle Wessel Pretorius tree vanjaar in ’n solostuk op wat hy self geskryf het, self regisseer en self geld voor gevind het.

Dié stuk, sê hy, is ’n satiriese drama wat op ’n klein dorpie afspeel waar 48 mense bymekaarkom om na The Sound of Music te kyk. Tussen hulle is ’n moordenaar met ’n sluwe plan.
* kykNET-Scaena, 17 Julie om 13:30, 18 Julie om 14:30, 20 Julie om 13:30. R110.

Sarah
Dié toneelstuk, ’n besinning oor teater na analogie van Saartjie Baartman, is ook ’n debuut. Die oud-Bloemfonteiner Jan Brink het die teks geskryf, Stephanie Brink is die regisseur en die akteurs is Rondo Mpiti (Saartjie), Dion van Niekerk, Danny Moleko en DeBeer Cloete. Saartjie was soos ’n slaaf uitgelewer aan mense wat haar in Europa bekyk, bevoel en bewonder het. Sarah gaan oor ’n teater, ’n vertoning en ’n akteur wat sinne opsê: Die slaaf van die rol wat vir die akteur gekies word.
* OFM-Albert Wessels-ouditorium, 19 Julie om 20:30, 20 Julie om 10:00, 21 Julie om 17:00. R100.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.