Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Flieks
Die idee van God word uitgedaag
Sam Worthington en Octavia Spencer is twee van die sterre van The Shack.

The Shack

Drama

****

Die lokprent van hierdie fliek het my al emmersvol laat huil, so ek was voorbereid met hope snesies toe ek regskuif vir The Shack.

Die fliek is gegrond op die gelyknamige boek van William P. Young wat in 2006 gepubliseer is. Dit het in 2008 nommer een bereik op TheNew York Times se topverkoperfiksielys, maar die boek se gewildheid het met omstredenheid gepaardgegaan.

Dit is deur sommige kerkleiers gekritiseer vir sy uitbeelding van God, terwyl ander dit weer geprys het vir sy unieke benadering tot Christenskap.

Ek het die boek in 2010 gelees en was beïndruk deur die feit dat dit my anders laat dink het oor God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Die storie draai om Mack Phillips (Sam Worthington), ’n gesinsman en Christen. Op ’n kamp­uitstappie met sy drie kinders word sy jongste dogtertjie Missy (Amélie Eve) tragies deur ’n reeksmoordenaar ontvoer en vermoor. Haar bebloede klere word in ’n vervalle hut in ’n donker woud aangetref, al is haar liggaam steeds weg.

Mack verval in ’n diepe droefheid en blameer homself (en God) vir Missy se dood. Op ’n wintersdag kry Mack ’n getikte briefie in sy posbus wat hom nooi om die naweek na die einste hut te gaan en “Papa” – sy vrou, Nan (Radha Mitchell), se naam vir God – daar te ontmoet.

Mack besluit hy het niks om te verloor nie en leen ’n vriend se bakkie om by die hut uit te kom. Daar gekom, word hy gekonfronteer deur sy verlies en sy woede vir God. Hy storm uit die hut, maar loop dan ’n Midde-Oosterse man (Aviv Alush) raak, wat hom terugnooi na die hut.

Skielik verander alles en die volgende oomblik staan hy in die hut (wat nou pragtig huislik is) en ontmoet die hartlike Papa (Octavia Spencer). Sy stel die Midde-Oosterse man as haar seun voor, en Mack ontmoet Sarayu (Sumire), ’n beeldskone Oosterse vrou, wat ’n fisieke uitbeelding van die Heilige Gees is.

Mack bring die naweek saam met die trio deur en spandeer tyd saam met elkeen. Só werk hy deur sy woede en hartseer om aanvaarding en vergifnis te vind.

The Shackdaag ’n mens uit met moeilike vrae soos hoekom ’n God wat ons liefhet, toelaat dat kinders vermoor word. Maar dit raak ’n mens diep en laat jou weer kyk na jou eie idee van God. (Om Hom as ’n swart moederfiguur te sien is veral treffend as jou idee van Hom ’n ou wit man met ’n weerligstraal in die hand is).

Die akteurs kwyt hulle uit­stekend van hul taak en ek was veral beïndruk deur Wor­thington se uitbeelding van die gebroke Mack.

Die klankbaan is ook in die kol met musiek van onder andere Lady Antebellum, Hillsong United en Kelly Clarkson.

Gaan kyk The Shack as jy hou van flieks met diepte en ’n boodskap – onthou net die snesies.

Met o.a. Sam Worthington, Octavia Spencer, Tim McGraw en Alice Braga. Regie: Stuart Hazeldine. Tydsduur: 132 minute. Ouderdomsperk: 10OL.

Meer oor:  The Shack  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.