27 Maart 00:54
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Flieks
‘Jagveld’ lok internasionale belangstelling

Hoewel hy bitter min daaroor wil sê, is daar groot belangstelling om Deon Meyer, wat as die gewildste skrywer in Afrikaans bestempel word, se Jagveld in ’n internasionale Engelse rolprent te ontwikkel.

“Ons sal moet sien wat gebeur. Dis ’n bedryf wat vol veranderinge en verwikkelinge is, maar op die oomblik is die belangstelling groot,” het dié internasionaal bekroonde skrywer Woensdag by die première van die rolprent in Kaapstad gesê.

Dit is by die Labia-teater in die middestad gehou en het ook as boekbekendstelling vir vier van Meyer se draaiboeke, wat as een boek gepubliseer is, gedien.

“Daar’s lekker baie spanning en lekker baie aksie, maar die groot ding is dat ’n vrouekarakter die aksieheld is, en dis iets wat jy min kry. Ek dink nie jy het al ooit in Afrikaans gekry dat ’n aksierolprent ’n vroulike karakter het wat die manne se alies so ’n bietjie skop nie,” sê Meyer oor die groot belangstelling in die draaiboek.

Meyer sê dit is die draaiboek wat hy die meeste geniet het om te skryf en die rolprent was die een waarby hy dit die meeste geniet het om betrokke te wees.

Die span van Jagveld: Tim Theron (agter), Tertius Meintjes, Deon Meyer en Leandie du Randt Bosch. Foto: Jaco Marais

Dit is die eerste keer dat hy ’n hoofkarakterrol, dié van Emma le Roux, geskryf het met ’n spesifieke akteur in gedagte nadat "kinders in ons huis" Leandie du Randt aan hom voorgestel het.

“Vir jong mense is sy ’n bietjie van ’n ikoon,” sê Meyer. “Sy is nie net ’n wonderlike aktrise nie, sy’s ’n fantastiese rolmodel ook.”

Du Randt het omtrent ’n gedaanteverwisseling ondergaan vir kykers wat haar as Binnelanders se Ivanka geken het. “Dis my gunsteling-weergawe van Leandie,” het Du Randt Woensdag gesê oor haar tawwe karakter met die kort kapsel.

Emma is g’n Ivanka nie. Dié dogter van ’n oud-recce onthul haar rowwe kant wanneer haar pad per ongeluk met dié van ’n spul booswigte in die Groot-Karoo kruis en hulle haar soos ’n dier oor die vlaktes begin jag.

“Hierdie fliek het ’n ongelooflike groot en sterk boodskap wat dit betref,” sê Du Randt.

“Vrouens is bang om vir hulself op te staan. Ek dink dis belangrik om iemand te sien terug-fight en om vir die wêreld te wys dat as jy in gevaar is, moet jy vir iemand wat jou kan help daarvan sê.”

Du Randt het verklap dat sy binnekort aan haar eie projek gaan begin werk.

“Ek gaan nou ’n bietjie meer in die komedie ingaan. Maar nie romcom nie. Full-on-boyish-, jy-hoef-nie-noodwendig-mooi-te-lyk-nie-komedie,” sê sy.

Om Jagveld te verfilm het Meyer en die span akteurs en rolprentmakers weke lank in die snerpende Karoo-winter deurgebring waar hulle opslaantoilette moes gebruik.

Die uitmergelende gevegstonele en die ongenaakbare omgewing waarin daar verfilm is, het die akteurs so goed op hul rol voorberei dat die grimeerkunstenaars, volgens Meyer, nie veel werk gehad het om te doen nie.

Neels van Jaarsveld het hom so in sy karakter ingeleef dat hy harsingskudding opgedoen het, en Tim Theron het ná een emosioneel uitdagende toneel begin huil.

“Hulle het hul hart uit gespeel,” sê Meyer oor die span en is veral opgewonde omdat al die mense wat by die fliek betrokke was nuwe, jong talent is.

Dit is die regisseur, Byron Davis, wat maar ’n skamele 21 jaar oud is, se debuut-vollengterolprent. Buiten Du Randt, verskyn haar man, Bouwer Bosch, Edwin van der Walt, Van Jaarsveld, Theron en die meer gesoute Tertius Meintjies ook in die fliek.

’n Kopie van Jagveld en ander draaiboeke met ’n leeromhulsel en wat deur Meyer en al die akteurs in die fliek geteken is, is Woensdagaand vir R10 000 opgeveil ten bate van die Afrikaanse kinders in die minder bevoorregte dorp Loxton in die Karoo.

* Jagveld sal van Vrydag 17 Maart af in fliekteaters vertoon word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.