Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Flieks
Nostalgie en ontgogeling

Johnny is nie dood nie

Drama

*****

Ilana Cilliers, Rudolf Storm en Rolanda Marais in Johnny is nie dood nie.Foto: Robert Hamblin

Van die eerste skote as die aktrise Rolanda Marais die kyker reg in die oë kyk, word jy ingetrek in die storie van vyf vriende.

Die teaterskepper Christaan Olwagen se debuutprent, John-ny is nie dood nie, is met ’n beweeglike kamera geskiet wat die karakters volg. Met geen verhaallyn nie sorg dit vir ’n hoogs intieme ervaring.

Die prent speel in die laat 1980’s op die Matie-kampus in Stellenbosch af te midde van die opkoms van Afrikaanse protesmusiek wat die ontgogelde, gatvol jeug (Verwoerd se kleinkinders) se emosies sekuur verwoord het. Dié beweging het ’n hoogtepunt bereik met die Voëlvry-beweging en PW Botha wat ’n noodtoestand in die land afgekondig het.

Dan flits die kamera na 2002, waar dieselfde studentemaats vergader vir ’n braai in Stellenbosch enkele dae nadat Johannes Kerkorrel, een van Voëlvry se kultusleiers, homself om die lewe gebring het.

Lise (Marais) en Dirk (Albert Pretorius) is vasgevang in die ­rotresies en bly in die voorstede waar hul grys Vibracrete-muur ’n swaar simbool word van hul beige lewe as grootmense terug in Stellenbosch.

Hein (Ludwig Binge), ’n oud-grensvegter, is steeds ’n gekwelde swerwer en Anja (Ilana Cilliers) is ’n joernalis wat haar beginsels en loopbaan by die gesaghebbende Die Suid-Afrikaan prysgegee het om vir ’n prultydskrif te gaan werk.

Die voggies vloei en die aaptwak praat. Diepgewortelde emosies en geheime kom na vore. Die afwesigheid van Johnny, hul universiteitsvriend wat in raaiselagtige omstandighede dood is, is tasbaar.

By tye voel dit vir die kyker of jy self in ’n waansinnige dwelmdroom is.

Olwagen se gebruik van lang skote plaas jou midde-in die vyf se ervarings toe en nou. Alles voel oombliklik. Jy ervaar alles dadelik sonder ’n filter en die tragiek wring die hart.

Die argiefmateriaal en ’n sober vertelstem sorg vir lewensgetroue konteks. Die musiek van die Voëlvry-beweging as klankbaan verhoog nie net die onmiddellikheid nie, maar ook die nostalgie van die gebeure. Was Voëlvry die klippie wat Goliat getref het?

Olwagen verdiep die malsheid van dié tyd.

In een skoot is die vyf afgeneem met reuse-, oranjerooi krewe soos op die Dadaïstiese omslag van Kerk­orrel se album Eet kreef. In ’n vroeëre en veelseggende partytjietoneel sê Lise aan die nou ontslape kunstenaar Barend de Wet – geplaas as ’n stokende “ruspe” van ­Alice in Wonderland: “Ek wil weet wie ek is.” ’n Pilletjie is sy antwoord.

Die prent vat die tydgees van die twee tydperke sekuur vas: die “sorgelose” studentedae in ’n verdrukkende politieke bestel waarin 19-jarige seuns opgeroep is vir militêre diensplig in ’n onregverdigbare oorlog. Daar was geen ander uitweg uit die army as tronk toe of landuit nie. Die ouer Hein, wat aan die grens geveg het, word geteister deur gru-drome en hy haak uit. In daardie tyd was posttraumatiese stres nog ’n braak veld vir geredelike sielkundige ondersoek. Net om plakkate van die End Conscription Campaign aan jou muur te hê soos in die studentehuis hier, het tronkstraf beteken.

Johnny (Roelof Storm) se karakter is ’n eteries minlike wese met wie almal oor die weg kom, die hars wat die kring bymekaar hou, vir wie almal oombliklik lief raak. Sy teenwoordigheid is omgeef in wee­heid asof hy instaan vir die ware Kerkorrel.

’n Mens kan Johnny om verskeie redes kyk.

Dit kan jou nostalgies stem as jy die tydperk beleef het en weer daaroor wil mymer. En daarby is dit ’n viering van vriendskap, die enigste teenvoeter vir ’n lewe in ’n land wat op sy kop gekeer is.

Rolanda Marais, Ludwig Binge, Albert Pretorius, Illana Cilliers en Rudolf Storm. 90 minute.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.