Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Flieks
Silwerskerm: Barnard se drama puik nuut verpak

Die rebellie van Lafras Verwey met Tobie Cronjé en Chantell Phillipus. Regisseur: Simon Barnard. ****

Ons ken almal ’n Lafras Verwey wie se sokkies altyd oor sy enkels drup. Hy is die bleeksieldromer wat deur sy kollegas geminag word. Daar sluimer egter ’n rebellie waaroor jy grinnik omdat dit so onbereikbaar blyk te wees. Tot die lont by die kruitvat gebring word.

Die rebellie van Lafras Verwey het as ’n radiodrama begin en het gegaan oor ’n verlore siel wie se frustrasies en drome gemanifesteer het in musiek. Dit is later as ’n verhoogstuk verwerk.

Die probleem waarmee Simon Barnard met die rolprentweergawe te doen gehad het, is om ’n stuk, waarin die woord so ’n sentrale rol gespeel het, te visualiseer. Rolprente stel formidabele uitdagings om ongedwonge toegang tot ’n karakter se innerlike landskap te gee, want in hierdie moeras versmoor Lafras, maar hy slaag tog ook daarin om oor die aarde te vlieg wanneer sy droommusiek hom kortstondig bevry. Die rolprent moet hierdie vlieg-en-val oor die aarde wys.

Die Luitenant Kizje-suite van Proko­fiëf het op radio ’n sentrale rol gespeel – nie noodwendig so sterk in die rolprent nie – waarin ’n fiktiewe narrefiguur deur die komponis geskep is wat die skuld vir ander se sondes moes dra.

Lafras dra net so swaar aan sy eie sondes, soos dat hy toelaat dat mense hom misbruik vir eie gewin. Sy verwronge ideologieë maak hom ryp om deur gewetenlose mense misbruik te word, en dit is waarop die rolprent fokus: hierdie patetiese riet-alleen-in-die-myndam wat net uiting vind in Prokofiëf-musiek. Hier boots die tuba in swaar basnote Lafras se rompslomp-lewe na. Maar wanneer die fluit bokant die tuba uitstyg, vlieg-vlieg hy oor die wêreld en wys die rolprent sy onvervulde potensiaal.

Tobie Cronjé lewer ’n monumentale vertolking van die weggooimens met die slenterdrome. Hy is soms snaaks, maar ook tragies en oorbluf. Een van die hoogtepunte is wanneer sy baas se gesnater vir hom na ’n brommer klink. Onkundigheid en strooipraat word ’n vlieg wat teen dik lippe afkruip, en die regisseur kyk met ’n grynslag na ’n patetiese burokraat se doodloopstraatbestaan. Lafras, die dromer, se dilemma is dat hy vir altyd vasgevang word tussen hierdie nie­dromers wat om hul eie miskoek-lewens saamdrom.

Dit word op ’n tragiese dog ­humoristiese manier gewys.

Lafras is ’n Boere-Don Quichot wat teen die windmeulens van kortsigtigheid veg en droom dat hy sy mense gaan bevry.

Simon Barnard slaag daarin om hierdie tuba-sleurbestaan suksesvol te verbeeld. ’n Mens sou dalk meer van die fluit wou sien wanneer sy verbeelding hom help om kortstondig bo sy beperkings uit te styg. Die kamera kon in sy loskom-van-die-aarde-tonele dalk vryer beweeg het, soos in die toneel waar dit saam met hom gly wanneer hy op sy fiets ry. Nog sulke tonele sou die rolprent selfs sterker gemaak het.

Die spel ondersteun die subteks skitterend. Cobus Visser verbeeld elke staatsdiensbaas waarmee mense al te doen gehad het in ’n onderspeelde vertolking sonder stereotipering.

Chantell Phillipus is ewe goed as die swanger bruin vrou vir wie Lafras inneem. Sy is ’n emosionele kruk wat sy mal drome onwetend steun. Wanneer sy dan later geboorte gee, gee Lafras se frustrasies ook geboorte aan ’n patetiese opstand.

En dit is in hierdie innerlike en uiterlike rebellie waar Lafras sy laaste tragiese rusplek kry.

Sterk beelde bly jou by. Die ontmensde stad as agtergrond vir Lafras se lappieskomberslewe is immer teenwoordig. So is hy ook gedurig op reis, maar bereik geen betekenisvolle bestemming nie. Dink aan sy moeisame reis wanneer hy sy fiets en die swanger vrou in ’n mankoliekige hysbak probeer druk. Hier sien jy letterlik wat binne in hom aangaan.

Dit word verder onderstreep deur die puik kunsregie en stelinkleding waarin sy volgepakte woonstel sy oorblufte gedagtes in sterk beelde weerspieël – rolprente se kragtigste gereedskap.

Soms wil die dialoog te veel raak soos wanneer Lafras met ­Petra praat en inligting van haar kry en uitruil, maar wanneer hy ontplof, maak woord plek vir ­sterk beelde.

Hierdie is ’n knap debuut deur Simon Barnard wat sy pa, Chris Barnard, se verhaal prikkelend aangepas het vir ’n moderne tyd.

Nuwe flieks

Boss Baby **

Hierdie komedie raak die spoor soms byster. ? Boeliebaba (met Alec Baldwin se stem) wat gestuur word om te keer dat die Puppy-groep die Baba-korporasie – wat babas aan ouers verskaf – kaap, veroorsaak ? skeuring in die gesin. Sy sewejarige boetie probeer keer dat die boeliebaba oorneem. Die situasies en komedie sal meer byval by volwassenes as kinders vind, en ? mens is onseker oor op wie dit gemik is. Komedie met breinselle verander later in ? klugtige gejaag wat die fliek irriterend vervlak. 


The Last Face *

Hierdie is moontlik die pynlikste drama van die jaar. Dit is luidkeels in Cannes geboe. Charlize Theron lyk verward as die bestuurder van ? maatskappy wat hulp verleen aan vlugtelinge in oorloggeteisterde gebiede soos Libanon en Suid-Soedan. Sy raak dan verlief op ? dokter (Javier Bardem). Die oordramatiese styl, lawwe romanse en draaiboek sonder fokus maak hiervan 
’n langdradige marteling. Dit raak vervelig en onsamehangend. Dié storie oorweldig sy regisseur. 

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.