Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Flieks
Silwerskerm: ’n Dronk vlooi op ’n nat krabbel

Pirates of the Caribbean: ­Salazar’s Revenge met Johnny Depp en Geoffrey Rush. Regisseurs: Joachim Rønning en Espen Sandberg ****

Hierdie rolprent is gepeper met visuele uitroeptekens. Dit is die ekwivalent van ’n pretparkrit, waar die een spesiale effek meer uitspattig as die vorige probeer wees. Dit is ’n vermaaklike opeenstapeling van uitbundigheid en belaglikheid wat die gehoor sal bedwelm en meevoer. In die proses raak die rolprent ook sy eie grootste vyand, want dit raak so enorm dat ’n mens katswink uit die teater strompel.

Tussen die spookskip wat soos ’n geraamte uit die see spring en ander skepe verorber, en grieselgeeste wat die lewendes terroriseer, is daar darem ’n storie ook. Was dit nie daarvoor nie, sou ’n mens so deurmekaar soos ’n dronk vlooi op ’n nat krabbel geraak het.

Dié slag het ons weer te make met die geaffekteerde, nonchalante kapt. Jack Sparrow (Johnny Depp) sonder ’n skip, en ’n bemanning wat na nuwe avontuur soek en aan hul lewens vasklou soos drenkelinge wat water gesluk het. Sparrow se oorspronklike skip is in ’n bottel gevang, en dit is al waarmee hy op reis kan gaan: ’n speelgoedskippie wat agter glas vasgevang is.

Soos ’n korrupte politikus is Sparrow so besig om voor sy vyande te vlug en uit die moeilikheid te bly, dat daar skaars tyd vir sinvolle gesprekke of logiese gebeure is. Elke stuk dialoog is ’n kwinkslag, elke sin word gelewer asof Sparrow se tong lui geword het omdat hy twee sopies te veel in het, terwyl dit lyk of sy oë teen die maskara baklei om raakgesien te word.

Die sjarmante Brenton ­Thwaites slaag darem daarin om as karakter teen hierdie oormaat te registreer as die seun van die Orlando Bloom- en Keira Knightley-karakters wat na ’n towerkompas soek om sy ouers te bevry. Hierdie ongelukkige siele kom te staan teen ’n spookbemanning op ’n psigedeliese Vlieënde Hollander wat deur Javier Bardem as kapt. Salazar beman word. Hierdie grieselbende soek ook na die towerkompas wat ­hulle van die lewende dood kan bevry.

Dan duik die beeldskone Carina skielik op, rondborstig gespeel deur Kaya Scodelario, wat die sterre as kompas gebruik om die skip in die regte rigting te stuur. Die rolprent verander hierna in een magtige aaneenskakeling van grappe, aksietonele, spesiale effekte en gevegte waarvan die een meer oorweldigend as die ander probeer wees. Dit verdwerg die kyker met sy visuele oormaat. Kortom, dit is ’n prettige deurmekaarspul waaraan jy jouself oorgee om saam te vaar – of dit sal jou so irriteer dat jy bedwelm uit die teater sal vlug.

’n Mens kan dit amper nie ’n rolprent noem nie. Dit raak groter as enigiets wat jy al tevore gesien het, en is dikwels so vermoeiend dat koeldrank en springmielies nie eens sal troos nie. Jy is te besig om te spartel in die visuele oordadigheid.

Iemand (Hitchcock?) het rolprente eendag volwasse mans se grootste speelgoedpretpark genoem – ’n sandbak waar grootmense beheer het oor hul speelgoed en na hartelus kan baljaar met onbeperkte begrotings. En dit is wat hierdie Jerry Bruck­heimer-produksie is: ’n ontploffing van klank, kleur, aksie en rekenaareffekte. Selfs die musiek raak so oorheersend dat dit die aandag dikwels kaap. Dit dra by tot ’n oordramatiese bombastiese fliek wat die teater se fondamente skud. Daarom moet dit in IMAX en 3D op die grootste moontlike skerm gesien word om reg daaraan te laat geskied.

Of dit ’n goeie rolprent is?

Nogal, want ’n storie word darem vertel wat die kyker sal meesleur, en met elke rekenaargedrewe oomblik nóg versiersuiker op ’n reuse-rolprentkoek sal sit. Dit is ook groter as sy vele voorgangers, dus sal min fliekgangers daar uitstap en teleurgesteld sug dat die vorige hoofstukke beter is. Hierdie ekstravaganza is ’n kombinasie van al sy voorgangers, en probeer op elke moontlike gebied, veral grimering en maltrap kinematografie, verbeter.

Gaan kyk dus as jy verveeld is met ’n saai, alledaagse bestaan, of as jy van al jou probleme wil ­ontsnap.

Kapt. Salazar en sy spookskip sal jou bedwelm en rondpluk tot jy nie jou kop van jou elmboog sal kan onderskei nie.

Waansinnig, baldadig en vergesog, maar altyd vermaaklik.

Nuwe flieks

Unforgettable *

Hierdie hoogs vergeetlike rolprent moes reguit DVD toe gegaan het. Dit is eintlik “Unfatal” Attraction, want dit boots daardie rolprent skaamteloos na. 'n Vrou (Rosario Dawson) begin 'n verhouding met 'n man met 'n dogtertjie, maar sy voormalige vrou ('n patetiese stereotipe 
Katherine Heigl) terroriseer haar. Dan word 'n moord gepleeg. Die voorspelbare storie het gate groter as die Blyderivier-canyon, terwyl die spel suf en oppervlakkig is. Die storie raak so vergesog dat ’n mens uitbars van die lag. Vermy dit soos ? somerverkoue.

Song to Song *

Wat het van die eertydse geniale meesterstukke van die briljante Terrence Malick geword? Dis moeilik om kop of stert van hierdie romanse uit te maak, wat gaan oor twee paartjies se flirtasie met mekaar. Dit grens aan pretensie en neem meer as twee uur om min te sê. As jy hierdie rolprent met ? kunsfliek verwar, gaan jy bedroë daarvan afkom. Geweldig teleurstellend.

Meer oor:  Leon Van ­Nierop  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.