29 Maart 23:03
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Kuns
Internet & Afrika-kuns
Dr. Julie Taylor is aan die stuur van ’n nuwe webtuiste wat op kontemporêre kuns van Suider-Afrika fokus. Rudolf Stehle praat met haar oor die opgang van Afrika-kuns en die potensiaal wat die internet vir plaaslike kunstenaars inhou.
Dr. Julie Taylor van die aanlyn handelsplatvorm. Foto: Cornél Van Heerden

In 2008 toe Zimbabwe polities en ekonomies ’n laagtepunt bereik het, het Julie Taylor haar familie in Harare besoek. Kostekorte en honger­snood was aan die orde van die dag, vertel dié gebore Zimbabwiër wat nou in Johannesburg woon.

Sy het by die enigste gevestigde kontemporêre kunsgalery in die stad gaan inloer en by die kurator van die galery gehoor daar kom elke dag kunstenaars aan wat drie tot vier dae geen kos oor hul lippe gehad het nie.

“Dit was skrikwekkend. Ek vra hom toe, ‘wat van die internet, doen julle iets met die internet’? Hy was ouskool, hy was al van die 1960’s af by die galery betrokke, en hy wou niks hoor nie. Maar ek sê toe vir hom, ‘kyk, jy is in ’n desperate situasie, jy moet jou oopstel vir nuwe dinge’.”

Sy het sy toestemming gekry om foto’s van kunswerke daar te neem met die doel om die werk aanlyn te adverteer.

Sy het die foto’s daardie aand op ’n blog geplaas en met haar kontakte van oor die wêreld gedeel. Voor die einde van die aand is drie werke verkoop.

“Dis toe dat ek besef hier is ’n geleentheid wat ontgin behoort te word,” vertel Taylor, wat haar doktorsgraad in antropologie aan die Universiteit van Oxford verwerf het met die proefskrif “Naming the Land: Identity, Authority and Environment in Namibia’s West Caprivi”.

Haar loopbaan by Google as kommunikasiebestuurder vir Suid-Afrika en later vir Afrika suid van die Sahara het haar egter die volgende ses jaar besig gehou, maar verlede jaar het sy haar kans waargeneem en Guns & Rain, ’n aanlyn platvorm vir kontemporêre kuns uit Suider-Afrika, begin.

Afrika-kuns se opgang

Taylor sê kontemporêre Afrika-kuns trek toenemend die wêreld se aandag.

“Vir ’n lang tyd is kontemporêre Afrika-kuns afgeskeep. In die laaste paar jaar het dit ontplof met nuwe kunsmarkte oor die wêreld heen.”

Sy skryf dit toe aan die feit dat daar in die afgelope twee tot drie jaar ’n baie meer positiewe uitbeelding van Afrika in die internasionale media was en sy meen dit raak ook die kunswêreld.

“Die feit dat sewe van die wêreld se snels groeiende ekonomieë in die volgende vyf jaar na verwagting op ons vasteland sal wees, het mense se aandag getrek.”

Mense begin besef dat ook moderne beeldende kuns uit Afrika kom en nie net “stamkuns” nie. “Die kontemporêre kuns wat hier geskep word, vergelyk goed met die van die res van die wêreld.”

Die internet is die toekoms

Die internet verander so te sê elke bedryf ingrypend. En die kunsbedryf is geen uitsondering nie.

Die uitdaging is om die sintuiglike en emosionele ervaring van kuns na ’n aanlyn platvorm te transponeer.

“Die meer tradisionele lede van die kunste-establishment sal sê dis nie moontlik nie. Daar is egter heelwat bewyse dat jong mense geensins hierdeur afgesit word nie.”

Sy verwys na die Hiscox Online Art Trade Report 2014 wat bevind het byna 25% van aanlyn kunskopers tussen 20 en 30 jaar oud het hul eerste kunswerk aanlyn gekoop sonder om die werk in lewende lywe te sien.

“Daar is geen twyfel dat tegnologie die toegang tot beeldende kuns bevorder nie. Ek dink dit demokratiseer dit. Dit neem kuns uit die verfynde galery- en museumruimtes.

“Sommige mense in die kunsestablishment kan ’n probleem daarmee hê, maar ek dink dit is belangrik om só gehore vir kuns te bou.” Veral in Suider-Afrika omdat gehore vir die beeldende kunste klein is, voeg sy by.

“Realisties gesproke moet ons in Suid-Afrika dink wie ons gehore oor tien tot 15 jaar van nou af gaan wees. Dis alles goed en wel om kunstenaars te hê, maar wat gaan gebeur as daar geen kopers is nie? Kunstenaars moet oorleef.”

Sy weet sommige lede van die kunsestablishment en akademici wat teen die mark en die kommersialisering van kuns gekant is, sal sê kuns sal geskep word, ondanks die mark, of dat kuns geskep behoort te word sonder druk van die mark. “Ek het begrip daarvoor. Maar per slot van sake is markte baie belangrik.

“Ons moet volhoubare modelle vir lang termyn skep en dit moet uiteraard ’n kommersiële komponent hê.”

Beter toegang tot die web

Internettoegang in Afrika, insluitend Suid-Afrika, is nog taamlik beperk, maar dit verander.

“Ons moet gereed wees om die verbeterde toegang te benut soos wat dit beskikbaar word.”

Die probleem is volgens Taylor dat die kunsbedryf nie tegnologies kundig genoeg is om die verbeterde toegang te ontgin sodra dit ’n werklikheid word nie. Sy sê galerye en museums doen bitter min aanlyn.

Daarom wil sy rolspelers in die kunste bewus maak van die geleenthede wat die internet bied. “Ek bied ’n bietjie gratis konsultasiewerk en raad vir mense en ek bied ook gratis mentorskappe aan vir jong kunstenaars wat wil leer hoe om die web beter te gebruik of oor sosiale media wil leer.”

Sy sê vir haar gaan dit nie net daaroor om plaaslike gehore te ontwikkel nie, maar om Afrika-kuns op ’n globale verhoog te kry.

Guns and Rain

Guns and Rain bevat werk van oorwegend jong, opkomende kunstenaars uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Namibië en Botswana.

Onder die Suid-Afrikaners wie se werk te koop is, tel ­Asanda Kupa, Richard Penn, Robyn Penn, Bevan de Wet en Bambo Sibiya.

Dit is kunstenaars wat belofte toon, maar nog nie die blootstelling gehad het wat hulle verdien nie, sê sy.

Hoe gaan sy te werk om kuns vir haar webtuiste te vind?

“Ek bestee baie van my tyd om te kyk wat in die kunswêreld in ons streek gebeur. Ek het baie kunskollektiewe en ateljees hier en in die buurlande leer ken waar kunstenaars werk.

“Ek kyk wat daar aangaan, woon uitstalling by, gesels met kunstenaars.”

Sy stel belang in werk wat met politieke en sosiale kwessies in Afrika stoei. “Jy sal nie landskapskuns of natuurlewe-werk op die werf aantref nie.”

Tog wil sy haar kunswaardering so ontwikkel dat sy nie altyd haar eie voorkeure daarop afdwing nie.

“Daarom is ek vanjaar terug op universiteit om deeltyds vir ’n meestersgraad in kunsgeskiedenis te studeer.”

Prysbepaling

Wat die prysvasstelling van die werk op Guns & Rain betref, hang dit af van die kunstenaar en die beskikbare mark vir die werk.

“In die algemeen sal kunstenaars ’n idee hê van die waarde van die werk of waarvoor dit verkoop behoort te word. Dit is iets wat hulle sou bespreek het met hul onderwysers, hul mentors, hul versamelaars, hul galerye, hul kollegas.”

Taylor en die kunstenaar onderhandel dan saam oor die prys en ook oor die uiteindelike verkoopprys waarin kommissie van 20-25% verreken word.

Op die oomblik fokus Taylor net op kuns op papier en op doek omdat dit relatief maklik en goedkoop is om te verskeep.

Tot dusver is buitelandse kopers verantwoordelik vir sowat 80% van Taylor se aanlyn verkope, terwyl plaaslike kopers vir sowat 20% van haar aanlyn-verkope sorg. Die buitelandse kopers kom hoofsaaklik uit Engelssprekende lande soos die VSA, Kanada, Brittanje en Australië.

Reaksie van die establishment

Taylor sê sy was aanvanklik nogal senuweeagtig oor hoe gevestigde galerye op Guns & Rain sal reageer, maar is aangenaam verras.

“Ek het nog geen negatiewe interaksie met mense in die kunsbedryf hier gehad nie. Mense blyk oopkop te wees. Hulle verstaan dat daar ’n geleentheid is met tegnologie en die web, maar hulle weet nie heeltemal hoe om dit aan te gryp nie en hulle is bly om met iemand daaroor te kan praat.

“En ek dink in die algemeen ondersteun hulle wat ek doen. Ek dink ons kan saam die bedryf vorentoe neem.”

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.