Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Kuns
Taylor praat oor sy beelde
Gatekeeper of the Known I van Angus Taylor is deel van die uitstalling From Explicit to Implicit, in die Everard Read-galery in Johannesburg.
Taylor se ‘Gatekeeper of the Known II’.
’n Reuse-beeldhouwerk deur Angus Taylor, ‘Reflective Resonance’. Dié beeld is drie keer groter as lewensgrootte.
Een van die werke in Taylor se Being Resolved- reeks is ’n beeld van Diane Victor.

Die beeldhouer Angus Taylor doen môre om 10:00 ’n gratis rondleiding deur sy uitstalling From Explicit to Implicit. Dié bronskunswerke, wat in vier vertrekke van die Everard Read-galery in Rosebank, Johannesburg, staan, is ’n samevoeging van metafore wat uit mensekennis gebore is. Daar is ook werke wat, volgens Taylor, op die onbekende gegrond is.

Wat vir hóm bekend is, figureer ook sterk in sy werk.

“Ek het besef dis beter om jou konsep retrospektief te formuleer,” sê Taylor. Dít is maklik om te doen wanneer jy eerstehandse ervaring het. “Om ’n boek te lees, of (te lees oor) ’n filosofie of teorie, en dan te dink jy verstaan dit, is nie eg nie.

“Dis nog nie joune nie.”

Taylor se uitstalling het nie ’n spesifieke tema nie. Wanneer jy by die galery instap, bevind jy jouself in ’n vertrek wat deur twee “hekwagters” bewaak word. Links van hulle is ’n reuse-figuur, klipswaar en onbeweeglik. Dis asof hy dié vertrek vir homself uitgekies het – ’n plek waar hy in doodse stilte oor dinge kan nadink.

In ’n ander vertrek is daar fyn gemodelleerde beelde van onder andere Antjie Krog, Diane Victor, Elizabeth Moka en Ans Taylor. Almal wat hiér sit, het Taylor, of persoonlik of deur hul werk, beïnvloed. Op ’n ander plek sien ons ’n model van Taylor se grootwordhuis.

Volgens Taylor is daar ’n deel van die brein wat met die bekende werk, en ’n deel wat met die onbekende te doen het.

“Ons kategoriseer dinge, ons benoem dit en trek ’n buitelyn om dit,” sê Taylor. Hy meen die mens se verstand word deur te veel inligting oorlaai. “Daar is nie fout met dié manier van kyk nie, maar die deel van die brein wat met die onbekende werk, kry amper nie meer aandag nie.”

Taylor wou weet hoe die bekende in sy kuns gaan figureer.

“Die Gatekeepers in die eerste vertrek is die eksplisiete, want jy kan hulle uitbou met dít wat jy reeds weet,” sê hy.

“Klein duiweltjies, soos die tokkelossie of gargoyles, is deel van elke kultuur se kollektiewe bewussyn. Hulle is veronderstel om jou te ontsenu. Dis ’n antieke gebruik. Die gargoyles moes jou waaksaam hou.”

In albei dié werke is daar verwysings na onder meer mitologie en die New Age-beweging.

“Ek wou die uitstalling beweeg van die eksplisiete na die implisiete, waar ek nie die werk verstaan nie,” sê Taylor. “Ek ken self nie die oorsprong nie.

“Mense kan dit analiseer, maar hulle hoef ook nie. Dis in die onbekende geskep en kan dus ook in die onbekende bly.”

. Die uitstalling duur tot 15 November. Gaan na atsolo.co.za vir meer inligting. Neem gerus oorfone saam vir ’n digitale rondleiding.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.