Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Kuns
Kunstenaar wys op twee kante van grootword
I tot I deur Johann van der Schijff.

Johann van der Schijff konfronteer ook homself in sy kunsuitstalling In a Different Time waaraan hy agt jaar lank gewerk het. Dit is tot 26 Februarie in die Fried Contemporary-galery in Pretoria te sien.

Die uitstalling bestaan uit beelde van metaal en brons.

Dit handel onder meer oor die twee kante van grootword in Suid-Afrika.

“Die dubbelsinnighede in die kunswerke is opsetlik. Ek put uit my alledaagse lewe ook. Die uitstalling is half outobiografies. Byvoorbeeld, elke oggend as ek die honde voer met die stainless steelbakke sien ek myself in die bak. En jy weet dan, oukei, dis die begin van nog ’n dag. Dis ’n daaglikse ritueel, die hele idee van ’n daaglikse patroon volg. Tussen die daaglikse patroon deur, gebeur daar egter soveel ander groot dinge in die wêreld. Baie verreikende goed waarop ’n mens eintlik bitter min invloed het, gebeur.

Van der Schijff, wat nou vir die eerste keer sedert 1990 (toe hy nog aan die Universiteit van Pretoria ’n student was) in Pretoria uitstal, probeer in sy daaglikse lewe ook reflekteer oor hoe die groter gebeure in die land of wêreld ’n mens raak, ook hoe ’n mens op nuus reageer.

Die titel is geneem uit die gelyknamige boek deur Peter Harris oor die Delmas Vier.

“Dit het ’n baie groot indruk op my gemaak toe ek dit lees. Dit titel het net tot my gespreek. Dis deel van my geskiedenis. Ek het in Pretoria grootgeword. Dit was ’n baie donker tyd in ons geskiedenis. Dit was die noodtoestand, maar ek het baie beskermend grootgeword. My politieke bewussyn het nie bestaan nie. Dit het eers begin ontwikkel toe ek die dag universiteit toe is.”

Die werk I tot I bou ook voort op die konfrontasie wat die kunstenaar met homself het.

Feed the Dogs deur Johann van der Schijff.

Dit bestaan uit twee stoele wat na mekaar kyk.

“Die een is die babastoeltjie wat my pa destyds gemaak het en waarin ek en my hele familie gevoer is. Die ander een is so ’n dekstoel waarop ek tydens ’n vakansie gesit het. Die baba kyk na die volwassene en konfronteer eintlik wie ek nou is.”

Sommige van die werke op die uitstalling is van Desember 2015 tot Januarie 2016 in die AOP-galery in Johannesburg uitgestal met die titel I to I.

’n Groot deel van sy werk is interaktief.

Johann van der Schijff
Motion Sensor deur Johann van der Schijff.
Security Camera deur Johann van der Schijff.

Van der Schijff, ook medeprofessor aan die Universiteit van Kaapstad se Michaelis School of Art is, het ’n paar jaar gelede ’n openbare kunswerk geskep wat hy die AWP noem – Arm Wrestling Podium.

“Dis ’n interaktiewe werk. Die gedagte is dat die toeskouers deel word van die werk. Jy kan daarheen gaan en gaan arm druk as jy ’n probleem met iemand het. Ek lok die toeskouer om deel te word. Of dit nou fisiek of konseptueel is.”

Oor die agt jaar lange tydperk sê hy dat ’n mens met ’n idee begin en jy weet nie waar dit sal eindig nie.

“Dis seker soos iemand wat ’n boek skryf. Jy begin maar net. En soos wat jy aangaan, begin die storie sin maak vir jou. Daar is drie werke waarmee ek lankal begin het. Hulle was aanvanklik drie afsonderlike werke, wat voortgespruit het uit die armdrukstorie. Toe wonder ek hoe kan ek dit verder neem.”

Die klem van die I to I-uitstalling het so bietjie verskuif met dié van In a Different Time.

“Hierdie een het ’n bietjie meer van ’n paranoïese gevoel. Daar is beelde van sekuriteitskameras, paniekknoppies, motion sensors. Wanneer jy by die uitstalling aankom, moet jy voel jy word dopgehou.”

Fried Contemporary se adres is Justice Mahomedstraat 1146, Brooklyn, Pretoria.

Galery-ure: Dinsdae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 10:00 tot 14:00.

Skakel 012 346 0158 of stuur e-pos na info@friedcontemporary.com vir meer inligting.

Meer oor:  Kunswerke  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.