Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jong musici presteer in landwye kompetisie
Gabi le Roux van Samro (regs agter) is hier van links saam met Leo Huang van Pretoria, Leo Gevisser van Rondebosch en Qden Blaauw van De Tijger. Foto: Suzette Vorster-Van Acker

Twee jong Kaapse pianiste is Vrydagaand as die gesamentlike wenners van die Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie aangewys.

Die 12-jarige Qden Blaauw en 13-jarige Leo Gevisser deel die algehele eerste prys, wat ’n goue medalje, R15 000 se prysgeld en ’n uitnodiging om as solis op te tree by die Hugo Lambrechts Concerto-fees in 2017 insluit.

Die kompetisie was van verlede Maandag tot Vrydag in die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow. Jong instrumentaliste van oor die land neem het deelgeneem.

Die eindronde is Vrydagaand beslis, waarna agt finaliste voor ’n gehoor in die ouditorium opgetree het.

Die kompetisie word reeds sedert 1989 gehou, maar was tot 2010 as die Sanlam Nasionale Musiekkompetisie bekend.

Dit word deur die Tygerberg-tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers (Savmo) aangebied.

Die kompetisie is na prof. Hubert van der Spuy, voorheen direkteur van Unisa se musiekdepartement, vir sy “visioenêre rol in die musieklewe van Suid-Afrika” genoem. Hy is deesdae ’n beoordelaar in vele musiekkompetisie asook ’n eksterne eksaminator by verskeie universiteite.

Qden (van De Tijger) en Leo (van Rondebosch) deel ook die Leon Hartshorne-prys vir die kandidate wat die beste gevaar het onder leerlinge van Savmo-lede landwyd.

Die twee is ook saam as die wenners van die kategorieprys vir klavier aangewys.

Hierbenewens het Qden, ’n student van Shane Goodall, ook die prys vir die beste uitvoering van ’n barokwerk in die eerste ronde, die prys vir die beste kandidaat wie se onderwyser lid is van die Tygerberg-tak van die Savmo, asook die tweede prys vir die uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse komposisie (“Virtuoso I” van Jeanne Zaidel-Rudolph) gewen.

Gevisser, wat van Nina Schumann en Luis Magalhães klavieronderrig ontvang, is ook bekroon vir die beste uitvoering van ’n klassieke werk in die tweede ronde, die beste uitvoering van ’n romantiese werk in die derde ronde, asook die eerste prys vir die uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse komposisie (“Impundulu” van Peter Klatzow).

Leo Huang, ’n 13-jarige pianis van Pretoria, het die algehele derde prys van R5 000 ontvang.

Hy het ook die derde prys vir die uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse komposisie (Alexander Johnson se “Jazz Impromptu I”) gekry, asook eervolle vermelding omdat hy reeds vyf keer vir hierdie kompetisie gekwalifiseer het.

Die ander finaliste was Gilah Kellner (13, viool) van Gauteng, Pendo Masote (12, viool) van Gauteng, Ah-Young Moon (13, klavier) van Stellenbosch, Theboho Matsatse (10, klavier) van Pretoria, en Keon Müller (12, klarinet) van Blouberg.

.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.