Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Tv
Keur van dokkies kom
Die dokumentêr Alison oor Alison Botha draai die eerste keer op die Encountersfees.

Encounters, die dokumentêre fees wat in Junie in Kaapstad en Johannesburg plaasvind, sal ’n keur van die beste plaaslike en inter-nasionale dokkies aanbied.

Verlede jaar het hierdie dokumentêre fees nagenoeg 7 000 mense oor 10 dae getrek, en te oordeel na die klein voorsmakie wat die media vandeesweek gehad het, behoort vanjaar geen uitsondering te wees nie.

* Die sogenaamde Che Guevara van die Kaapse Vlakte is die fokus van Nadine Cloete se dokkie Action Kommandant: The Untold Story of a Guerilla. Dit belig die lewe van die vermoorde anti-apartheidstudente-aktivis Ashley Kriel, wat op 13 sy eerste protesoptog gereël het en in die 80’s ’n simbool van jeugopstand geword het. Sy verhaal ontvou soos die mense naaste aan hom oor hom praat. Dit sluit ook argiefmateriaal van sy begrafnis in wat nog nooit tevore vertoon is nie. Daar word ook besin oor sy lewe in ballingskap en sy rol destyds in Umkhonto weSizwe, militêre vleuel van die ANC.

Ashley Kriel (links) is die fokus van die prent Action Kommandant: The Untold Story of a Guerilla.

Luidens Cloete wat in 2008 aan die Universiteit van Kaapstad in filmpraktyk gegradueer het, was sy toegewyd om die prent te voltooi. “Hoewel ek hom nooit ontmoet het nie, het ek ’n groter berip vir hom ontwikkel deur met sy familie en kamerade te gesels. Ek hoop dit word in die dokumentêr oorgedra. Ek wil hom aan mense bekend stel en wys hoe hy sy jong lewe vir vryheid geoffer het.”

* Die regisseur Uga Carlini se dokumentêr, Alison, fokus op Alison Botha wat in 1994 verkrag, wreedaardig aangerand en byna onthoof is. Dit is ’n triomfante­like, diep persoonlike blik op ’n vrou wat verseg het om ’n slagoffer te word en wie se oorlewingsdrang tot haar bevryding gelei het. Dit word ook van 6 Augustus nasionaal in bioskope vertoon.

* Ongeveer 25 000 van Suid-Afrika se 30 000 skole ervaar nypende tekorte en is nie naastenby voldoende toegerus nie. Meer as die helfte van die skoolverlaters bly werkloos sonder enige naskoolse opleiding. In Walking in My Shoes word met leerders, ouers, onderwysers en skoolhoofde gepraat en geen doekies word omgedraai oor die benarde stand van Suid-Afrika se onderwys nie. Die prent begin met Siphilele Thusini wat elke dag drie uur lank skool toe stap en later weer net so lank huis toe om vir homself ’n beter toekoms te verseker. Die prent fokus ook op mense wat hulle beywer vir oplossings en ’n verskil aan leerders se lewe probeer maak. Die regisseurs is Andy Spitz en Lauren Groenewald.

* Requiem for an American Dream. In hierdie prent is waarskynlik die allerlaaste onderhoud met die 87-jarige Noam Chomsky, ’n gevierde Amerikaanse geskiedkundige, analitiese filosoof, linguis en politieke aktivis. Hier gee hy ’n omvattende verslag van ongelykheid en bespreek hy die redes hoekom mag en rykdom deur die minderheid beheer word. Die regisseur is Peter Hutchison, bekend om die dokkie What Would Jesus Buy?

* Die lewe en bydrae van die Amerikaanse digter, skrywer en denker Maya Angelou is in die kollig in die dokkie Maya Angelou: And Still I Rise van die regisseurs Bob Hercules en Rita Coburn Whack. Dit is die eerste prent oor Angelou, wat in 2014 op 86-jarige ouderdom gesterf het. Dit toon hoe sy die rassisme van die Amerikaanse suide en seksuele mishandeling oorkom het. Argiefmateriaal en Angelou se eie kragtige woorde word gebruik om ’n intieme portret van die enigmatiese vrou te skep.

* Die dokkie, Shadow World, is gebaseer op die gelyknamige boek deur Andrew Feinstein, voormalige ANC-parlementslid, waarin hy die internasionale wapenbedryf ontmasker het. Die Indiese skrywer Arundhati Roy het sy boek destyds (2013) ’n gesaghebbende handleiding oor die “besigheid van oorlog” beskryf. Die regisseur is Johan Grimonprez.

Die res van die program word later bekend gemaak. Die nuwe direkteur van die fees is Darryl Els.

Die prente draai van 2 tot 12 Junie in die Labia-teater in Kaapstad en in die Bioscope in Johannesburg.

Meer oor:  Freedom Charter  |  Boeke  |  Leesstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.