Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Skrywer gee raad
JACO JACOBS Foto: Ruan Bruwer

DIE bekroonde en geliefde Bloemfonteinse jeugskrywer Jaco Jacobs het dit nie altyd maklik in sy skryfloopbaan gehad nie.

Veral nie aan die begin toe hy ’n paar teleurstellings moes oorkom en gereeld afkeurbriewe gekry het nie.

Jacobs het laat op laerskool besef hy het ’n liefde vir skryf. Op hoërskool in die Noord-Kaap het hy aan skryfkompetisies begin deelneem en toenemend beter terugvoering ontvang soos hy hom ingeskryf het.

“In my gr. 10-jaar het ek skryf as ’n loopbaan begin oorweeg en getoets of ek werklik ’n bestaan daaruit kan maak.

“Ek het begin om kortverhale vir tydskrifte in te stuur wat destyds gereeld kortverhale gepubliseer het,” het Jacobs gesê.

Met groot afwagting het hy sy eerste kortverhaal, Die paddastoelplakkerskamp aan Huisgenoot gestuur wat hy op ’n stokou tikmasjien wat sy pa op ’n veiling vir hom gekoop het, getik het. Jacobs het egter sy eerste, van vele, afkeurbriewe ontvang. Dit het hom egter nie ondergekry nie en met jeugdige voortvarendheid het hy die een kortverhaal ná die ander geskryf.

Daar was die keer dat die verhaleredakteur by Keur vir hom ’n briefie, geskryf in pers ink, aan sy kortverhaal geheg het wat gelui het: “Verhaal haal nie die paal.”

In sy matriekjaar het Jacobs opnuut inspirasie gevind toe hy die ATKV se skryfkompetisie gewen en aan die jaarlikse herfsskool by die Noordwes-universiteit kon deelneem.

Daar het die skrywer François Bloemhof die aspirantskrywers meegedeel tydskrifverhale kan ’n welkome bron van inkomste wees.

“Ek het dadelik ná daardie herfsskool met nuutgevonde moed begin skryf. François, wat verhaleredakteur by Sarie was, het telkens opbouende kritiek op my kortverhale teruggestuur met ’n lys redes waarom hy die verhaal afkeur, maar altyd ’n sin of twee aan die einde om my te bemoedig. Hy het van een van my kortverhale gehou, hoewel my eerste poging van 1 500 na 700 woorde verwerk moes word.”

Die verhaal getiteld Nagskof, oor ’n vrou wat op ’n vampier verlief raak, het aan die einde van sy matriekjaar in Sarie verskyn.

“François het my vriendelik verbied om ooit weer ’n tydskrifverhaal met ’n bonatuurlike tema te skryf! Maar dit was die eerste keer dat ek werklik besef het ek kan ’n bestaan uit letterkunde maak.”

Tydens sy studiejare het Jacobs ’n gereelde kortverhaalskrywer vir Sarie geword wat volgens hom die beste moontlike leerskool was. Hy moedig aspirant-skrywers aan om by tydskrifte te begin.

“Doen marknavorsing oor die waarvoor jy graag wil skryf. Gaan lees hulle. Daar is gewoonlik ’n patroon. Kontak die verhaleredakteur en vind uit wat die vereistes is.

“Wat jou storie betref, toets altyd of daar ’n sterk storielyn is – en kry hare op jou tande,” is sy raad.

Dié gewilde rubriekskrywer se wenke vir voornemende rubriekskrywers is om die mark dop te hou. “Tydskrifte en koerante bied soms aan lede van die publiek die geleentheid om rubriekbydraes voor te lê. Of begin jou eie blog wat jou dissipline leer en ook om op ’n sekere teikenmark te fokus,” het hy opgemerk

Kontak Bloemnuus Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.